loading
Mediaverklarings
5 dae gelede
soveel-redes-om-bela-in-die-bek-te-ruk-solidariteit

Foto Krediet: Okay Deer

Soveel redes om Bela in die bek te ruk – Solidariteit

Suid-Afrikaners van alle agtergronde gaan die prys betaal sou die president ondeurdag voortbeur met die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela). Dié wet is voor die deur en kan binne 48 uur ʼn werklikheid word.
Solidariteit maak veral kapsie oor pogings om besluitneming rakende die taal- en toelatingsbeleid van skole grootliks aan regeringsamptenare oor te dra, maar die kommer strek selfs verder.
Intussen het die verwagte hoë koste wat met die implementering van die Bela-wetsontwerp gepaard gaan, aan die lig gekom. Dit bied nóg ʼn geldige rede waarom die wysigingswetsontwerp ʼn slegte idee is en waarom Pres. Ramaphosa wys sou wees om téén die wysigingswetsontwerp te besluit. Solidariteit bestempel die as ʼn rooi lyn en sal indien nodig massa-litigasie begin sou president Ramaphosa die wet onderteken.
Johan Botha, hoof van die Solidariteit Onderwysernetwerk, sê die feit dat die nasionale tesourie byvoorbeeld nie vir die wysiging rakende ʼn verpligte graad R begroot het nie, toon ʼn duidelike gebrek aan visie en beplanning met die Bela-wetsontwerp as geheel.
“Die wete dat daar eenvoudig nie geld vir die Bela-wetsontwerp is nie, behoort klaar genoeg rede te wees om die hele ding in die kiem te smoor. Die gedagte rondom ʼn verpligte graad R is nie een waarteen ons noodwendig gekant is nie, maar dan moet daar ten minste geld wees om dit te kán implementeer.
“Natuurlik is die feit dat die konsep gegrond is op ideologie wat tot ʼn aanslag op funksionele Afrikaanse skole sal lei, vir ons ʼn veel groter bekommernis. Dit is iets wat ons met alles in ons vermoë sal teenstaan, want dit sal ons hele onderwyslandskap skade berokken,” sê Botha.
Volgens Botha gee die gebrek aan finansiële beplanning ʼn idee van hoe min daar vir die gevolge beplan is – ook wat die wysigings aan taal- en toelatingsbeleid betref.
“Tog sal agt uit nege provinsies hulle ANC-meerderheid straks eerbiedig deur aan te dui hulle wil ten gunste van die Bela-wetsontwerp in die NRP stem. Hulle gee nie om dat sommige van die wysigings nie vir enige Suid-Afrikaner voordelig is nie.
“Solidariteit sal beslis ook die koste-implikasies van die Bela-wetsontwerp in sy litigasie uitwys, sou die wetsontwerp onderteken word. Die wetswysigings is heel duidelik finansieel en prakties skadelik vir ons land en sy mense,” sê Botha.
Die Solidariteit Onderwysernetwerk hoop hierdie werklikhede word in ag geneem wanneer Pres. Ramaphosa besluit om die wet onderteken. Bombardeer die president se inboks met jou klagte. Klik hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel