Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
My kind wil nie studeer nie – is dit die einde van die wêreld?
Deur Karen Waldeck
Daar kom ʼn oomblik in baie ouers se lewe wanneer die hoop op universiteit en ʼn graad skielik vervaag – meestal net ná matriek, wanneer die aankondiging kom: “Ek dink nie studeer is regtig vir my nie.”
Dit is ʼn scenario wat al hoe meer voorkom in die wêreld waarin ons vandag leef. As ouer is dit jou natuurlike instink om net die beste vir jou kind te wil hê. Onsekerheid oor die toekoms, die vrees dat jou kind agter gaan raak in die wêreld van werk, en selfs die vraag of jy as ouer misluk het – al hierdie bekommernisse gaan deur jou gedagtes maal. Maar voordat jy paniekerig raak, haal eers diep asem. Die waarheid is: dit is nie die einde van die wêreld nie. Dit is eintlik ʼn geleentheid om saam met jou kind ʼn nuwe, en dalk selfs meer praktiese, pad te begin stap.
Ervaring: Die klas sonder mure
Ons leef nog in ʼn tyd waar daar tradisioneel sterk op kwalifikasies gefokus word, en waar daar dikwels neergekyk word op mense wat slegs werkervaring, sonder enige “papiere”, het. Die werklikheid is egter dat werkervaring van onskatbare waarde is. Al hoe meer werkgewers beskou dit as ʼn groot voordeel wanneer ʼn jong mens inisiatief toon en reeds begin werk. Baie van die belangrikste lewenslesse word immers nie in universiteitklaskamers aangeleer nie, soos hoe om professioneel op te tree tydens konflik, hoe om met ander saam te werk, en hoe om verantwoordelikheid te neem. Ervaring gee jou ʼn realistiese kyk van hoe die wêreld buite die skoolbanke lyk, en help jou om te bepaal of jy werklik belangstel om vir die res van jou lewe in ʼn bepaalde rigting te werk.
In plaas daarvan om te sê: “Jy móét studeer”, kan die gesprek eerder wees: “Kom ons ontdek wat jy wíl doen.” Stel jou kind gerus: die pad na ʼn suksesvolle loopbaan is selde ʼn reguit lyn. Dit is vol draaie en afritte wat uiteindelik na ʼn betekenisvolle bestemming lei. Om eers te begin werk, is een van daardie afritte wat ʼn mens ryk aan lewenslesse kan maak.
Hoe kan jy jou ondersteuning wys?
Die sleutel is om ʼn realistiese, maar ondersteunende, vennoot vir jou kind te wees.
- • Wees nuuskierig, nie krities nie. Begin met vrae soos: “Watter soort werk dink jy sal jou gelukkig maak?”, eerder as: “Hoe gaan jy ooit sukses behaal sonder ʼn graad?” Hierdie benadering skep ruimte vir ʼn eerlike gesprek.
- • Doen navorsing saam. Is daar ʼn spesifieke vakgebied waarin jou kind belangstel? Help om uit te vind watter toetse, internskappe of kortkursusse beskikbaar is om ʼn voet in die deur te kry. Kursusse in rekenaarvaardighede, digitale bemarking of boekhou kan byvoorbeeld ʼn groot verskil maak.
- • Help om skaduwerkgeleenthede te vind. Vra vriende, kollegas en kennisse of jou kind ʼn dag of twee saam met hulle die werkplek kan betree, om te sien hoe die dag-tot-dag take van hul beroep regtig lyk.
Praat oor finansiële geletterdheid. Wanneer ʼn jong mens begin werk, is dit die ideale tyd om belangrike gesprekke oor geldbestuur, belasting en spaar te hê. Solidariteit beskik oor waardevolle hulpbronne wat jou kind deur hierdie proses kan help.
Die belangrikheid van ʼn veilige netwerk vir jong werkendes
Een van die waardevolste hulpbronne vir ʼn jong persoon wat die werkmark betree, is ʼn ondersteunende gemeenskap. Dit is presies wat Solidariteit se Jongwerkende-lidmaatskap bied. Dit is soveel meer as net ʼn lidmaatskap – dit is ʼn volledige ondersteuningsnetwerk wat ontwerp is om jong mense te help om op hul eie voete te staan.
Die voordele sluit in:
- • professionele hulp met jou CV – jou kind se eerste tree in die werkmark;
- • toegang tot eksklusiewe vakatures op Solidariteit (daar word gereeld nuwe werkgeleenthede geplaas wat nie noodwendig elders geadverteer word nie);
- • wetlike en arbeidsadvies oor arbeidsooreenkomste, werkure of regte in die werkplek; en
- • kortkursusse en ontwikkelingsgeleenthede om vaardighede uit te brei en waarde in die werkplek te verhoog.
Deur by so ʼn netwerk aan te sluit, kry jong mense nie net ʼn voet in die deur nie, maar ook die geleentheid om mense met soortgelyke belangstellings te ontmoet.
Die besluit om nie dadelik te studeer nie, is nie ʼn mislukking nie. Dit is ʼn keuse – een wat nie ligtelik gemaak moet word nie, maar ook een wat net soveel ondersteuning soos enige ander lewenskeuse verg. As ouer is jou rol nie om die pad vir jou kind uit te stippel nie, maar om die lig langs die pad te wees wat hulle lei.
Moedig jou kind aan om deel te word van ʼn gemeenskap wat omgee. Besoek Solidariteit om uit te vind hoe om aan te sluit en watter voordele vir jou en jou kind beskikbaar is.