loading
Artikels
22 uur gelede
tien-wenke-vir-jong-en-opkomende-ambagslui

Foto Krediet: OkayDeer

Tien wenke vir jong en opkomende ambagslui

Deur Dirk Smit, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Ambagnetwerk

Jy het die eerste tree gegee na ʼn volwaardige loopbaan as ambagspersoon. Dit is ʼn pad wat harde werk, toewyding en ʼn ingesteldheid van voortdurende leer en groei vereis. Hierdie riglyne is ontwerp om jou te help om nie net ʼn beter ambagspersoon te word nie, maar ook om ʼn voorbeeldige werknemer en kollega te wees. Dit is belangrik om jouself vroeg al te onderskei – nie net deur die gehalte van jou werk nie, maar ook deur jou gesindheid en karakter.

Hier is tien wenke wat jy kan toepas om ʼn suksesvolle loopbaan te verseker:

1. Wees stiptelik en betroubaar

Tyd is geld in die ambagsbedryf. Wanneer jy betyds opdaag en jou werk volgens skedule, werkkaart of skof voltooi, toon jy respek vir jou werkgewer, kollegas en – indien jy ʼn diens lewer – jou kliënt. Jy bou ook vertroue – ʼn kernbousteen van professionele sukses.

Onthou, iemand wat altyd opdaag en sy werk doen, word onthou wanneer bevorderings of nuwe geleenthede ontstaan. Betroubaarheid weerspieël konsekwentheid, wat noodsaaklik is vir langtermynsukses.

2. Maak jouself vertroud met die veiligheidsmaatreëls in jou omgewing

Die werkplek kan gevaarlik wees – veral in ambagte waar met masjiene, elektriese toerusting of op hoogtes gewerk word. Jy moet weet watter persoonlike beskermende toerusting (PBT, of PPE in Engels) jy moet dra, hoe om gereedskap veilig te gebruik en hoe om potensiële gevare te identifiseer voordat dit skade veroorsaak.

Versoek opleidingsessies indien jy onseker is oor enige veiligheidsprosedures. Veiligheid gaan nie net oor jou veiligheid nie, maar ook oor die veiligheid van diegene rondom jou. Alhoewel ernstige beserings nie altyd vermy kan word nie, verminder die nakoming van gevestigde reëls en riglyne die risiko aansienlik.

3. Handhaaf ʼn gesindheid van respek en leergierigheid

Die regte gesindheid sal jou ver in jou loopbaan neem. Wees beleefd teenoor kollegas en kliënte, wees bereid om opdragte te aanvaar en bly nederig genoeg om te erken as jy iets nie weet nie.

Niemand weet  alles nie – en dié wat dink hulle weet alles, word dikwels vermy. Jou bereidwilligheid om te leer, wys vir ander dat jy ernstig is oor jou toekoms en trots is op jou ambag.

4. Groei deur voortgesette leer

Die ambagte ontwikkel met tegnologiese vooruitgang en nuwe standaarde. Bly op hoogte deur gereeld kursusse te doen. Solidariteit se leerplatform het nagenoeg 150 kursusse vir voortgesette leer, en dit is heeltemal gratis vir lede.

Dit is van onskatbare waarde om ʼn mentor te hê. Mentors het dikwels jare se ervaring en jong ambagslui kan baie by só ʼn persoon leer. Hoe meer jy weet, hoe meer werd is jy in die werkplek. Selfs al dink jy dat jy ʼn taak bemeester het, vra jouself af: “Hoe kan ek dit beter doen?”

5. Hanteer jou gereedskap professioneel

Jou gereedskap is noodsaaklik vir jou daaglikse werk. Respekteer jou gereedskap deur dit skoon, skerp en in ʼn werkende toestand te hou deur dit behoorlik te bêre. Leer hoe om elke stuk gereedskap korrek te gebruik, omdat verkeerde gebruik skade kan aanrig of tot beserings kan lei. Werkgewers en kollegas sal vinnig agterkom of jy jou gereedskap en toerusting met trots hanteer.

6. Wees ʼn spanspeler – jy werk nie alleen nie

Projekte word selde in isolasie voltooi. Jy sal waarskynlik met ander ambagslui, ingenieurs of kontrakteurs saamwerk. Leer om doeltreffende kommunikasie te handhaaf, om ondersteuning te bied wanneer nodig en om probleme saam op te los. ʼn Goeie spanlid word gerespekteer en dra by tot ʼn gesonde werkplek.

7. Moenie skaam wees om vrae te vra nie

Niemand weet alles van dag een af nie. Deur vrae te vra, wys dat jy bereid is om te leer en dat jy die werk ernstig opneem en opreg belangstel. Dit is beter om te leer om iets reg te doen as om dit verkeerd te doen en skade te veroorsaak. Vra vrae en bemeester die regte metodes eerder as wat jy eendag foute maak, die verkeerde metodes moet afleer en moet oor begin.

8. Hou rekord van wat jy leer en doen

ʼn Praktiese log- of notaboek waar jy besonderhede van jou daaglikse take, nuwe vaardighede en uitdagings neerskryf, kan van onskatbare waarde wees. Dit help met selfrefleksie, voorbereiding vir jou vaktoets en dien as bewys van jou ervaring wanneer jy vir sertifisering of bevordering aansoek doen. Werkgewers gaan in elk geval hierdie boek moet afteken soos jy take voltooi, daarom is dit noodsaaklik om dit op datum te hou.

9. Verstaan jou regte én jou verantwoordelikhede

Lees jou dienskontrak noukeurig deur. Weet waarvoor jy aanspreeklik is en wat jy kan verwag. Jy het die reg om in ʼn veilige en regverdige werksomgewing te werk, maar jy het ook die verantwoordelikheid om professioneel, eerlik en pligsgetrou te wees. Indien jy onseker is, kan jy Solidariteit as vakbond of die Solidariteit Ambagnetwerk kontak vir ondersteuning en advies. Maak egter seker dat jy jou pligte nakom en, wanneer daar fout is, dat die fout nie by jou lê nie.

10. Wees trots om ʼn ambagspersoon te wees

Om in die ambagte te werk is nie nét ʼn werk nie – dit is ʼn roeping. Jou handewerk is sigbaar en bly staan lank nadat jy klaar gewerk het. Bou met trots, werk met gehalte en hou jou naam skoon. ʼn Goeie reputasie word met tyd opgebou en sal jou loopbaan ʼn hupstoot gee.

ʼn Beroepsgemeenskap vir ambagslui

Jou loopbaan as ambagspersoon is ʼn lang pad na sukses. Deur hierdie riglyne voortdurend toe te pas, lê jy nie net ʼn stewige fondament vir jouself nie, maar bou jy ook aan die toekoms van ambagte in Suid-Afrika. Onthou, die Solidariteit Ambagnetwerk is hier om jou op dié reis te ondersteun, jou met hulpbronne toe te rus en jou trots in jou beroep te help versterk.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel