Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit vra SA regering om dringend op VSA-eise te reageer
Solidariteit is bekommerd oor die Amerikaanse regering se aankondiging dat die befondsing van die Pepfar-program gestaak gaan word. Dit is volgens Solidariteit ʼn direkte gevolg van die Suid-Afrikaanse regering se onvermoë om die afgelope sewentien maande op geskilpunte tussen die VSA en Suid-Afrika te reageer.
Februarie verlede jaar het die Trump-administrasie sy kommer oor verskeie kwessies in Suid-Afrika uitgespreek. Sedertdien was daar talle gesprekke en prosesse om die geskil by te lê en Solidariteit het ook nou geskakel met die Suid-Afrikaanse regering, die Amerikaanse regering en die nuwe Amerikaanse ambassadeur om voorstelle te maak oor werkbare oplossings vir die geskil. Solidariteit se voorstelle handel onder andere oor landelike veiligheid, eiendomsreg, rassewette en Suid-Afrika se buitelandse beleid.
Volgens Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, lyk dit egter of die Suid-Afrikaanse regering water trap om die geskil by te lê. “Terwyl president Ramaphosa en sy span blykbaar hoop dat die geskil vanself sal weggaan of dat hulle bloot die termyn van die huidige Amerikaanse administrasie moet uitsien, is daar ’n groot risiko dat meer maatreëls soos die beëindiging van befondsing, handelstariewe en selfs sanksies gewone Suid-Afrikaners nadelig kan raak. Dit is Suid-Afrikaanse werkers en gewone burgers wat die prys betaal vir die swak verhouding tussen die twee lande, en daar moet dringend ʼn oplossing hiervoor gevind word.”
Volgens Solidariteit is dit duidelik dat die Amerikaanse regering sy druk op die Suid-Afrikaanse regering wil verhoog. “Dit is egter jammer dat dit deur die verlies aan Pepfar-befondsing kom. Ons is ook bekommerd oor invoertariewe op Suid-Afrikaanse goedere en die risiko dat dit in die toekoms selfs nog kan verhoog. ’n Omvattende ooreenkoms tussen die twee lande se regerings is nou nodig en die afgelope maande se onderhandelinge het bewys dat met die nodige politieke wil ’n ooreenkoms binne reikafstand is. Die aankondiging oor die beëindiging van die Pepfar-befondsing behoort die regering nou aan te moedig om dringend gesprekke met die Amerikaanse regering te hervat.
Intussen vergader Solidariteit gereeld met die twee lande se regerings. “Solidariteit is verbind tot die vind van ʼn onderhandelde skikking. Terwyl die Pepfar-befondsing belangrik is, is ’n goeie handelsooreenkoms, die verlenging van die Agoa-ooreenkoms en ’n verhouding wat bevorderlik is vir Amerikaanse beleggings in die Suid-Afrikaanse ekonomie nou nodig,” aldus Kleynhans.