loading
Artikels
1 jaar gelede
solidariteit-se-mediese-netwerke-bou-bande-met-suid-afrikaanse-gidshond-vereniging

Foto Krediet: Verskaf

Mediese netwerke bou bande met Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging

Deur Maryna Eksteen

Sig speel ʼn integrale rol in ons daaglikse lewe en wanneer ons sig op een of ander manier negatief beïnvloed word, kan dit ons lewe onherroeplik verander. Solidariteit se mediese netwerke fokus in Oktober, wat Nasionale Oogsorgbewustheidsmaand is, daarop om bewustheid te kweek oor die belangrikheid van ooggesondheid, spesifiek rondom die voorkoming en behandeling van vermybare blindheid.

Die mediese netwerke het by Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging (SAGV) gaan besoek aflê om ter viering van Wêreldsigdag op 12 Oktober bewusmaking rondom gidshonde en siggestremdheid te skep. Die netwerke wil mense bewus maak van die dienste wat die SAGV alles aan mense met gesigsgestremdhede bied.

Volgens ʼn studie van BMC Ophthalmology verloor 4 346 mense in Suid-Afrika jaarliks hul sig. Dit wil sê dat amper een uit elke tien mense hul sig, waarvan die meerderheid bo die ouderdom van 40 jaar is, verloor. As ʼn mens jou sig verloor, gaan staan jou lewe stil en moet jy van voor af leer loop, geld tel en lees sonder om te sien wat jy lees.

Die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging is die enigste organisasie in Suid-Afrika wat gidshonde oplei en voorsien en doen uitnemende werk om mense wat hul sig verloor het, sowel as mense wat met siggestremdheid gebore is, ʼn nuwe lewe te gee.

Hier volg ʼn kort beskrywing van wat die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging vir die gemeenskap doen.

Oriëntasie en mobiliteit

Een van die primêre funksies van die vereniging se oriëntasie- en mobiliteitspraktisyns is die kostelose hulp aan kinders en volwassenes met visuele gestremdhede om noodsaaklike vaardighede te verwerf. Hierdie vaardighede sluit in die hantering van ʼn lang stok, die ontwikkeling van visuele vaardighede, asook die aanleer van daaglikse lewensvaardighede wat ʼn persoon met gesiggestremdheid in die daaglikse omgang benodig.

Die praktisyns bied ook bewusmakingsopleiding aan vir ʼn verskeidenheid gehore om groter begrip oor visuele gestremdheid te skep. Hierdie begrip dra by tot die bevordering van ʼn inklusiewe samelewing waarin die behoeftes van individue met gesiggestremdhede beter verstaan word.

Die departement is ook betrokke by die aanbieding van werkswinkels en kortkursusse oor gesiggestremdhede en oor oriëntasie- en mobiliteitverwante temas. Hierdie geleenthede bied ʼn platform vir die verspreiding van kennis en die bevordering van vaardighede wat mense met gesiggestremdhede kan help om selfstandig te wees en ʼn aktiewe lewe te kan lei.

Die departement se kliëntebasis sluit ʼn wye spektrum van mense in, insluitend mense in die verpleeg- en onderwysberoepe, versorgers, asook werkgewers en kollegas van individue met gesiggestremdhede. Hierdie omvattende benadering maak dit moontlik om ʼn gemeenskap van ondersteuning en begrip rondom gesiggestremdheid te vestig.

Gidshonde

ʼn Gidshond is ʼn werkhond wat spesiaal opgelei is om mense met visuele gestremdhede te help om hulself onafhanklik deur die wêreld te kan stuur. Die passing tussen mens en gidshond moet sorgvuldige oorweging geniet en faktore soos leefstyl, die hond se temperament en werkvermoë, die behoeftes van die persoon, en die omgewing waarin die hond gaan werk, moet alles in ag geneem word.

Die opleiding van ʼn gidshond is ʼn omvattende en intensiewe proses, en in die laaste fases van opleiding dra die opleier dikwels ʼn blinddoek om die ervaring van die persoon met visuele gestremdhede na te boots. Dit is ʼn deurslaggewende fase waarin die gidshond sy of haar leidinggewende vermoë in verskeie omgewings en situasies moet kan toon.

Gidshonde is buitengewoon bedrewe om bepaalde oriëntasiepunte te vind. Hierdie punte kan algemene oriëntasiepunte wees wat die hond in enige omgewing moet kan vind, soos “vind die randsteen” of “vind die roltrap,” of die punte kan spesifieke oriëntasiepunte wees wat verband hou met ʼn spesifieke roete, byvoorbeeld “vind John se kantoor.” Hierdie fyn ingesteldheid van die hond maak van hom ʼn onmisbare maat vir ʼn persoon met visuele gestremdhede. Lees meer hier.

Outisme-ondersteuningshonde

Outisme-ondersteuningshonde is honde wat spesiaal gekies en opgelei word om kinders met outisme te help. Die primêre rol van ʼn outisme-ondersteuningshond is om byvoorbeeld te help wanneer so ʼn kind wil weghardloop as sy of haar aandag afgelei is die ouer of ‘n versorger is die primêre hanteerder van die outisme-ondersteuningshond. Die hond dra ʼn sagte tuig; ʼn leiband word aan hierdie tuig vasgemaak, en die kind hou die leiband vas. Hierdie tuig en leiband skep ʼn verbindingspunt tussen die kind en die hond wat ʼn veilige en ondersteunende gevoel vir kinders met outisme skep. Lees meer hier.

Dienshonde

ʼn Dienshond is ʼn werkhond wat opgelei is om persone te help wat fisiek gestremd is. ʼn Dienshond is opgelei om aan so ʼn persoon se unieke behoeftes te voldoen en hulle met sekere take te ondersteun. Dienshonde word volgens die eienaar se leefstyl geplaas.

ʼn Dienshond is sowel ʼn werkhond as ʼn getroue metgesel. Hierdie spesiale bondgenoot is daar om die persoon te help om ʼn selfstandige lewe te lei en is altyd aan die persoon se sy. Klik hier om meer te lees.

Indien jy deel wil wees van ʼn gemeenskap wat omgee en waar jou stem saak maak, klik hier of stuur ʼn e-pos na medies@solidariteit.co.za vir meer inligting oor Nasionale Oogsorgbewustheidsmaand

Saam sal ons vry, veilig en voorspoedig wees.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel