loading
avatar
Mediaverklarings
17 uur gelede
solidariteit-steun-ferrochroombedryf-en-eis-dringende-optrede-om-duisende-poste-te-beskerm

Foto Krediet: OkayDeer

Solidariteit steun ferrochroombedryf en eis dringende optrede om duisende poste te beskerm

Solidariteit het vandag by ’n openbare verhoor sy steun uitgespreek vir Glencore-Merafe en Samancor se aansoek by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) vir ’n spesiale elektrisiteitstarief van 62c per kWh. 

Die vakbond waarsku dat die voortbestaan van die plaaslike ferrochroombedryf en duisende werksgeleenthede op die spel is.

Volgens Solidariteit is dié voorgestelde tarief nie bloot ’n reddingsboei vir twee ondernemings nie, maar ’n noodsaaklike ingryping om ’n hele bedryf en talle gemeenskappe te beskerm.

Elektrisiteitskoste maak tans tussen 35% en 60% van totale produksiekoste in die smelterbedryf uit. Sonder verligting het beide Glencore-Merafe en Samancor aangedui dat hulle hul aanlegte sal moet sluit, wat onmiddellik tot sowat 4 000 direkte werksverliese kan lei. 

Die groter uitkringeffek in omliggende gemeenskappe en die voorsieningsketting kan meer as 35 000 poste raak.
Volgens Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, is die werklikheid veel groter as bloot twee maatskappye se balansstate.

“Die smelters is in talle dorpe – veral in Noordwes en Limpopo – die grootste werkgewers in hul onmiddellike omgewings. As hulle tot niet gaan, ly hele gemeenskappe daaronder. 

“Ons praat nie hier net van aanlegte nie. Ons praat ook van gesinne, dorpe en plaaslike ekonomieë in die geheel,” sê Venter.

Solidariteit wys daarop dat die groter ferrochroombedryf werksgeleenthede aan nagenoeg ’n halfmiljoen mense verskaf en dat Suid-Afrika se mededingendheid in die bedryf onder ernstige druk verkeer.

“Wat tans gebeur, is dat China ons erts invoer en dit met goedkoop gesubsidieerde elektrisiteit verwerk. Hulle druk dan ons smelterbedryf dood met ons eie grondstowwe. 

“Suid-Afrika kan nie bloot ’n uitvoerder van roumateriale word terwyl ander lande die waarde toevoeg en die voordele daarvan pluk nie,” sê Venter.

Solidariteit sê hy neem kennis van openbare besware dat spesiale tariewe uiteindelik deur gewone verbruikers gedra kan word. 

Maar hy beklemtoon ook die antwoord is nie om nywerhede prys te gee nie.

Eskom het ook die versekering gegee dat die verbruiker nie die totale las sal dra nie.

“Ons hoor die publiek se kommer en ons verstaan dit. Gewone verbruikers kan nie vir ewig die las dra nie. Daarom doen ons ’n dringende beroep op Eskom en die regering om aggressief op goedkoper opwekkingsmetodes te fokus. Daar is tegnologieë, soos kernkrag, wat elektrisiteit teen aansienlik laer koste kan opwek,” sê Venter.

Hy sê verder die huidige debat moet nie bloot oor ’n tydelike tarief gaan nie, maar oor die langtermynvolhoubaarheid van Suid-Afrika se groter industriële basis.

“Die 62c-tarief is ʼn noodsaaklike noodhulp. Maar die groter oplossing is ’n Suid-Afrika met bekostigbare, betroubare energie wat nywerhede laat groei, eerder as om hulle stadig dood te druk.”

Solidariteit spreek die hoop uit dat Nersa die groter ekonomiese en maatskaplike prentjie in ag sal neem, en die belang van die sektor vir werksekerheid, industriële kapasiteit en plaaslike gemeenskappe sal erken.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel