Afrikaans

English

loading
Mediaverklarings
3 jaar gelede
solidariteit-se-verslag-oor-sa-se-verhouding-met-kuba

Foto Krediet: Ivan Bandura | Unsplash

Solidariteit se verslag oor SA se verhouding met Kuba

Solidariteit het vandag ʼn verslag bekendgestel rondom die Suid-Afrikaanse regering se geskiedenis met hul Kubaanse eweknieë. Dit volg nadat Lindiwe Sisulu, die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie vroeër vandeesmaand die aankoms van 24 Kubaanse ingenieurs in die land verwelkom het om die waterkrisis in Suid-Afrika te takel.

“Dit is tyd dat Suid-Afrika se aangetrokkenheid tot Kuba en die kommunistiese ideologie tot ʼn einde kom. Die nuutste ontplooiing van Kubaanse ingenieurs is skandalig, veral in die lig daarvan dat van Suid-Afrika se eie ingenieurs werkloos is of die kapasiteit het om te help.

Wat dit selfs erger maak, is dat minister Sisulu in ʼn onderhoud op Radio 2000 genoem het dat aansoeke wel ontvang is vir die poste wat tans deur Kubane beklee word, maar dat die aansoekers wit was,” verduidelik Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI). “Die implikasie is dat die minister bereid is om mentors teen groot koste aan te stel eerder as om plaaslike talent te gebruik om werklike waterprobleme op te los. Volgens die minister kan swart mense dus sonder water gelos word solank wit mense nie aangestel word nie.”

Volgens Solidariteit is Kuba se eie watersituasie haglik. In die verslag van die SNI word byvoorbeeld daarop gewys dat die meeste buurte in Havana slegs vir twee ure elke vyf dae water het.

“Die Kubaanse regering aanvaar nie verantwoordelikheid vir hierdie toedrag van sake nie, maar blameer liewer Amerikaanse sanksies vir die gebrek aan infrastruktuur in die land. Die Kubane vergeet gerieflikheidshalwe dat die VSA nie die enigste leweransiers van toerusting is nie,” stel Du Buisson.

Solidariteit se verslag onthul ook ander geleenthede waarvoor Kubaanse werknemers aangewend is om bestaande Suid-Afrikaanse dienste skynbaar te verbeter.

“Vandat die ANC oorgeneem het, is daar op elke moontlike geleentheid gepoog om geld na Kuba te kanaliseer. Die Suid-Afrikaanse weermag het byvoorbeeld teen ʼn koste van R200 miljoen werktuigkundiges van Kuba ingevoer om voertuie te herstel. Van hierdie einste voertuie is toe later as skroot verkoop,” sê Du Buisson. “Meer onlangs het die weermag weereens ʼn bedrag van R200 miljoen bestee aan die middel Interferon. Dit is van Kuba aangekoop om teen Covid-19 gebruik te word, terwyl daar geen bewyse bestaan dat dit effektief sou wees nie.”

Solidariteit werp verder lig op die toestande en omstandighede waaronder die Kubaanse werkers na vreemde lande uitgevoer word.

Du Buisson verduidelik: “Die Kubane word dalk baie betaal, maar die Kubaanse regering lê beslag op die grootste deel van hul vergoeding. Kuba se uitvoer van dokters na ander lande dra meer tot die staat se inkomste by as die hele toerismesektor. Hierdie dokters vertel dikwels van intimidasie deur die Kubaanse owerhede, terwyl hulle na plekke oral ter wêreld ontplooi is.”

Volgens Du Buisson kan ʼn mens maar net wonder of die Kubane dus hul ingenieurs ook as ʼn kommoditeit in ruil vir buitelandse valuta beskou. “Wat wel seker is, is dat die Suid-Afrikaanse regering hulle nie hierheen gebring het om ons waterprobleme op te los nie. Hulle is eerder hier om die ANC se verbintenis tot die kommunistiese ideaal te bevestig. Dit terwyl ons eie ingenieurs gereed staan om plaaslike probleme met plaaslike ervaring en kundigheid op te los,” sluit Du Buisson af.

Om die volledige verslag te lees, klik hier

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel