
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Jou handleiding vir die belastingseisoen
Deur Ané Janse van Rensburg
Belasting het beslis ʼn taal van sy eie en behoort met ʼn handleiding, ʼn reeks videoleerhulpbronne en ʼn woordeboek te kom. Die eerste stap om jou belasting baas te raak, is om die taal te verstaan.
Miskien is jy al jare lank deel van die werkersmag en taamlik gesout in die belastingspeletjie, maar hierdie terme kan tog soms vir Jan Alleman ʼn vreeslike kopseer veroorsaak. Daar is egter hoop! Met die regte hulp en bystand is dit moontlik om jou belasting baas te raak.
Hier is ʼn paar belastingsterme wat jy vanjaar kan leer om jou belasting vir ʼn ses te slaan!
Aftrekbare uitgawes
Kapitaaluitgawes wat aangegaan word om inkomste te genereer, byvoorbeeld operasionele uitgawes (soos selfoonkoste of reisuitgawes) en aangeskafde bates (soos ʼn motorvoertuig wat jy vir jou werk moet gebruik).
Belasbare inkomste
Die inkomste (ná sekere toegelate aftrekkings soos pensioenbydrae) waarop belasting gehef word.
Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW)
ʼn Belasting van 15% op goedere en dienste.
Bruto inkomste
Totale inkomste voor enige aftrekkings of vrystellings.
Direkte belasting
Belasting op individue en regspersone (maatskappye, trusts, ens.) se inkomste.
Dividend
Winste wat aan aandeelhouers uitbetaal word aan die einde van ʼn maatskappy se finansiële jaar.
Dividendbelasting
ʼn Weerhoude belasting van 10% op dividenduitbetalings wat die maatskappy namens ʼn aandeelhouer betaal.
eFiling
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se aanlyn diens vir die indiening van belastingopgawes en betalings.
Finansiële / belastingjaar
ʼn Tydperk van 12 opeenvolgende maande wat vir ʼn individu strek vanaf 1 Maart tot 28 Februarie.
Indirekte belasting
Belasting op die aankoop van goedere of dienste, byvoorbeeld BTW in Suid-Afrika.
Inkomstebelasting
Belasting op alle belastingbetalers se belasbare inkomste.
Invoerbelasting
Dit is ʼn belasting wat deur ʼn land se doane-owerhede ingevorder word op invoere en sommige uitvoere.
Kapitaalwinsbelasting
Belasting wat betaal moet word wanneer ʼn individu of ʼn sakeonderneming ʼn bate of eiendom verkoop of afskryf.
Lopende Betaalstelsel (LBS)
Inkomstebelasting wat direk van ʼn werknemer se salaris afgetrek word deur die werkgewer.
Netto inkomste
Inkomste wat oor is nadat kostes en uitgawes van die bruto inkomste afgetrek is.
Omsetbelasting
ʼn Vrywillige belastingstelsel vir klein ondernemings.
Oudit
ʼn Ondersoek na ʼn sakeonderneming of individu se belastingsake.
Voorlopige belasting
Belasting wat twee keer per jaar betaal word deur mense met ʼn onreëlmatige inkomste (soos kommissie).
Vrygestelde dienste
Dienslewering waarop geen BTW gehef of geëis kan word nie, soos finansiële dienste en onderwys.
Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF)
Voorsien voordele vir mense wat werkloos is of nie kan werk nie.
Solidariteit wil saam met jou die pad na sukses stap – hetsy dit in jou beroep of met jou belasting is. Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en benut ʼn reeks hulpbronne soos die Belastingsgids wat jou in hierdie taak kan bemagtig.
Lees hier ook meer oor belasting en hoe dit werk. Dit is makliker as wat jy dink!