loading
Artikels
1 jaar gelede
solidariteit-se-studente-ontbyt-saam-met-sol-tech

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit se studente-ontbyt saam met Sol-Tech

Deur Ané Janse van Rensburg

ʼn Boer maak ʼn plan, die res bel ʼn ambagsman!

Solidariteit se Studente-aanbod het vandag die tweede inname Sol-Tech-eerstejaarstudente op kampus verwelkom. Daar is jaarliks vier innames van studente op dié kampus en elk is die begin van ʼn dinamiese ambagslui-groep wat bou aan ʼn voorspoedige toekoms.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende en bruikbare kwalifikasies lei. Dis hiér waar elke aspirant ambagsman en -vrou hulle voete kan vind en hulself met kennis kan toerus om hul loopbane mee af te skop.

Ter verwelkoming van die Sol-Tech-plaasjapies het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, die nuwelinge toegespreek en ʼn brokkie geskiedenis gedeel. Dr. Hermann het beklemtoon hoe belangrik dit is om te weet waar die ambagslui vandaan kom, om op só ʼn manier na ʼn blink toekoms toe te kan werk. Hy verwys na die stories wat vertel word op die buitepanele van die Sol-Tech-kampus, waar die ambagslui in ons alledaagse lewe gesien kan word, en hoe ontwikkeling nie daarsonder kon plaasvind nie. “Hierdie panele wys waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is. Jy is die volgende stukkie toekoms wat hier instap; jy betree ʼn gemeenskap wat saam met jou wil bou. Ons is deel van julle roepstem!”

Marike Burger, koördineerder van Solidariteit se Studente-aanbod, het die nuwe studente met opwinding bekendgestel aan die voordele wat die studente-aanbod vir hulle mag inhou. “Ons is hier om hierdie pad saam met julle te stap, vandat jy studeer, totdat jy jou eie onderneming wil begin. Wanneer jy jou ervaring opgedoen het, en wil teruggee aan die volgende generasie Sol-Tech- en ambagstudente, dan is ons hier om dit saam met julle te doen,” het Burger aan die studente gesê. Die studente-aanbod is gratis vir studente tussen die ouderdom van 18 en 25 en sluit onder meer in toegang tot meer as 60 voortgesette leerkursusse waarvan die student gebruik kan maak.

Die studente het omtrent gees gevang tydens die geleentheid, met ʼn vasvrae wat verband hou met Sol-Tech en Solidariteit. Hulle het ook elkeen ʼn mesmoertang (‘multitool’) as geskenk gekry.

Elke student het die geleentheid om ʼn baksteen by te dra tot die bou van ʼn droomgevulde toekoms. Omring met meesters wat hulle kennis en kundigheid wil deel, saam met ʼn beroepsnetwerk wat hul omvou met ondersteuning, kan die nuwe studente werklik die wêreld oorwin en vir hulself deure oopsluit.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel