loading
avatar
Artikels
4 maande gelede
solidariteit-se-loopbaanvoorligting-vergemaklik-jou-keuse

Foto Krediet: OkayDeer

Solidariteit se loopbaanvoorligting vergemaklik jou keuse

René van der Vyver

Om die regte vakke en loopbaan te kies, is vir baie jongmense (en hul ouers) een van die eerste groot lewensbesluite wat geneem moet word. Dis nie altyd maklik om te weet wat jy eendag wil doen of noodwendig waarin jy goed is nie, en dis juis waar psigometriese toetse ’n groot verskil kan maak.

Ek het met Chanri Meuleman, opleidingskoördineerder by Solidariteit en geregistreerde psigometris by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) met haar eie praktyk, Insig Psigometrie,gaangesels. Sy is ook as ʼn loopbaanvoorligter gelys onder Solidariteit se netwerk van psigometriste, en sy vertel meer oor die waarde van psigometriese toetse, hoe die proses werk, en waarom ouers gerus kan wees as hul kind hierdie toetse deur Solidariteit laat doen.

Chanri het ’n passie om mense te verstaan, te ondersteun en te bemagtig – veral rondom belangrike keuses soos vakkeuses en loopbaanrigtings.

Wat is ’n psigometriese toets?

“’n Psigometriese toets bring jou aanlegte, vaardighede en karaktereienskappe na vore,” verduidelik Chanri. “Dis nie ’n gewone aanlyn toets nie – dit word slegs onder streng toesig deur gekwalifiseerde kundiges gedoen.”

Waarom is psigometriese toetse belangrik?

Volgens Chanri kan psigometriese toetse jou help om jou unieke plek in die wêreld van werk te vind. “Ek glo werklik dat werksvervulling in daardie “sweet spot” lê waar jou belangstellings, persoonlikheid en kognitiewe sterkpunte oorvleuel,” sê sy.

Hierdie toetse is nie bloot gebaseer op die mooi idee dat daar vir almal ’n plekkie in die son is nie – hulle berus op wetenskaplike beginsels.

Hoe werk psigometriese toetse?

“Ons volg altyd ’n holistiese benadering,” beklemtoon Chanri. “’n Mens kan nie net na die syfers of resultate kyk nie – jy moet die persoon agter die resultate verstaan.” Deur ’n kombinasie van persoonlike gesprekke en wetenskaplik-gefundeerde psigometriese assesserings, help voorligters jongmense om hulle unieke profiel te ontdek en selfvertroue te bou.

Die proses, wat op die Solidariteit te vinde is, verloop soos volg:

  1. 1. Begin met die Belangstellingsbepaler.
    Hierdie gratis aanlyn vraelys op Solidariteit se webwerf is deur bedryfsielkundiges ontwikkel. Dit help jongmense om hul belangstellings te identifiseer en moontlike loopbaankeuses te verken.
  2. 2. Lê psigometriese toetse af.
    ʼn Jongmens kan by enige van die kundiges op Solidariteit se netwerk ’n volledige pakket aankoop (teen afslag) en dan toetse aflê – wat ten minste een aanlegtoets, een persoonlikheidstoets en een konsultasie met die voorligter insluit.
  3. 3. Ontvang jou resultate en terugvoer.
    Die voorligter verwerk die resultate, skryf ’n omvattende verslag en bespreek dit tydens ’n terugvoergesprek met die leerder en ouer. Die doel is dat die skolier nie net weet wát die resultate sê nie, maar ook hoékom en hoé om dit prakties toe te pas.

Volgens Chanri is dit juis waar die waarde lê: “Wanneer ’n jongmens sien hoe hul persoonlikheid, aanleg en belangstellings oorvleuel, begin hulle hulself beter verstaan. En daarin lê die selfvertroue om besluite met oortuiging te neem.”

Waarom moet ek Solidariteit gebruik vir hierdie proses?

Solidariteit-lede en deelnemers aan Solidariteit se Skoliere-aanbod kry die geleentheid om hierdie volledige pakket teen ’n maksimum prys van R2 500 te doen – ’n beduidend laer prys as die markverwante koste.

Maar die waarde lê nie net in die prys nie…
Solidariteit se spesialis by die Skoliere-aanbod werf en keur kundiges van regoor die land, volg gereeld op om terugvoer te kry oor diensgehalte, en verseker dat slegs geregistreerde voorligters toegelaat word om met skoliere te werk. Dit gee ouers die gemoedsrus dat hul kind in bekwame, betroubare hande is.

Die belangrikste voordele sluit in:

  • Gekwalifiseerde kundiges: Net geregistreerde voorligters wat wetenskaplik geakkrediteerde toetse gebruik.
  • Eenstop-platform: Vind maklik ’n voorligter in jou omgewing of werk aanlyn.
  • Bekostigbaar: ’n Volledige pakket teen slegs R2 500.
  • In Afrikaans: ’n Betekenisvolle ervaring in jou kind se moedertaal.

As ouer kan ʼn mens nie kinders se pad vir hulle kies nie, maar ouers kan hulle toerus om dit met selfvertroue, geloof en rigting te loop.

Vir meer inligting oor Solidariteit se loopbaanvoorligting en om ’n betroubare voorligter in jou area te vind, besoek: https://aanlyn.solidariteit.co.za/skolier/loopbaanvoorligters/oorsig

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel