loading
Artikels
1 maand gelede
solidariteit-steun-privatiseringsinisiatief-van-welsynsorganisasies

Foto Krediet: Okay Deer

Solidariteit steun privatiseringsinisiatief van welsynsorganisasies

Solidariteit se maatskaplikewerkersnetwerk steun die denkwyse van  Faith Mazibuko, LUR vir sosiale ontwikkelinge, ten volle nadat sy gesê het dat welsynsorganisasies by die privaat sektor vir hulp moet aanklop, aangesien dit duidelik is dat die staat se finansiering onbetroubaar is.

Mazibuko het hierdie uitlatings op 22 Junie tydens ʼn konferensie in Sandton gemaak. Dié siening oor die staat se onbevoegdheid en die privaat sektor se hulp is ook bevestig tydens die onlangse krisisberaad wat Solidariteit in samewerking met Helpende Hand gehou het, waar dit weereens bevestig is dat die staat die mees kwesbare in Suid-Afrika in die steek laat.

Dit is egter vir die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk kommerwekkend dat die privaat sektor, wat reeds ʼn groot deel van die staat se inkomste voorsien, nou ook die staat se verantwoordelikhede moet oorneem.

“Die staat wat sukkel om self uit die skuld te kom, is onseker in hul vermoë om welsynsorganisasies te ondersteun in hul strewe na selfstandigheid,” noem Yvette Erasmus, netwerkorganiseerder van Solidariteit se maatskaplikewerkersnetwerk.

Volgens Erasmus kry welsynsorganisasies ongelukkig nie genoeg aandag in die media nie, omdat dit nie geld genereer of stemme werf nie.

“Dit maak hierdie sektor minder aantreklik vir staatsondersteuning, wat daartoe gelei het dat welsynsorganisasies dikwels hulleself na die hof moet wend vir reaksie,” sê sy. Die gebrek aan politieke wil is ʼn groot struikelblok in hierdie verband.

Solidariteit pleit die staat om sy werk te doen, en om die roeping en geloofwaardigheid van welsynsorganisasies te versterk.

“Deur die professie op te bou, sal hierdie organisasies meer geneig wees om by die privaat sektor vir hulp aan te klop,” sê Erasmus. Tans moet welsynsorganisasies vir ʼn klein persentasie van die begroting veg.

Alhoewel Solidariteit die idee van selfstandige projekte deur privaat organisasies ondersteun, moet die staat steeds aanspreeklik gehou word waar nodig.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel