loading
avatar
Artikels
3 dae gelede
kara-durie-se-begrotingswenke-vir-studente

Foto Krediet: OkayDeer

Kara Durie se begrotingswenke vir studente

Deur Leré Nel

Studentelewe is duur. En die probleem lê nie altyd by die groot uitgawes nie – dit is die klein jakkalsies wat stil-stil die wingerd vernietig.

Daardie R45-koffie drie keer per week mag dalk soos ʼn klein uitgawe voel… totdat jy besef dit is R540 ʼn maand.

En daardie baadjie wat van R600 na R200 afgemerk is? Jy het nie R400 gespaar nie; jy het steeds R200 uitgegee.

Welkom by die wêreld van “girl math” – waar alle transaksies klop… totdat jy jou bankrekening nagaan.

Volgens Kara Durie, finansiële administrateur by Sanlam se Blignaut BlouSter, is die fout wat studente maak eintlik baie eenvoudig: “Studente begroot nie reg nie. Sonder ʼn begroting beheer jou geld jou, maar met ʼn begroting beheer jy jou geld.”

Hoe begin ʼn mens begroot?

Die goeie nuus is dat dit nie ingewikkeld hoef te wees nie.

“In sy eenvoudigste vorm is ʼn begroting net ʼn lys van inkomste teenoor ʼn lys van uitgawes,” verduidelik Durie.

Sy stel voor studente begin met die 20-30-50-reël:

  • • 50% van jou geld gaan vir behoeftes (kos, vervoer, studie-uitgawes)
  • • 30% vir begeertes (kuier, koffie, uiteet)
  • • 20% vir spaar of skuldafbetaling

Ja, selfs as student is dit slim om ʼn bietjie te spaar.

Goeie nuus: jy mág nog koffie drink

Om te begroot beteken nie jy moet alles wat jou vreugde bring en plesiertjies uit jou lewe sny nie.

“Daar is niks verkeerd met ʼn lekker koffie of ʼn kuiertjie so nou en dan nie,” sê Durie.

Die geheim is om bewus te wees van jou keuses.

“Prioritiseer jou uitgawes volgens wat belangrik en dringend is. Betaal eers die noodsaaklikhede, dan los jy plek vir die dinge waarvan jy hou.”

Met ander woorde: beplan jou lekker aktiwiteite – moenie dit impulsief doen nie.

Bou nou al goeie geldgewoontes

Durie sê die beste tyd om goeie finansiële gewoontes aan te leer, is lank voordat jy begin werk.

ʼn Paar eenvoudige gewoontes kan ʼn groot verskil maak:

  • • Begin nou al begroot
  • • Stel ʼn debietorder vir spaargeld in (selfs al is dit vir ʼn klein bedrag)
  • • Hou by die 20-30-50-beginsel
  • • Onthou: ʼn groter inkomste beteken nie jy moet meer spandeer nie

En voordat jy groot besluite neem – soos om ʼn kar te koop of uit die huis uit te trek – moet jy eers die volle koste bereken.

“Besluit van jongs af dat jou finansies jou nie gaan beheer nie,” sê Durie.

Maak dit nog makliker vir jouself

Ons weet dat somme nie almal se “cup of tea” is nie. Daarom het Solidariteit spesiaal ʼn begrotingstemplaat ontwerp om studente te help om hul studente-sente slimmer te bestuur.

Skep eenvoudig jou gratis profiel en kry toegang tot die Studeerkamer, waar hierdie hulpmiddel op jou wag.

Want eerlikwaar: Dit is baie lekkerder wanneer jý jou geld bestuur – nie andersom nie.

As jy nou al wil leer om jou geld te bestuur en nie deur jou geld bestuur te word nie, skakel ook by die Studentelewegroep in!

Hier kry jy alles wat jy nodig het om jou nou al vir sukses in die werkplek eendag voor te berei.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel