Afrikaans

English

loading
Mediaverklarings
6 jaar gelede
solidariteit-takel-sapd-oor-mk-bevorderingsprojek

Solidariteit takel SAPD oor MK-bevorderingsprojek

Die vakbond Solidariteit het vandag bekend gemaak dat hy ʼn dringende aansoek in die Noord-Gautengse Hooggeregshof teen die Suid Afrikaanse Polisiediens (SAPD) geloods het weens laasgenoemde se beweerde ongrondwetlike en diskriminerende hergradering of bevordering van huidige en oud-MK lede.  In die aansoek vra Solidariteit dat die SAPD alle inligting ten opsigte die NSF-projek (“Non-Statutory Forces”-projek) blootlê.

Dit volg nadat die SAPD ʼn proses begin het om sekere militêre veterane selektief onder die NSF-projek te hergradeer en te bevorder.  Volgens Anton van der Bijl, hoof van Arbeidsregdienste by Solidariteit, ontvang slegs die lede wat deel vorm van die nie-statutêre magte (of die sogenaamde “vryheidsvegters”) sekere pensioenvoordele en bevorderings of hergraderingvoordele, terwyl lede wat deel vorm of gevorm het van die gewone statutêre magte, soos byvoorbeeld die weermag, nie dieselfde voordele ontvang nie.

Van der Bijl sê voorts dat dié projek neerkom op naakte rassisme en dat dit verdere verdeeldheid in ʼn reeds verdeelde land saai.  “Die projek wat slegs sekere individue van voordele voorsien omdat hy of sy ʼn sekere politieke affiliasie en agtergrond het, kom neer op blatante rassisme en dit kan nie geduld word nie.  Dit was nooit die doel van die Grondwet en ander wetgewing nie en dit druis in teen verskeie internasionale konvensies wat deur Suid-Afrika onderteken is,” het Van der Bijl gesê.

Volgens Schalk de Bruin, adjunkhoofsekretaris by Solidariteit, is die vakbond genoodsaak om die hof te nader, aangesien die SAPD stilweg voortgaan met die implementering van die projek.  “Daar word verkondig dat die projek nog in ʼn onderhandelingsfase is, maar die SAPD steur hom nie daaraan nie.  Daar is nog glad nie met al die relevante partye, insluitend Solidariteit en sy lede, gekonsulteer nie.  Dit is weereens vir ons duidelik dat die SAPD slegs ʼn uitverkore groep werknemers se belange bevorder ten koste van ander.  Ons dra die belange van alle loopbaangerigte polisielede op die hart, en daarom gaan ons voort om vir ons lede in die SAPD te veg,” het De Bruin saamgevat.

 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel