
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Solidariteit wen hofsaak teen regering oor invoer van Kubaanse ingenieurs
Nóg ’n belangrike hofuitspraak is in Solidariteit se guns beslis – hierdie keer ná ’n hofstryd van nagenoeg drie jaar teen die regering se onregmatige aanstelling van Kubaanse ingenieurs in Suid-Afrika.
Hierdie peperduur aanstellings wat die destydse minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, in 2020 gemaak het, is Vrydag deur die Noord-Gautengse hooggeregshof as onwettig verklaar.
Sisulu en haar departement is in daardie jaar voor die hof gedaag toe Solidariteit die besluit veroordeel het om hierdie buitelandse ingenieurs ten duurste hierheen te bring om aan waterinfrastruktuur te werk.
Dit was onder meer omdat dit teenstrydig was met die vereiste prosedures wat die regering moes volg om sulke vaardige werknemers se dienste te bekom. Die aanstellings is verder as onnodig en oneties beskryf – ook omdat Suid-Afrikaners wat reeds onder werkloosheid gebuk gaan, eenvoudig ter wille van duurder buitelandse werkers oor die hoof gesien is.
Verder is vasgestel dat die meeste van die geld wat deur die departement as vergoeding ooreengekom is, nie na die Kubaanse ingenieurs se sakke sou gaan nie, maar aan die Kubaanse regering oorgedra sou word.
Volgens Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, was hierdie aangeleentheid nóg ’n skokkende geval van ’n ANC-rekening waarvoor Suid-Afrikaanse belastingbetalers sou moes pa staan.
Die 25 ingenieurs het Suid-Afrikaners volgens ’n destydse berekening nagenoeg R75 miljoen gekos.
“Danksy Solidariteit se toetrede is nog grootskaalse en blatant onnodige verkwisting ontbloot.
“Tog is dit jammer dat dit nodig moes wees om weereens deur middel van duur hofprosesse in te gryp. Dit wys maar net weer hoe die regering se eie belange veel swaarder weeg as die belange van gewone Suid-Afrikaners.
“Hulle was weereens bereid om Suid-Afrikaners se vooruitgang op te offer – hierdie keer ter wille van ’n ideologiese bedmaat, naamlik Kuba,” sê Van der Bijl.
Volgens die hofuitspraak is die gesegde “liefdadigheid begin by die huis” gepas in hierdie saak, en die wyse waarop hierdie ingenieurs, aangestel is, is as onwettig verklaar.
Die regering se versuim om eerstens plaaslike ingenieurs vir waterinfrastruktuurprojekte te raadpleeg, word sodoende uitgelig. Die departement se aansprake dat die Kubane oor skaarser vaardighede en meer ervaring as Suid-Afrikaanse eweknieë beskik, is op geen tydstip bewys nie.
Die departement moet in die toekoms die behoorlike prosesse gehoorsaam met die aanstel van staatsdienswerkers en óók waar werkers van Kuba ter sprake kom.
Sien die uitspraak hier.