loading
Artikels
22 uur gelede
student-vermy-hierdie-vyf-foute-in-jou-cv

Foto Krediet: OkayDeer

Student, vermy hierdie vyf foute in jou CV

Deur Kyla-Ann du Toit

Solidariteit se Studente-aanbod help studente om ʼn CV van topgehalte op te stel. Tog sien ons telkens dieselfde foute wanneer ons deur CV’s blaai. Ons verstaan dat jou eerste CV moontlik voel asof jy jou hele lewe op een bladsy moet probeer vasvat. Gelukkig hoef dit nie so moeilik te wees nie. Ons help graag!

Daar is beslis ʼn regte manier om jou CV op te stel, en dan is daar hierdie vyf foute wat jy liewer moet vermy:

1. Van jou graad 1-erkenningsertifikaat tot matriek-netbaltrofee

Studente is geneig om te veel skoolprestasies in hul CV te lys. Dit is oulik dat jy ʼn sertifikaat vir netjiese handskrif in graad 3 ontvang het, maar dit hoort nie op jou CV nie. Sommige mense lys amper elke prestasie van graad 1 tot matriek. Dit is nie nodig nie.

Werkgewers wil weet waarmee jy nóú besig is – nie dit wat jy op skool gedoen het nie. Fokus dus op relevante en onlangse prestasies en inligting.

2. ʼn Lys van al jou vakke

Onnodige inligting is juis dit – onnodig! Jy hoef nie al jou skool- én universiteitsvakke in jou CV te lys nie. Byvoorbeeld, as jy BCom studeer het, weet die maatskappy reeds watter vakke daarmee gepaard gaan. Gebruik daardie spasie eerder vir ervaring, projekte of vaardighede wat jou laat uitstaan.

3. Te veel persoonlike inligting

Glo ons: Ons het al CV’s gesien waar stories van goudvisse, disse wat hulle kan kook en die hele familiegeskiedenis gedeel word. As die inligting nie relevant tot die werkaansoek is nie, los dit eerder uit. Hou jou CV professioneel en lys slegs relevante inligting!

4. Jou volledige huisadres

Moenie jou volledige adres op jou CV sit nie. Jou woonbuurt of dorp is voldoende. As jy jou CV op verskeie werksoek-webtuistes plaas, kan ʼn volledige adres, jou selfoonnommer, e-posadres en foto ʼn veiligheidsrisiko inhou. Hou dit veilig en eenvoudig. Daar is vreemde mense daarbuite!

5. Los die “selfies” vir Instagram

As jy ʼn foto op jou CV wil voeg, maak seker dit is professioneel. Vermy foto’s van jou by ʼn partytjie, by die dam met jou vangs van die dag of in die “gym”. As jy nie só by jou onderhoud gaan opdaag nie, moet jy nie daardie foto gebruik nie.

Solidariteit is jou redding

Moet egter nie bekommer nie! Dit is juis hoekom jy by Solidariteit se Studentelewe-groep moet aansluit. Ons help jou om ʼn wenner-CV op te stel en jou vir #JouWerk voor te berei. Hierdie groep bied toegang tot hulpbronne, mentorskap en die nodige ondersteuning om jou loopbaansukses te bevorder.

Maak seker jou CV sê wat dit móét sê – nie stories oor jou goudvis of ʼn resep vir die beste Two Minute Noodles nie. Klik hier om vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit te skep en by jóú groep aan te sluit!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel