loading
Artikels
1 dag gelede
terapie-nee-therapaws

Foto Krediet: Solidariteit

Terapie? Nee, TheraPaws!

Deur Leré Nel

Soms het ʼn pasiënt net ietsie ekstra nodig. Iets wat ʼn dokter of verpleegkundige nie kan bied nie. Nie medisyne nie, maar eerder iets wat die pasiënt se gemoedstoestand kan verbeter. Enige mediese praktisyn weet dat ʼn goeie gemoedstoestand en emosionele welstand van kardinale belang vir ʼn pasiënt se beterskap is. Dit is juis waar Lindie Jenkins en haar TheraPaws-span kan help!

Wat is TheraPaws?

TheraPaws is die terapiehond-afdeling van Paws with Purpose SA – ʼn niewinsgewende organisasie wat mediese dienshonde en assistenthonde vir mense met fisiese en onsigbare gestremdhede oplei. TheraPaws bestaan uit ʼn groep gewone mense met ʼn buitengewone liefde vir diere. Die honde wat gebruik word, behoort nie aan TheraPaws nie, maar is die geliefkoosde troeteldiere van vrywilligers wat by die organisasie betrokke is. Alhoewel hierdie honde nie as dienshonde geklassifiseer word nie, word hulle deeglik vir goeie gedrag rondom mense, gehoorsaamheid en ʼn liefdevolle geaardheid geëvalueer.

TheraPaws besoek mediese instellings, aftreeoorde, nasorgsentrums, skole, ouetehuise, en selfs ondernemings (gewoonlik as deel van die onderneming se geestesgesondheidsprogram vir personeel). Enige instelling kan ʼn besoek van hulle versoek. “Ons is bereid om enige plek heen te gaan waar daar ʼn behoefte aan ʼn bietjie hondeliefde is,” vertel Jenkins. “Psigiatriese instellings en mediese instansies maak natuurlik ook gebruik van ons dienste in die vorm van een-tot-een- of groepsessies.”

Die waarde van terapiehonde

Jenkins vertel dat mediese organisasies bewus is van die terapeutiese waarde van honde, aangesien diere help om die fokus van die pasiënt te verskuif. In tradisionele terapiesituasies voel pasiënte dikwels asof hulle nog  geoordeel word, omdat hulle met ʼn ander mens gesels. Die pasiënte vind dit soms moeilik om hul volkome samewerking in die terapiesessie te gee.

“Wat ons keer op keer sien, is dat daar met terapiehonde geen oordeel is nie,” vertel Jenkins. “Hierdie honde het geen probleem om met enige mens kontak te hê nie, ongeag hul agtergrond, uitdagings, mediese toestand of rede vir terapie. Vir die honde is dit net lekker om by jou te wees. En dít is dikwels wat groot deurslag in ʼn sessie gee.”

Hoe werk die sessies?

TheraPaws bied groepsessies, sowel as een-tot-een-sessies aan. Die groepsessies is gewoonlik informeel en ongestruktureerd – die doel is om pret te hê. Hulle bring die honde na die instelling sodat die pasiënte met hulle kan speel, vryf, soene en drukkies gee en sommer net die vreugde van hulle teenwoordigheid ervaar. Die een-tot-een-sessies werk ʼn bietjie anders. ʼn Pasiënt spandeer tyd met ʼn hond wat spesifiek vir hulle uitgekies is, omdat hul geaardheid by die pasiënt se behoeftes pas. Hierdie soort sessie vorm dikwels deel van ʼn terapeutiese proses, waar die hond as ʼn hulpmiddel gebruik word om die persoon met hul beterskap te ondersteun.

Hoe kan jy betrokke raak?

Indien jy in ʼn sessie vir jouself, iemand anders of vir ʼn instelling belangstel, kontak gerus Paws with Purpose by info@pawswithpurpose.co.za of skakel 082 900 920.

Jenkins moedig enigiemand met ʼn liefde vir diere aan om ʼn vrywilliger by TheraPaws te word. Jy kan aansoek doen deur Paws with Purpose te kontak en jou hond te laat evalueer vir goeie gedrag en gehoorsaamheid. “Dit is regtig só ʼn spesiale geleentheid om saam met jou geliefde troeteldier ʼn verskil in iemand se lewe te kan maak.”

Bly ingeskakel by Solidariteit se Doktersnetwerk en Verpleegnetwerk vir nog interessante inligting rakende jou beroep.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel