![staatsrede-2025-nog-n-verspeelde-kans-om-van-skadelike-beleid-af-te-sien](https://cms.solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2025/02/Promo-Facebook-Facebook-link-image-7.jpeg)
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Staatsrede 2025: Nóg ʼn verspeelde kans om van skadelike beleid af te sien
President Cyril Ramaphosa se staatsrede kan volgens Solidariteit beskou word as nóg ʼn verspeelde kans om af te sien van hardnekkige, vernietigende ANC-beleid.Talle van Ramaphosa se uitsprake verteenwoordig nie beleid wat uit die breër RNE afkomstig is nie en wys hoe groter politieke onstabiliteit moontlik Suid-Afrika se voorland is. Lees meer hieronder.
President Cyril Ramaphosa se staatsrede kan volgens Solidariteit beskou word as nóg ʼn verspeelde kans om af te sien van hardnekkige, vernietigende ANC-beleid.
Talle van Ramaphosa se uitsprake verteenwoordig nie beleid wat uit die breër regering van nasionale eenheid (RNE) afkomstig is nie en wys hoe groter politieke onstabiliteit moontlik Suid-Afrika se voorland is.
Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), kon Ramaphosa nie daarin slaag om homself as ʼn leier vir alle burgers van Suid-Afrika voor te doen nie.
“Hierdie was ʼn geleentheid vir Ramaphosa om ’n leier vir die hele land te wees en tog het hy eerder vir Luthuli-huis gekies. Suid-Afrika het in die 2024-verkiesing duidelik téén die ANC se beleid gekies, maar die ANC het blykbaar nog nie daardie boodskap gekry nie.
“Die president sien die RNE skynbaar nog as ʼn voertuig om ANC-beleid deur te voer eerder as iets waarmee Suid-Afrika ʼn nodige nuwe koers kan inslaan,” sê Mulder.
Wat veral kommer wek is die plan om ʼn rassefonds van R100 miljard onder die dekmantel van transformasie en ekonomiese inklusiwiteit op die been te bring.
Hierdie transformasiefonds wat volgens vroeëre onthullings op finansiering vanuit die privaat sektor sal staatmaak, het glo ten doel om ondernemings volgens streng rassekriteria te klassifiseer en te ondersteun. Ramaphosa het aangedui dat sowat R20 miljard per jaar oor vyf jaar hiervoor bewillig moet word.
“Daarmee saam word die regering se verbintenis tot rigiede rasbeleide opnuut versterk en dit is iets wat Solidariteit sal moet beveg.
“Gegewe ons geskiedenis met sulke hulpfondse is daar ongelukkig ʼn groot moontlikheid dat hierdie fonds nóg voer in die kadertrog gaan word,” sê Mulder.
Die president het geen groter duidelikheid oor die finansiering van die Nasionale Gesondheidsverskeringskema verskaf nie, maar het wel onderneem om die gesondheidsorgstelsel as ʼn saak van prioriteit met, onder meer, die bou van nuwe hospitale en klinieke te versterk.
In sy ietwat vae opmerkings oor die Wysigingswet op Basiese Onderwys (Bela) as ʼn gereedskapstuk vir toegang tot moedertaalonderrig het hy minstens verwys na regulasies, norme en standaarde wat éérs ontwikkel moet word alvorens die implementering van die klousules oor taal en toelating plaasvind. Dit laat hopelik die nodige ruimte vir Solidariteit se voorwaardes oor die beskerming van Afrikaans om vervat te word.
Mulder het verskeie ander goeie voorneme in die staatsrede uitgelig, soos die strewe na vennootskappe met die privaat sektor, die versterking van die speurdiens en die opknap van stedelike sakegebiede .
Solidariteit verwelkom ook die verbintenis tot groter fokus op hervorming van die energiestelsel en op die waterkrisis wat Suid-Afrika in die gesig staar. Die planne om Suid-Afrika se waterinfrastruktuur op te knap behoort inderdaad ‘n prioriteit te wees.