loading
Artikels
1 week gelede
solidariteit-se-groot-vaardigheidsbank-nou-beskikbaar

Foto Krediet: Okay Deer

Solidariteit se groot vaardigheidsbank nóú beskikbaar

Deur Heléne Mocke

Solidariteit se eie vaardigheidsbank wat bestaan uit kundiges vanuit ʼn breë spektrum beroepe word nou ten behoewe van Suid-Afrika wyd beskikbaar gestel.

Hierdie lys van vaardige persone wat op Solidariteit se werkfasiliteringsplatform geregistreer is word uitgereik met die doel om die vaardigheidskrisis, in veral die openbare sektor van Suid-Afrika, die hoof te bied.

Dit is die gevolg van gesprekke wat Solidariteit op verskeie regeringsvlakke gevoer het oor tekorte van skaars vaardighede in Suid-Afrika. Die gesprekke is met openbare ondernemings sowel as met nasionale, provinsiale en plaaslike regerings gevoer. 

Volgens Solidariteit is werkskepping en meer geleenthede die uiteindelike doel van hierdie projek. Die aanlyn werkfasiliteringsaanbod wat Solidariteit op sy platform bied gaan hierdie vaardigheidsbank selfs nóg meer uitbrei.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is dit die grootste vaardigheidsmark in die land met die oog om die tekort aan skaars vaardighede hoofsaaklik in die openbare sektor, maar óók in die privaat sektor, aan te spreek.

“Al wat nou nodig is, is vir die verskillende sektore in Suid-Afrika om die vaardigheidsbank te benut. Dit is ter wille van Suid-Afrika se suksesvolle voortbestaan opgestel en bestaan uit Suid-Afrikaners wat ʼn bydrae wil lewer. Sover word dit goed deur die betrokke sektore ontvang.

“Ná die vorming van die regering van nasionale eenheid (RNE) móét daar immers samewerking tussen regeringsvlakke en die burgerlike samelewing volg. Die vaardigheidsbank staan natuurlik binne hierdie verhouding,” het dr. Hermann gesê.

Die vaardigheidslys wat Solidariteit in 2022 vir Eskom saamgestel het is ʼn bewys van die gehalte kennis wat onder Suid-Afrikaners bestaan en hierdie jongste lys kan nou in uitgebreide beroepsvelde ʼn verskil maak.

“Ons het ʼn lys van 300 kundiges aan Eskom verskaf wat ʼn presiese antwoord was op die kritieke vaardigheidstekorte in Eskom.

“Tog is daar meer uitdagings as net die kragkrisis in die land en ons wil op elke terrein deel wees van die oplossing,” het dr. Hermann voorts gesê.

Sedert 2022 het Solidariteit se vaardigheidsbank aansienlik uitgebrei sodat selfs groot maatskappye Solidariteit se aanlyn werkfasiliteringsplatform die afgelope tyd besoek het, op soek na mense met spesifieke skaars vaardighede.

Volgens Hermann is dié vaardigheidsbank ook een wat op meriete werk.

“Daar is talle swart, wit, bruin en Indiër persone met skaars vaardighede in die land. Almal hoort daar. Daar moenie enige rassereëls wees as ons na antwoorde soek wat die land gaan bevoordeel nie,” sê hy.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel