Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit se Sterre in die Gemeenskap-eretoekennings vir 2024
Deur Maryna Eksteen
Solidariteit se Sterre in die Gemeenskap-geleentheid is ʼn viering van onbaatsugtige toewyding en harde werk, en die merkwaardige bydraes van individue wat in hul professies uitblink. Vanjaar vereer Solidariteit lede in sy afsonderlike beroepsnetwerke wat ʼn besonderse bydrae in die netwerke gemaak het. Hierdie mense wat hul kollegas en die gemeenskap dien, is ʼn bron van inspirasie.
Eretoekenning aan Durandt Serfontein – Solidariteit Finansiesnetwerk
Solidariteit se Finansiesnetwerk het die voorreg om ʼn eretoekenning aan Durandt te maak vir sy onwrikbare toewyding en uitsonderlike bydrae tot die finansiëlebeplanningsprofessie. Durandt is meer as net ʼn finansiële adviseur – hy is ʼn leier, ʼn mentor en ʼn visionêr.
Sy hooffokus val op die bevordering van professionaliteit in die finansiële sektor deur die opleiding van adviseurs van gehalte wat kliënte met integriteit en vaardigheid kan dien. Sy toewyding aan die Solidariteit Finansiesnetwerk, veral deur sy samewerking met die adviesraad, het gelei tot die suksesvolle vestiging van ʼn vennootskap tussen Solidariteit en Sanlam se opleidingsakademie.
Hierdie vennootskap maak dit moontlik vir Solidariteit om RE-opleiding, VPO-punte en ander gespesialiseerde opleiding aan te bied – ʼn revolusionêre stap in die finansiële sektor. Sy visie en innoverende benadering het nie net jong talent na vore gebring nie, maar ook werksgeleenthede geskep en professionele standaarde verhoog.
Durandt is ʼn waardige ontvanger van hierdie eretoekenning en is die toonbeeld van uitnemendheid in sy beroep.
Eretoekenning aan dr. Angelique Coetzee – Solidariteit Doktersnetwerk
Die Doktersnetwerk is trots om erkenning te gee aan dr. Angelique Coetzee, wie se onmisbare rol as lid van dié netwerk se adviesraad talle mediese studente en dokters positief geïnspireer het.
Dr. Coetzee het deur haar leierskap gehelp om uitdagings rondom internskappe en gemeenskapsdiensplasing van jong dokters aan te pak – kwessies wat die wese van hul loopbane raak. Haar betrokkenheid het Solidariteit se vermoë om lede in mediese beroepe by te staan versterk, terwyl die gesag en respek wat sy in die mediese gemeenskap geniet, ʼn brug gebou het na belangrike verhoudings en geleenthede.
Haar toewyding aan Solidariteit se missie het tot betekenisvolle verbetering in die dienslewering aan mediese praktisyns gelei. Dr. Coetzee is ʼn baanbreker in haar veld en ʼn waardige ontvanger van hierdie eretoekenning.
Eretoekenning aan dr. Ida du Plessis-Faurie – Solidariteit Verpleegnetwerk
Solidariteit se Verpleegnetwerk ken graag hierdie eretoekenning aan dr. Ida du Plessis-Faurie toe vir haar uitstaande bydrae tot die uitbreiding en versterking van die netwerk se invloed en dienslewering aan verpleegkundiges.
As adviesraadslid het dr. Du Plessis-Faurie haar uitgebreide kennis en insig in die bedryf gebruik om waardevolle verhoudings met verpleegkundiges te bou. Haar insette het nie net die netwerk se omvang vergroot nie, maar ook die gehalte van die netwerk se ondersteuning aan verpleegkundiges verbeter.
Sy is ʼn ware kampvegter vir die verpleeggemeenskap, en haar toewyding om hierdie kritieke beroep te ondersteun, is ʼn inspirasie vir almal met wie sy werk. Dit is danksy die belangrike rol was sy speel in die bevordering van die verpleegprofessie dat dr. Du Plessis-Faurie hierdie erkenning waardig is.
