loading
Artikels
11 maande gelede
solidariteit-se-studente-aanbod-alles-wat-jy-wil-weet

Foto Krediet: OkayDeer

Solidariteit se Studente-aanbod: Alles wat jy wil weet!

Deur Ané Janse van Rensburg

Aandag alle studente! Solidariteit se Studente-aanbod is op die been en slaggereed om jou in jou studentejare by te staan!

Marike Burger, koördineerder van Solidariteit se Studente-aanbod, gesels oor wat die aanbod alles behels, en hoe jy as student dit ten volle kan benut.

Hoekom het Solidariteit ʼn plekkie geskep vir ʼn aanbod vir studente?

Ons wil studente deel maak van ons aanlyn gemeenskap. Ons stap die loopbaanpad saam met jou. Dit begin reeds as skolier. Wanneer jy dan gaan studeer, word jy deel van Solidariteit se Studente-aanbod, en wanneer jy die eerste keer in die werkplek is, word jy deel van Solidariteit se lidmaatskap vir Jongwerkendes en skakel jy in by jou beroepsnetwerk.

ʼn Beroepsnetwerk is ʼn professionele netwerk en jou gemeenskap waar mense mekaar help en ondersteun. Jong mense wat deel is van ons Studente-aanbod het reeds tydens hul studiejare toegang tot hul toekomstige beroepsnetwerke.

Daar kry jy relevante inligting oor die werkplek. Ons help studente om vir hul eerste werksonderhoud voor te berei. Studente kry toegang tot skaduwerkgeleenthede wat hulle help om reeds hul CV uit te bou terwyl hulle nog studeer.

Wat wil die Studente-aanbod bereik?

Dit is ons doel dat studente wat wil werk, móét kan werk en ook hul volle potensiaal in die werkplek moet kan bereik. Ons staan graag studente by met die nodige ondersteuning tydens hul studentejare. Ons help hulle om deur skaduwerk waardevolle ervaring te kry terwyl hulle studeer sodat hulle aansoek kan uitstaan wanneer hulle begin soek na werk. Ons glo daarin om studente van studentwees tot meesterskap te begelei en bied daarom Student tot Meester-geleenthede aan wat reeds vrugte afgewerp het waar studente wat hierdie netwerksessies bygewoon het, daar weggestap het met ʼn werksgeleentheid.

Studente kan ook meningstukke vir die #JongStemme-inisiatief skryf wat Solidariteit in samewerking met Maroela Media aanbied. Dit is ʼn geleentheid vir hulle om hul menings te lug en hul skryfvaardighede ten toon te stel. Professionele poste vereis gewoonlik goeie skryfvaardighede, en as ʼn student kan wys dat hulle al ʼn stuk geskryf het wat in die media gepubliseer is, is dit vir enige werkgewer ʼn bewys van daardie skryfvaardighede wat in die werkplek benodig word.

Vir watter studentebehoeftes maak die Studente-aanbod voorsiening?

Die Slypskool wat die Regsnetwerk byvoorbeeld vir voornemende regslui aanbied, fokus op aspekte soos: Kan jy professioneel kommunikeer? Beskik jy oor die regte tegnieke wat in konsultasies gebruik word? Kan jy sake behoorlik ontleed? Onderskei jouself van die 200 ander CV’s wat op die firma-prinsipaal se lessenaar lê deur Solidariteit se Slypskool by te woon. Die kennis wat jy daar verwerf het, gaan jou aansoek bo ander kandidaatprokureurs se aansoeke laat uitstaan.

Woon ons Student tot Meester-funksie by en kry die geleentheid om al die vrae oor dié dinge waaroor jy in die werkplek en in die beroep wonder aan ʼn kenner te vra. Hier kry studente die geleentheid om te begin om professionele netwerke op te bou, kontak te maak met potensiële werkgewers en antwoorde te kry op al die vrae waaroor hulle wonder. Die geleentheid is nie net ʼn formele funksie nie; dit is ʼn heerlike samesyn tussen studente van verskeie fakulteite en meesters uit verskeie beroepe. As jy nie die geleentheid bywoon nie, verbeur jy ʼn gulde geleentheid om aan jou toekoms te bou. Die funksie vind jaarliks in September plaas. Hou gerus ons sosialemediablaaie dop vir meer inligting oor 2024 se Student tot Meester-netwerkgeleentheid.

Wonder jy oor wat die volgende stap op jou pad behels om die volgende Elon Musk te word, of droom jy oor hoe dit is om voor ʼn regter in die hof op te tree? Solidariteit se Studente-aanbod gee jou toegang tot kenners in verskeie beroepsareas wat jou as mentors bystaan en die nodige advies aan jou gee oor alles wat jy nou reeds gereed kan kry om jou loopbaandoelwitte te verwesenlik. Hierdie kenners deel graag hulle ervaring met jong mense sodat jy met die regte inligting bemagtig kan word om die regte besluite oor jou loopbaanpad te kan neem.

Hoe berei die Studente-aanbod studente voor vir hul toekomstige werk?

Ons glo daarin om vir studente die geleentheid te gee om reeds terwyl hulle nog studeer, aan hul CV’s te bou. Daarom bied ons opleiding aan studente om sterk CV’s op te stel wat aandag trek en ons help hulle om vir werksonderhoude voor te berei. Verder skep ons geleenthede waar studente skaduwerk kan doen wat hulle die nodige blootstelling aan die beroep gee, terwyl die regsslypskool (waarna vroeër in die artikel verwys is) die gaping tussen akademie en die praktyk oorbrug.

As jy die Studente-aanbod in twee tot drie sinne kon verkoop, hoe sou jy dit doen?

By die Solidariteit Studente-aanbod kry jy die geleentheid om met kenners in jou beroep skouers te skuur. Hierdie kenners vorm deel van jou toekomstige professionele netwerk of kan jou potensiële werkgewer wees. Soms gaan dit nie oor wat jy weet nie, maar wie jy ken. Danksy hierdie aanbod bied ons aan studente die geleentheid om reeds terwyl hulle studeer te begin om hul professionele netwerke op te bou, hulself te onderskei van ander deur skaduwerk en met professionele hulp hul CV op te stel.

Solidariteit se student-aanbod is die perfekte plek waar jy vir jou toekoms kan voorberei, terwyl jy die pad soontoe geniet! Skep vandag jou gratis profiel op Solidariteit, en skakel in by hierdie studentegemeenskap wat jou wil bemagtig en ondersteun!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel