loading
avatar
Artikels
12 uur gelede
solidariteit-wen-saak-na-17-jaar-diens-onbillike-ontslag-gestuit

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit wen saak ná 17 jaar diens: Onbillike ontslag gestuit

Deur Robin-Lee Maré

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het op 20 Februarie 2026 ten gunste van Solidariteit en sy lid, Christo Poerstamper, beslis nadat hy ná bykans 17 jaar diens onbillik ontslaan is.

Christo Poerstamper se diensverhouding het op 5 September 2007 begin, toe hy permanent by Kestrel Installations BK aangestel is. Sy oorspronklike dienskontrak het duidelik bepaal dat hy as ʼn permanente werknemer aangestel is, nie op ʼn vastetermynbasis nie. Die kontrak het wel voorsiening gemaak vir moontlike afleggings weens operasionele vereistes, met die gepaardgaande reg op skeidingsvergoeding vir elke voltooide diensjaar.

Tog is daar besluit om sy diens te beëindig op grond daarvan dat hy na bewering maar nog altyd slegs tydelik aangestel was. Solidariteit moes hom dus help om die teendeel te bewys.

Volgens Chantal van der Merwe, litigant by Solidariteit, is hierdie uitspraak van groot betekenis vir werknemers.

“Hierdie saak bevestig werkgewers kan nie eensydig ʼn werknemer se permanente status verander sonder ʼn duidelike en ondertekende ooreenkoms nie. Dit beklemtoon ook ʼn behoorlike afleggingsproses moet gevolg word, selfs waar kontrakte of projekte tot ʼn einde kom,” sê sy.

Poerstamper se diensverhouding het oor die jare verskeie strukturele veranderinge ondergaan. In 2010 is hy in kennis gestel sy werkgewer is oorgeneem deur Kestrel Network Solutions (Edms.) Bpk. ingevolge ʼn artikel 197-oordrag kragtens die Wet op Arbeidsverhoudinge. Hierdie oordrag het bevestig sy diensvoorwaardes sou onveranderd bly en sy diensjare sou behoue bly.

In 2012 is hy as veldtegnikus op die DEFNET-kontrak vir die departement van verdediging aangestel, waar Kestrel as subkontrakteur vir Reutech Solutions opgetree het. Hoewel die projek ʼn bepaalde tydsraamwerk gehad het, is dit later verleng. In 2018 is hy weer oorgeplaas na Kestrel Installations (Edms.) Bpk. ingevolge artikel 197, met die versekering dat sy vergoeding en diensvoorwaardes onveranderd sou bly.

Ten spyte van verwysings na die DEFNET-kontrak en verskeie korrespondensie vanaf die werkgewer, het Poerstamper volgehou dat hy steeds ʼn permanente werknemer was en sy diens nie outomaties sou eindig ná voltooiing van die projek nie. Hy het aangevoer hy het nooit ʼn vastetermynkontrak onderteken nie.

Die maatskappy, wat later as YLM Technologies (Edms.) Bpk. bekendgestaan het, het egter in Augustus 2024 kennis gegee dat die DEFNET-kontrak nie verleng is nie en werknemers se sogenaamde “beperkte duur”-kontrakte op 31 Oktober 2024 sou eindig. Poerstamper se diens is gevolglik op dié datum beëindig.

Hy het Solidariteit genader om die ontslag te betwis en aangevoer dit was onbillik, aangesien geen behoorlike afleggingsproses gevolg is nie en omdat hy nooit tot ʼn vastetermynkontrak ingestem het nie. Hy het verder aanspraak gemaak op skeidingsvergoeding vir sy diensjare, sowel as vergoeding vir die onbillike ontslag.

Die KVBA-kommissaris, Shahida Mohamed, het bevind dat die werkgewer nie daarin geslaag het om die bestaan van ʼn geldige vastetermynkontrak te bewys nie. Die ontslag is gevolglik as onbillik vir operasionele redes verklaar. Die kommissaris het ook beklemtoon dat Poerstamper se lang diensgeskiedenis en die opeenvolgende artikel 197-oordragte sy status as permanente werknemer versterk het.

Poerstamper is skeidingsvergoeding toegeken, wat reeds deur die werkgewer betaal is.

Van der Merwe voeg by die uitspraak onderstreep ook die belangrikheid van artikel 197-oordragte.

“Werknemers se diensjare en regte bly behoue wanneer ondernemings oorgedra word. Dit kan nie bloot geïgnoreer word wanneer dit vir werkgewers gerieflik is nie,” sê sy.

Sy meen die toekenning bring nie net verligting vir die betrokke lid nie, maar dien ook as ʼn belangrike riglyn vir werkgewers.

“Dit bevestig dat wetgewing en billikheid steeds seëvier en gee werknemers die vertroue dat hul regte beskerm sal word wanneer hulle dit die nodigste het,” sluit sy af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel