loading
Artikels
3 maande gelede
solidariteit-wen-saak-oor-vals-rassisme-namens-sapd-lid

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit wen nóg ʼn saak oor vals rassisme namens SAPD-lid

Deur Heléne Mocke

ʼn Lid van Solidariteit het meer as R230 000 in vergoeding ontvang nadat ʼn kollega haar valslik van rassisme beskuldig het. Anzari Fourie, ʼn luitenant-kolonel in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), was die slagoffer van onder meer viktimisasie, intimidasie en diskriminasie in die werkplek.

Die SAPD het ʼn ondersoekbeampte aangestel om vas te stel of die lid haar aan enige wangedrag skuldig gemaak het – soos dit waarvan haar kollega haar beskuldig het.

Volgens Karla Endres, ʼn litigant by Solidariteit, was die uitkoms van die ondersoek dat die lid haar nie skuldig gemaak het aan enige wangedrag of rassistiese optrede nie.

“Die SAPD het geweier om hierdie bevinding te aanvaar, en het besluit om wéér ʼn ondersoek in te stel. Fourie is intussen ook dissiplinêr aangekla. Sy is skuldig bevind op al die aanklagte met geen billike verduideliking of bevindinge nie,” sê Endres.

Die oorspronklike ondersoekbeampte het reeds bevind dat daar geen konkrete bewyse was van rassisme teenoor die kollega wat haar daarvan beskuldig het nie, maar die SAPD het nietemin besluit om haar te skors.

Solidariteit het vinnig ingetree om Fourie by te staan en het ʼn saak namens haar by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) aanhangig gemaak. Die KVBA het die saak aangehoor en tot die gevolgtrekking gekom dat die lid haar inderdaad nie aan rassisme skuldig gemaak het nie en dat die lid se regte verder geskend is toe sy weens ongegronde redes geviktimiseer en geskors is.

Die KVBA het die SAPD beveel om die lid met meer as R230 000 te vergoed vir die onreg wat sy moes verduur.

Die oorwinning in hierdie saak behoort ʼn sterk boodskap aan werkgewers landwyd te stuur dat diskriminasie weens ongegronde beskuldigings van rassisme nie geduld sal word nie.

Solidariteit staan gereed om die regte van sy lede te beskerm waar enige situasie van hierdie aard ook al mag ontstaan. Sluit vandag nog by Solidariteit aan om werkbeskerming in jou werkplek te geniet.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel