
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit se nuus- en publisiteitbestuurder: ‘Joernalistiek verg moed’
Deur Heléne Leonard
Die kommunikasiebedryf is ʼn dinamiese en kritieke sfeer van die samelewing, en mense soos Pieter Jordaan, ʼn ervare verslaggewer, kan jongmense wat die bedryf wil betree, baie waardevolle wenke bied. Jordaan se loopbaan het hom deur die nuusruimtes en veral sportnuusruimtes van Suid-Afrika en verder geneem, en sy toewyding aan die waarheid en die leserspubliek maak hom ʼn uitstekende rolmodel vir jong joernaliste. Hier is ʼn paar wenke wat hy graag aan jongmense wat joernalistiek pleeg, sou gee:
1.’n Joernalis verteenwoordig die publiek: Baie keer hoor ons dat staatsamptenare “public servants” genoem word. Maar is dit nie presies wat joernaliste is nie? Ons staan in diens van ʼn leserspubliek. Onthou dat jou doel is om die publiek te dien en hul belange te beskerm.
2. Onpartydigheid is belangrik: Joernaliste moet onpartydig wees. Dit beteken dat jy jou eie vooropgestelde idees moet agterlaat en objektief moet rapporteer. Die slagspreuk “Speaking truth to power” moet jou lei.
3. Vra vrae en kry antwoorde: Jou primêre taak is om vrae te stel en die antwoorde te kry. Moenie bang wees om die vrae te vra wat die publiek nie kan vra nie.
4. Moed is om iets te doen, selfs as jy bang is: Moed is nie om nie bang te wees nie, maar om steeds goed te doen en te skryf selfs wanneer jy bang is. Moenie bang wees om die waarheid na vore te bring nie, selfs as dit moeilik is.
5. Moenie bang wees om vrae te herhaal nie: As ʼn persoon ʼn vraag ontwyk, moet jy nie bang wees om dit weer te vra nie. Dit is jou plig om die publiek die regte antwoorde te gee.
6. Let op wat om jou aangaan: Let op jou omgewing en mense se gedrag. Dit sal jou help om jou storie ryk en lewendig te maak deur ekstra detail aan die leser te gee. Maak notas oor alles.
7. Vertrou jouself: Jou intuïsie is ʼn waardevolle gids. Moenie bang wees om dit te gebruik nie. Hierdie beroep vereis dat jy soms jou intuïsie vertrou.
8. Skryf jou hart en siel uit: Moenie bang wees om te skryf nie. Jou hart en passie is jou grootste bate as ʼn joernalis. Werk aan jou taalvaardigheid, maar moenie dat vrees vir spel- of taalfoute jou keer om met oorgawe te skryf nie. Daar ís taalversorgers.
9. Maak geskiedenis: Onthou dat elke berig ʼn stukkie geskiedenis is – die eerste weergawe daarvan. Dit is ʼn voorreg om ʼn rol in die skep van geskiedenis te speel.
Jordaan voel toewyding aan die waarheid en aan die lesers is belangrik, en hy hoop sy advies aan jongmense in die joernalistiek- en mediabedryf kan ’n groot invloed hê op hoe hulle hul loopbane vorm. Dit is ʼn uitdaging om nie bang te wees nie, maar om die waarheid te soek en dit met integriteit te deel, selfs in die aangesig van uitdagings, konflik of intimidasie. Met hierdie beginsels kan jong joernaliste ʼn verskil in die samelewing maak, net soos Pieter doen.
Hy het in 2023 by Solidariteit aangesluit waar hy as bestuurder van nuus en publisiteit werksaam is. “Ek het die werk by Solidariteit aanvaar, want ek het twee jong kinders en ek voel verplig om vir hulle ʼn beter toekoms te skep. Organisasies soos Solidariteit probeer vir ons almal ʼn beter toekoms skep,” vertel hy. Jordaan is van mening dat hy deur sy bydrae wat hy met sy joernalistieke ondervinding maak, kan help om saam met Solidariteit ʼn beter toekoms vir sy nageslag te bou.