Hierdie toekennings vereer nie net individuele prestasie nie, maar ook die gedeelde visie en passie vir groei, uitnemendheid, en ondersteuning binne die Solidariteit-gemeenskap. Serfontein, dr. Coetzee en dr. Du Plessis-Faurie is ware sterre op hul onderskeie gebiede, en ons is trots om hulle as deel van ons netwerke te hê. Hul bydraes sal ongetwyfeld voortleef en ander inspireer om hul voorbeeld te volg.
Eretoekenning aan Ruan Wepener – Solidariteit Regsnetwerk
Solidariteit se Regsnetwerk eer graag Ruan Wepener, ʼn uitmuntende jong regsgeleerde, vir sy toewyding aan die regsprofessie en sy inspirerende betrokkenheid by die bevordering van jong talent in die professie.
Ruan, ʼn trotse alumnus van Akademia, het sy LLB-graad met uitstaande prestasie verwerf en was die topstudent in sy klas. Hy het uitnemendheid in sy studie verder gevoer deur sy Hoër Sertifikaat in Regsadministrasie cum laude te verwerf. Hy het sy uitnemendheid ook bewys deur sy deelname aan die Trial Advocacy Course van die Pretoriase Vereniging van Advokate in 2023.
Ruan is tans ʼn kandidaatprokureur by die firma Serfontein Viljoen & Swart, waar sy passie vir die reg en sy dryfkrag om ʼn verskil in mense se lewens te maak duidelik tot uiting kom. Sy rol as ʼn lid van die Solidariteit Regsnetwerk se adviesraad bewys verder sy verbintenis om as ʼn spreekbuis vir jong regsgeleerdes en studente op te tree, terwyl hy die volgende generasie regslui met visie en leierskap inspireer.
Ruan se veelsydigheid en kreatiwiteit straal uit alles wat hy aanpak – van sy liefde vir musiek en tegnologie tot sy onblusbare energie en vasberadenheid om voortdurend te groei. Hy verklaar: “Die verantwoordelikheid lê by ons, maar die hoop lê by die volgende generasie. Dit is ons plig om hulle te help om hul beste te doen.”
Vanaf 2025 sal Ruan ʼn raadslid van die adviesraad van die Solidariteit Regsnetwerk wees, waar hy sy visie en energie sal aanwend om die netwerk verder uit te bou en jong talent te bemagtig. Sy huidige bydraes tot die netwerk is reeds merkwaardig en maak van hom ʼn waardige ontvanger van hierdie eretoekenning. Ruan, ons bedank jou en waardeer jou bydrae tot die regsprofessie en die onmisbare rol wat jy by die Solidariteit Regsnetwerk vervul.
Die eretoekennings wat tydens Solidariteit se Sterre in die Gemeenskap-geleentheid oorhandig is, is ʼn viering van uitnemendheid, toewyding en die verskil wat individue in hul gemeenskappe en beroepe maak. Die ontvangers van hierdie toekennings is nie net leiers in hul betrokke velde nie, maar ook die bron van inspirasie vir elkeen van ons wat na ʼn beter toekoms streef.
Hul verhale is ʼn bewys dat harde werk, passie en samewerking berge kan versit en lewens kan verander. Solidariteit is trots om hierdie rolspelers te ondersteun en saam met hulle aan ʼn visie van selfstandigheid, professionaliteit en gemeenskapsbou te werk.
Hierdie toekennings herinner ons dat ons krag in samewerking lê. By Solidariteit word elke lid, mentor en professionele persoon ʼn bousteen in die groter prentjie van vooruitgang. Of jy jou roeping reeds uitleef, of net aan die begin van jou loopbaanpad staan, Solidariteit bied jou die netwerk en die geleenthede om te groei en jou volle potensiaal te bereik.
Raak vandag betrokke en sluit aan by Solidariteit – ʼn plek waar jy hoort, waar jou stem tel, en waar jy kan help om ʼn daadwerklike verskil te maak.