Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
1 dag gelede
solidariteit-verwerp-rasbeheptheid-tydens-onderhoud

Foto Krediet: ChatGPT

Solidariteit verwerp rasbeheptheid tydens onderhoud

Die Solidariteit Regsnetwerk verwerp die afstootlike rassefokus waaraan regter Evette Dippenaar tydens haar onderhoud deur die Regterlike Dienskommissie (RDK) onderwerp is.

Dié onderhoud, wat Dinsdag plaasgevind het, waarin regter Dippenaar aansoek gedoen het vir ’n pos in die mededingingsappèlhof, is volgens mediaberigte oorheers deur vrae oor transformasie en ras, eerder as noodsaaklike vrae oor haar regskennis, vaardighede, ervaring en algemene geskiktheid vir die pos.

Riaan Visser, hoof van die Solidariteit Regsnetwerk, waarsku dat hierdie benadering die integriteit en onpartydigheid van die regsbank in gedrang bring.

“Solidariteit se Regsnetwerk handhaaf en bevestig dat rassekommentaar vanaf die regsbank en binne die regterlike besluitnemingsraadsale totaal onvanpas is en nie in lyn is met die onpartydigheid van ons regsbank nie,” sê Visser.

Tydens die onderhoud het adv. Tembeka Ngcukaitobi SC herhaaldelik klem gelê op die gebrek aan transformasie binne die regsveld, spesifiek onder praktisyns wat handelsmisdaad- en insolvensiesake hanteer.

Die gesprek het gespanne geraak toe Ngcukaitobi Dippenaar se antwoorde bevraagteken en hy haar daarvan beskuldig het dat sy die gevolgtrekking van rassisme weerstaan.

“Solidariteit se Regsnetwerk is ongelukkig en teleurgesteld in die aanhoudende rasse-aanval op regters tydens hulle onderhoude, en spesifiek in die geval van regter Dippenaar. Hierdie rasideologie vanuit die geledere van die RDK-lede is onaanvaarbaar,” sê Visser.

Hierdie voorval volg kort op ’n soortgelyke omstredenheid waar regter Mandlenkosi Percival Motha aangekla is oor sy uitsprake rakende die rassesamestelling van advokate wat voor hom verskyn.

Solidariteit het reeds in 2024 ’n klag by die RDK ingedien, wat intussen amptelik aanvaar is deur die waarnemende voorsitter van die RDK, adjunkhoofregter Mlambo, en verwys is vir verdere ondersoek.

Volgens Visser is daar ’n kommerwekkende tendens waar ras toenemend ’n sentrale rol speel in die beoordeling van regslui, wat die grondbeginsel van onpartydigheid in die regsbank ondermyn.

“Ons regsbank is juis veronderstel om onpartydig en sonder vrees te funksioneer, maar die aanhoudende aanval op regslui oor ras, rassesamestelling en ras in bestuursposisies is gevaarlik vir die toekoms van die regsberoep,” sê hy.

Solidariteit se Regsnetwerk staan ook tans die omstrede SEB-sektorkodes teen, waar die vrystellingsdrempel na ʼn omset van R5 miljoen verlaag is, wat beteken dat baie kleiner regsfirmas nou aan streng rasvereistes moet voldoen.

Die kodes stel bindende teikens vir eienaarskap (50% swart), bestuursbeheer, vaardigheidsontwikkeling en voorkeurverkryging, wat ʼn wesenlike impak op die werking van firmas en die beroep as geheel kan hê.

“Hierdie sektorkodes is weereens net nog rasbeheptheid wat binne die regsberoep verteenwoordig word,” voeg Visser by.

Die Solidariteit Regsnetwerk doen ’n beroep op die RDK en ander rolspelers in die regsbank om terug te keer na beginsels van meriete, regverdigheid en onpartydigheid, en om weg te beweeg van ’n benadering waar ras die oorheersende faktor is in kritieke aanstellingsprosesse.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel