
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit se rassestryd kom al ‘n ver pad!
Solidariteit wy hom al vir die afgelope 120 jaar toe aan geregtigheid en regverdigheid in die werkplek. Sedert die onbillike en verstikkende rassewette geïmplementeer is, veg Solidariteit vir ons lede en het ook al baie sukses in dié rassestryd behaal. Na ’n lang stryd het die regering nou boonop die skikkingsooreenkoms met Solidariteit, wat in 2023 onder toesing van die Verenigde Nasies (VN) se Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) gesluit is, verbreek.
Lees in hierdie artikel alles wat Solidariteit doen om Suid-Afrika van die las van ras te bevry.
Rassewette moet stop! Hierdie geveg het nie begin toe pres. Donald Trump die kollig op hierdie kwessie laat val het nie. Dit is al byna ʼn dekade lank wat Solidariteit ʼn volgehoue stryd teen die regering se rassewetgewing voer! Wat in 2015 begin het met ʼn klag by die VN se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD), het gegroei tot ʼn volskaalse internasionale veldtog om regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging aan die kaak te stel. Hier is hoe hierdie stryd oor die jare ontvou het:
2015

Die Suid-Afrikaanse regering dien sy periodieke verslag by CERD in en Solidariteit ʼn skaduverslag in reaksie daarop (Genève, Switserland). CERD is ʼn komitee van die VN wat gemoeid is met die uitskakeling van rassediskriminasie.
2016:

Ná die indiening van ʼn amptelike klag by CERD pak Solidariteit vir die eerste keer die Suid-Afrikaanse regering op ʼn sitting van die Verenigde Nasies (VN) oor die regering se beleid van rassekwotas in die werkplek.
2017:

ʼn Groot deurbraak is behaal in ons stryd teen die regering se rassebeleid. CERD het in ʼn verslag kritiek uitgespreek op Suid-Afrika se stelsel van rasseklassifikasie. Na aanleiding van die CERD-verslag het Solidariteit die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gevra om wette oor swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie formeel te ondersoek. In Mei 2017 dien Solidariteit sy klag by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) in oor Suid-Afrika se beleid van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging.
2018:

ʼn Reuse-oorwinning is behaal toe die SAMRK in sy gelykheidsverslag bevind het dat die Wet op Diensbillikheid gewysig moet word omdat SA se regstellendeaksie-wetgewing onregmatig is.
2019:

Na aanleiding van die SAMRK se aanbevelings versoek Solidariteit in die arbeidshof in Johannesburg dat sekere dele van wetgewing oor regstellende aksie ongrondwetlik verklaar word en dat die Wet op Diensbillikheid gewysig word. Die regering het egter geweier om die SAMRK se aanbevelings te implementeer.
2021:

Solidariteit dien Suid-Afrika se rasmalheid ʼn uitklophou toe. Op 28 Julie 2021 het Solidariteit namens 300 000 mede-Suid-Afrikaners ʼn formele klag teen die regering se rassebeleid aanlyn by die Verenigde Nasies (VN) ingedien. Op 24 September 2021 het ʼn afvaardiging van Solidariteit na Genève vertrek om dié historiese klag in persoon in te dien en ons eerste gesprekke van aangesig tot aangesig met die IAO te voer.
Die ontmoeting met ʼn afvaardiging van die IAO was van onskatbare waarde. Ons doelgerigte gesprekke het bewustheid geskep en die realiteit tuisgebring dat Suid-Afrika se beleid nie met internasionale praktyke oor rassebeleid strook nie. Suid-Afrika se rasmalheid is aan die groot klok gehang.
2022:

Op 30 Maart 2022 het ons terugvoer van die IAO oor ons klag ontvang, naamlik dat Suid-Afrika se rassebeleid amptelik deur die Verenigde Nasies se arbeidsagentskap ondersoek gaan word.
2023:

Die nuwe Wysigingswet op Gelyke Indiensneming is op 6 April 2023 deur pres. Cyril Ramaphosa onderteken. Solidariteit het geweier om dié rassewetgewing te aanvaar wat die privaat sektor sou kaap, beheer en tot niks reduseer. Op 10 Mei 2023 beteken Solidariteit sy hofstukke teen die wetgewing.

Op 22 Augustus verwelkom Solidariteit die Departement van Indiensneming en Arbeid se aankondiging dat die drakoniese wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming nie meer op 1 September 2023 in werking sou tree nie.
2025: Die stryd duur voort
Solidariteit kondig optrede teen Ramaphosa aan oor minagting van hof
Die regering is eenvoudig nie ’n betroubare vennoot nie!
Selfs na die skikkingsooreenkoms in 2023 onderteken is, het die regering hierdie ooreenkoms verbreek. Dit is eenvoudig: Ramaphosa minag die hof. Lees meer hieroor.
“Ons is diep teleurgesteld dat die regering nie hou by ooreenkomste wat bereik word nie. President Ramaphosa sê gereeld dat Suid-Afrikaanse probleme in Suid-Afrika opgelos moet word, maar dit is onmoontlik as die regering nie ’n betroubare vennoot is nie. Hierdie verbreking van die ooreenkoms volg nadat die regering ’n ooreenkoms met Solidariteit, by Nedlac, oor die Bela-wet, ook verbreek het.
“Dit is kommerwekkend dat die dele wat uitgelaat is, onder andere bepaal dat niemand op grond van rassewette afgedank mag word nie, dat rassewette tydelik moet wees, en dat vaardighede en die inherente vereistes van die pos in ag geneem moet word. Die regering wil duidelik die rassebedeling in Suid-Afrika verskerp,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Rassediskriminasie is weer wet – dis jou beurt om terug te baklei!
Jou lidmaatskap maak hierdie stryd moontlik. Elke lid versterk ons hand in die hof, in die openbare arena en op die internasionale verhoog.
Sluit vandag aan en wees deel van die weerstand. Klik hier!