loading
avatar
Blogs
16 uur gelede
die-stil-pyn-wat-ons-kinders-dra-n-nuwe-gesprek-oor-boeliegedrag-in-skole

Foto Krediet: OkayDeer

Die stil pyn wat ons kinders dra: ʼn Nuwe gesprek oor boeliegedrag in skole

Deur Mari Ferreira | Digitale netwerkorganiseerder: Onderwys en Skolier

Daar is kinders wat elke oggend skool toe gaan met ʼn gewig wat geen skooltas kan dra nie. Dit is nie die vrees vir toetse of huiswerk wat hulle skouers laat sak nie, maar iets veel dieper: die wete dat hulle weer gekonfronteer gaan word met ʼn gespottery, uitsluiting of vernedering. Hierdie is ʼn daaglikse werklikheid in ons skole – dikwels buite die sig van ouers en onderwysers, en soms selfs buite die woorde van die kinders wat dit beleef.

Onlangse gebeure in Suid-Afrika het opnuut die kollig geplaas op die verwoestende impak van boeliegedrag. Dit dwing ons om nie net te kyk na wat in skole gebeur nie, maar ook om eerlik te vra: Verstaan ons werklik wat ons kinders beleef?

Solidariteit bied ʼn reeks webinare aan wat elke ouer behoort te kyk. Die #BoelieBewus-webinaar herinner ons daaraan dat baie kinders wat geboelie word, nie daaroor praat nie. Hulle verwerk hul pyn in stilte, en die tekens is dikwels subtiel: ʼn kind wat skielik nie meer skool toe wil gaan nie; wie se akademiese prestasie agteruitgaan; of wat emosioneel teruggetrokke raak. Hierdie gedragsveranderinge word maklik misgekyk of verkeerd geïnterpreteer, terwyl dit in werklikheid noodseine is. AfriForum se Teenboeliegidsis ook ʼn waardevolle hulpmiddel wat elke ouer en onderwyser kan raadpleeg wanneer die lelike boeliegogga sy kop uitsteek.

Maar hierdie gesprek vra ook van ons om ʼn moeilike moontlikheid te oorweeg: Wat as die gedrag nie net by ons kind gebeur nie, maar deur ons kind? Hierdie gids wys daarop dat kinders wat ander boelie, dikwels self sukkel om hul emosies te bestuur, of ʼn behoefte het aan beheer, aandag of erkenning. Dit beteken nie dat hulle “slegte kinders” is nie, maar eerder dat hulle leiding, grense en emosionele ontwikkeling nodig het. Om dit te erken, verg eerlikheid, maar dit is juis waar verandering begin.

ʼn Kernaspek wat herhaaldelik in die gids beklemtoon word, is die rol van empatie. Empatie is nie ʼn aangebore eienskap wat vanself ontwikkel nie; dit is ʼn vaardigheid wat doelbewus aangeleer en ingeoefen moet word. Wanneer kinders leer om hulself in ander se situasie te plaas, verander hul optrede. Hulle begin anders kyk, anders praat en anders reageer. Empatie vorm die grondslag van respek, en daarsonder raak skole kwesbare ruimtes waar mag en vrees die botoon voer.

Die oorsake van boeliegedrag is kompleks en spruit dikwels uit ʼn kombinasie van faktore: ʼn gebrek aan emosionele vaardighede; omgewingsinvloede; en selfs die feit dat negatiewe gedrag soms onbewustelik beloon word deur aandag of status onder maats. Hierdie realiteit beklemtoon dat boeliegedrag nie in isolasie aangespreek kan word nie. Dit vereis ʼn holistiese benadering waarin ouers, onderwysers en leerders almal ʼn rol speel.

Die vraag is dus nie net hoe ons boeliegedrag stop nie, maar hoe ons kinders toerus om dit te hanteer. Die Teenboeliegids stel verskeie praktiese vaardighede voor wat kinders kan help om teen boelies op te staan. Dit sluit onder meer in om nie geïsoleer te wees nie, om vroegtydig hulp te vra, en om selfgeldend, maar nie aggressief nie, te reageer. Hierdie vaardighede bied nie net beskerming nie, maar bou ook ʼn gevoel van agentskap en selfwaarde.

Tog lê die werklike oplossing nie slegs by individuele kinders nie. Die gids stel die konsep van gedeelde leierskap voor as ʼn moontlike antwoord op boeliegedrag in skole. Dit beteken dat die verantwoordelikheid om ʼn veilige en respekvolle skoolkultuur te skep, nie by een persoon of groep berus nie, maar deur almal gedra word. Wanneer leerders vir mekaar opstaan, wanneer onderwysers doelbewus ruimte skep vir gesprek, en wanneer ouers betrokke bly, begin daar ʼn kultuurverskuiwing plaasvind.

Hierdie blog is nie net ʼn oproep tot bewustheid nie; dit is ʼn uitnodiging tot aksie. As ouers moet ons verder kyk as die standaardvraag: “Hoe was jou dag?” – en werklik luister na wat agter die antwoord skuil. As onderwysers moet ons sensitief wees vir die verborge dinamika in klaskamers en speelgronde. En as gemeenskap moet ons erken dat elke kind – of hulle nou slagoffer, oortreder of buitestander is – ʼn rol in die groter prentjie speel.

Ons kinders is nie net leerders nie; hulle is die vormers van môre se samelewing. Wat hulle vandag oor respek, empatie en verantwoordelikheid leer, sal bepaal hoe hulle môre optree.

Miskien begin verandering nie met groot programme of beleide nie, maar met klein, doelbewuste gesprekke: met ʼn ouer wat werklik luister; met ʼn onderwyser wat raaksien; en met ʼn leerder wat kies om nie weg te kyk nie.

Die vraag bly dus: Wat leer ons ons kinders oor hoe om ander te behandel? En belangriker nog: Wat wys ons vir hulle deur ons eie optrede?

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel