Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Sterre in die Gemeenskap: Ontmoet die roepingsgedrewe werkers
Deur Heléne Mocke
Solidariteit se Sterre in die Gemeenskap-glansgeleentheid het weereens buitengewone mense in alledaagse beroepe op ʼn besonderse wyse vereer.
Hierdie toekennings, waar werknemers vir hulle unieke bydrae aan gemeenskappe bekroon word, het op Donderdagaand 5 Desember in Pretoria plaasgevind.
Buiten die bekronings was dit ook ʼn aand waartydens daar aan toekomsdrome gebou is.
ʼn Skenking van meer as R19 000 000 is aan die Solidariteit Helpende Hand Studietrust oorhandig om toegewyde jong mense se studiedrome deur middel van rentevrye studiebeurslenings te bewaarheid.
Nóg ʼn skenking van meer as R30 000 000 is aan Solidariteit se opleidingsinstellings oorhandig om sodoende nóg Afrikaanse leef- en leerruimtes vir jong mense te bou.
“Hierdie is moontlik danksy Solidariteit se lede en ondersteuners,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Die Sterre in die Gemeenskap-toekenningsgeleentheid is al vir die afgelope paar jaar ʼn hoogtepunt in die gemeenskap. Elke individu wat vir ʼn toekenning benoem is, word nie net in sy of haar eie hoedanigheid vereer nie, maar verteenwoordig die honderde ander wat hul gemeenskap met dieselfde onbaatsugtige diens dien en vir wie Solidariteit nie kon vereer nie omdat baie van die dade eenvoudig ongesiens plaasvind.
Die onderskeie wenners is deur ʼn nominasie- en stemproses aangewys en is ingedeel volgens die Solidariteit-beroepsnetwerke waaraan hulle behoort:
Die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk se #Kantoorkampioen-wenner vir 2024 is Berné Grobler; die Solidariteit Ambagnetwerk se wenners is die #JouYster-wenner Stephen Bothma; en die #JouYster-studiebeurswenner is Brandon Crous. Die #JongYster vir 2024 is Daru Pretorius en die #JongReus vir 2024 is T.J. van Eeden.
Die onderskeie kategorieë vir die Solidariteit Onderwysernetwerk se Onderwyser van die Jaar-kompetisie is die wenners soos volg: Kleuterskoolonderwyser van die Jaar is Lerine Roberts; Laerskoolonderwyser van die Jaar is Adriaan Pretorius; en Hoërskoolonderwyser van die Jaar is Johan Nolte.
Besonderse uitblinkers is met eretoekennings vereer: Dr. Angelique Coetzee vanuit die Solidariteit Doktersnetwerk, dr. Alida du Plessis-Faurie vanuit die Solidariteit Verpleegnetwerk; Ruan Wepener vanuit die Solidariteit Regsnetwerk; en Durandt Serfontein vanuit die Solidariteit Finansiesnetwerk.