
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Tienertruuks vir oorlewing: ʼn Gids tot selfontdekking en veerkragtigheid
“Tienertruuks vir oorlewing is nie net nog ʼn joernaal nie, dis ʼn spieël, ʼn gids en ʼn veilige ruimte vir jong mense om hulself beter te leer ken – en ook lief te hê.” Bemagtig jou kind om die lewe se uitdagings met selfvertroue te trotseer, omdat hulle veilig is in hul eie identiteit.
Deur Lize-Mari Verster
Die tienerjare is ʼn warrelwind van verandering, ontdekking en soms oorweldigende uitdagings. Om jong mense toe te rus met die nodige vaardighede om hierdie vormingsjare met selfvertroue aan te pak, het dr. Serahni Symington (PhD Sielkunde) die joernaal, Tienertruuks vir oorlewing, saamgestel. Hierdie insiggewende “nadinkboek” is propvol praktiese doendinge en dinkdinge wat tieners help om hul identiteit te verken, hul sterkpunte te ontdek en, bowenal, vir hulself op te staan en van hulself te hou.
Wat maak dié joernaal anders?
Die joernaal neem tieners op ʼn reis van selfontdekking, beginnende by die belangrikheid van identiteitsverkenning – om te verstaan wat ʼn mens uniek maak, insluitend waardes, oortuigings en talente. Deur te fokus op persoonlike, interpersoonlike, akademiese en fisieke sterkpunte, bemagtig die gids jong mense om hul unieke eienskappe te herken en te waardeer, en sodoende ʼn gesonde selfbeeld te bevorder. Die definisie van persoonlike waardes word aangebied as ʼn kompas wat help met besluitneming en om te onderskei wat werklik saak maak.
Een van die kernboodskappe is die kuns om vir jouself op te staan, veral in moeilike situasies. Die joernaal beklemtoon die stel van grense as ʼn praktiese manier om selfrespek te handhaaf en om te voorkom dat ʼn mens in groepsdruksituasies beland wat teen jou waardes indruis. Dit bied konkrete voorbeelde van persoonlike, emosionele, sosiale, akademiese en tegnologiese grense. Groepsdruk word direk aangespreek, met wenke oor hoe om “nee” te sê sonder om sleg te voel, en hoe om ʼn ondersteunende “tribe” of binnekring te kies. Strategieë om met selfvertroue op afknouery te reageer, word ook uiteengesit, met die klem op selfversekerdheid en die belangrikheid daarvan om met ʼn vertroueling te praat.
Emosionele intelligensie en die digitale wêreld
Verder ondersoek die joernaal die krag van emosionele intelligensie – die vermoë om jou eie en ander se emosies te verstaan en te bestuur. Dit sluit praktiese wenke in soos om emosies dop te hou, empatie te beoefen en konstruktief op kritiek te reageer. Die belangrikheid van insluiting, eerder as uitsluiting, word ook beklemtoon.
In vandag se digitale era is gesonde sosialemediagebruik en die “vrees om iets mis te loop” (FOMO) van kardinale belang. Die joernaal bied riglyne om outentiek te bly, vergelyking te vermy, negatiewe invloede te bestuur en grense vir sosialemediagebruik te stel. Stresbestuur in ʼn besige wêreld word ook gedek, met praktiese raad oor beplanning, gesonde gewoontes en die belangrikheid van genoeg slaap en ontspanning. Die onvermydelike ervarings van verwerping en mislukking word genuanseerd benader, en tieners word aangemoedig om dit as leergeleenthede te sien en veerkragtigheid te bou.
Laastens lei die joernaal tieners deur die proses van toekomsbeplanning – van die stel van korttermyndoelwitte vir die huidige jaar tot langtermynvisies vir vyf jaar vooruit en tot in volwassenheid. Dit sluit af met die skep van ʼn persoonlike motiveringsplan, wat interne en eksterne dryfvere kombineer om drome haalbaar te maak.
Deel van Solidariteit se visie
Solidariteit verstaan dat die toerusting van jong mense met sulke lewensvaardighede fundamenteel is vir die bou van ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms. Hierdie joernaal sluit aan by Solidariteit se Skoliere-aanbod, wat daarop gemik is om leerders te ondersteun en te bemagtig op hul opvoedkundige en persoonlike ontwikkelingspad. Deur hierdie tienertruuks te bemeester, word jong mense nie net vir die uitdagings van vandag voorberei nie, maar word hulle ook bemagtig om die leiers en bouers van môre te word.
As ʼn ouer en internasionaal geakredditeerde lewensafrigter, glo Felicia Richardson, spesialis by Solidariteit se Skoliere-aanbod, self in die krag van selfbewustheid en wens sy dat elke tiener toegang tot so ʼn hulpmiddel kan hê: “Tienertruuks vir oorlewing is nie net nog ʼn joernaal nie, dis ʼn spieël, ʼn gids en ʼn veilige ruimte vir jong mense om hulself beter te leer ken – en ook lief te hê. Dit gee ʼn stem aan emosies, help met grense stel, en leer tieners dat hulle nie magteloos in die wêreld is nie. Hulle is vandag reeds deel van dit wat vir môre gevorm en gebou word. Dis lekker inhoud – eerlik en prakties – iets wat ek glo elke hoërskoolleerder moet hê.”
Vir meer inligting oor hoe Solidariteit jou op jou hoërskoolpad kan ondersteun, klik hier. Hierdie joernaal is ʼn waardevolle hulpbron vir elke tiener wat daarna streef om hulself beter te verstaan en met selfvertroue hul plek in die wêreld in te neem.