
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Staal op dun ys: ArcelorMittal-sluiting laat ʼn gemeenskap steier
Nóg ʼn tydelike reddingsboei vir die staalaanlegte van ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) het nuwe hoop aan duisende gesinne gegee wie se toekomsvooruitsigte ten nouste met die voortbestaan van die Amsa-aanlegte verweef is. Lees meer hieronder.
Pieter Jordaan
Maar is daar werklike hoop, of is hierdie reddingsboei net nog vals hoop wat tot groter teleurstelling vir die werknemers gaan lei?
Willie Venter, adjunkhoofsekretaris vir die staal- en ingenieurswesebedryf by Solidariteit, sê alhoewel die R1,7 miljard-hulppakket verwelkom word, daar na afloop van die hulptydperk van ses maande, wat aan die einde van Augustus 2025 verstryk, ʼn volhoubare en werkbare alternatief móét wees.
Andersins wag nóg trane vir soveel gesinne en veral vir die gemeenskap van Newcastle in KwaZulu-Natal waar Amsa ʼn sleutelrol in die ekonomie speel.
“Uit ons gesprekke met Solidariteit-lede kan ons die ernstige impak van die moontlike sluitings bevestig. Op plekke soos Newcastle, waar die sluiting van aanlegte oorweeg word, het dit ʼn wesenlike impak op die werknemers en die gemeenskap. Dit gaan hier oor werknemers met gesinne en daar is besighede wat verdere besigheid met Amsa doen wat op hulle beurt ook weer werk vir ander bied.
“Dit is ʼn gemeenskap wat staatmaak op die besteding van hierdie werknemers se inkomste in die plaaslike ekonomie. Dit sal uiters slegte nuus vir die plaaslike gemeenskap wees as Amsa voortgaan om die aanleg te sluit,” sê Venter.
Hy beklemtoon ook die emosionele impak wat die dreigende sluiting op werknemers het.
“In die terugvoer wat ons vanaf lede ontvang, word veral drie dinge uitgesonder: die moraal van die betrokke werknemers, is baie laag; vertroue in die bestuur van Amsa – die bestuur van sowel die aanlegte as van Amsa in sy geheel – is ook baie laag aangesien afleggings so gereeld oorweeg word; en dan is toekomsvooruitsigte negatief want so ʼn groot skuif moet plaasvind voordat ʼn volhoubare toekoms ʼn werklikheid kan word,” verduidelik Venter.
Daarom het Solidariteit reeds ʼn hulpplan opgestel wat in werking sal tree sodra dit duidelik word dat sluiting en afleggings onafwendbaar is.
Dié plan sluit in ondersteuning aan diegene wat geraak word deur Solidariteit se beroepsnetwerke en geleenthede en die verlening van hulp met aansoeke op Solidariteit se aanlyn werkfasiliteringsplatform. Dit sal ook emosionele bystand aan individue, gesinne en die gemeenskap insluit.
Kyk hier na Venter se volledige gesprek met Pieter Jordaan oor Amsa se wankelende langstaalaanlegte en die impak daarvan op werknemers en Solidariteit-lede.