
Foto Krediet: Bo-Karoo Opleiding | Facebook
Gekopieër
Bo-Karoo Opleiding: Ses jaar van dankbaarheid, groei en hoop
Deur Kyla-Ann du Toit
In die hartjie van die Karoo, in Orania – waar grondpaaie die horison ontmoet en die stilte meer sê as woorde – bou Bo-Karoo Opleiding (BKO) aan vryheid deur opleiding en arbeid. BKO is nie net ʼn opleidingsinstelling nie; dit is ʼn toekomsbouer, ʼn hoopdraer en ʼn spilpunt van kultuur, geloof en vaardighede.
BKO vier vanjaar sy sesde bestaansjaar en daar is méér as genoeg rede om te spog.

ʼn Merkwaardige reis van groei
Toe BKO in 2019 met slegs vyf studente begin het, was dit met ʼn duidelike visie: om jong mense met roeping én vaardighede toe te rus – in hul moedertaal, in ʼn veilige ruimte – vir ʼn werkbare toekoms. Vandag, ses jaar later, is BKO ʼn bruisende sentrum van leer, passie en kultuur. In 2025 spog BKO met:
- • 205 studente;
- • 8 nasionaal erkende kwalifikasies;
- • 3 koshuise en ʼn daghuis;
- • meer as 100 alumni; en
- • 24 passievolle personeellede.
BKO het oor die afgelope ses jaar nie net gegroei nie, maar werklik aan die toekoms begin gebou – aan selfvertroue by jong mense, aan ʼn volhoubare gemeenskap en aan ʼn voorspoedige toekoms vir die Afrikaner.
Opleiding in jou moedertaal
Wat BKO uniek maak, is nie net die hoë gehalte van opleiding nie, maar ook die wyse waarop dit aangebied word: in Afrikaans en gegrond op Christelike waardes. Hier gaan dit nie net oor papierkwalifikasies nie, maar oor karakterbou, diensbaarheid en trots in jou beroep. Die instelling bied studierigtings aan in onder meer boerdery, konstruksie, tuisversorging, loodgieterswerk en vroeë kinderontwikkeling – alles sleutelareas waar Suid-Afrika vaardigheidstekorte ervaar.
Dr. Dirk Hermann, direksielid van BKO, som dit só op: “Vry, veilig, gehalte, geborge en Afrikaans – dít kry jy net by BKO.”

ʼn Studentelewe soos min
Op BKO se kampus leef studente in ʼn omgewing van geborgenheid – nie net fisiek veilig nie, maar ook geestelik en emosioneel. Eerstejaarskampe, sportligas, kultuuraande en gemeenskapsprojekte vorm alles deel van ʼn geïntegreerde opvoedingsbenadering. Soos SR-voorsitter Hencko Vollgraaff sê: “Deur harde werk skep jy ʼn vrye toekoms vir jouself én jou nageslag.”
ʼn Simbool van die toekoms
Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO, beskryf die instelling se ses jaar met dankbaarheid: “As daar een ding is wat ek keer op keer in my tyd by BKO gesien het, is dit dat ons uitdagings in geleenthede omskep. ʼn Vaste geloofsfondasie, opleiding in skaars vaardighede, ʼn veilige omgewing en gesonde studente-aktiwiteite is alles boustene wat ʼn hoopvolle toekoms binne ʼn kultuurgemeenskap bou. Ons kyk met dankbaarheid terug op die afgelope jare se groei en ontwikkeling by BKO.”
Dit is maar net die begin …
Met uitbreidings wat twee nuwe programme en 80 bykomende slaapplekke in sy koshuise insluit, lê daar nog baie meer groei vir BKO voor. Nerina Meiring, akademiese hoof, som dit goed op: “Elke dag begin ons met iets nuuts om op te bou.”
Bo-Karoo Opleiding is slegs ses jaar oud, maar in hierdie kort tydjie het dié instelling nie net aan jong mense se vaardighede gebou nie, maar ook aan hul drome, hul menswees, hul kultuur en ʼn toekoms.

ʼn Vry, veilige en voorspoedige toekoms
“In ʼn wêreld waar jong Afrikaners onseker is oor hul toekoms, is BKO die boodskapper van hoop,” sê Hanlie Pieters, bemarkingshoof van BKO. Solidariteit glo dat kennis die beste manier is om ons gemeenskap te beskerm en hoop te skep. Solidariteit is dus daartoe verbind om na die behoeftes van sy mense om te sien deur kennisinstellings te bou en só die volgende generasie te bemagtig.
Dit is eenvoudig: #JyHoortHier! Raak vandag nog betrokke en verseker ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms vir jou én jou nageslag. Bou vir jou kinders; bou vir ʼn toekoms!
Kyk hier: