loading
Artikels
3 dae gelede
studiebeurs-skep-hoop-vir-opkomende-ambagslui

Foto Krediet: OkayDeer

Studiebeurs skep hoop vir opkomende ambagslui

Deur Ané Janse van Rensburg

Solidariteit se #JouYster-studiebeurs word toegeken aan ʼn gedrewe jong mens wat graag sy of haar stempel op die ambagswêreld wil afdruk. Die #JouYster-wenner kies met die hulp van die Solidariteit Ambagnetwerk se adviesraad die student wat die #JouYster-studiebeurs ontvang. Op dié manier word ʼn geleentheid geskep vir ʼn behoeftige student om aan Sol-Tech te kan studeer.

Delarey van der Merwe, ʼn 2023-matrikulant aan Hoërskool Brits, was nog altyd passievol daaroor om met sy hande te werk, en om iets spesiaal uit die gewone te kan maak. Hy is die wenner van 2023 se studiebeurs. Solidariteit gesels met Van der Merwe oor die #JouYster-studiebeurs en hoe dit hom steeds help.

Hoe het jy op jou spesifieke rigting in die ambagswese besluit?

Ek het in my matriekvakansie by een van my pa se vriende gaan werk. Ek het daar begin eksperimenteer met sweiswerk. Toe sien ons dat ek glad nie kan sweis nie, en hulle stuur my toe na die draaibanke toe. Om ʼn rou stuk yster te vat wat niks werd is nie, en iets daaruit te maak wat kan werk, is die ding vir my, het ek besef.

Watter uitdagings het jy aan die begin van jou ambagstudie ervaar, en hoe het dit jou gevorm?

Ek was aan die begin nogal skrikkerig om op die masjiene te werk, juis omdat dit so groot is en ʼn mens baie stories hoor oor mense wat seerkry. Dit was eintlik meestal net die vrees om seer te kry en ʼn fout te maak, maar met meer ondervinding raak ʼn ou gemaklik en dit raak lekkerder.

Hoe het jy gehoor van die studiebeurs wat jy ontvang het? Wat het daardie beurs vir jou beteken?

My ma het my vertel van die beurs en sy het my ingeskryf. Toe ek hoor dat ek dit gekry het, kon ek dit eintlik nie glo nie. Ons sou op daai stadium weens ons omstandighede dit nie kon bekostig nie. Die beurs het my gehelp om my drome waar te maak om my kwalifikasie in my ambag te kry.

Watter boodskap het jy vir jong ambagslui wat ook studiebeurse oorweeg?

Moenie opgee nie – probeer alles om ʼn beurs los te slaan. As jy hard genoeg probeer en werk, sal jy beloon word.

Wat geniet jy die meeste van ambagswerk?

Die feit dat ʼn ou heeldag besig is en nie een keer net stilsit en niks doen nie, om goed met jou hande reg te maak en te bou – jy kry nie beter as dit nie !

Wat dink jy is die belangrikste vaardighede wat iemand moet hê om suksesvol te wees in jou veld?

Jy moet oopkop kan dink. Jy moenie ʼn ding sien en dit op presies dieselfde manier hanteer as wat jy die vorige part gebou het nie. Jy moet altyd uitdagings met ʼn oop kop kan aanpak!

Hoe het jou studie jou persoonlik beïnvloed, en hoe hoop jy om ander te inspireer met jou storie?

Dit het my beslis meer selfvertroue gegee, en dit het my geleer om hard te werk en nie op te gee as dinge nie uitwerk soos wat ek dit beplan het nie. Wat die mense eintlik maar kan leer uit my storie is om hard te werk en nie op te gee nie – jy sal uiteindelik by jou doel uitkom.

Wat is jou doelwitte vir die toekoms? Is daar projekte of drome wat jy nog wil verwesenlik?

Ek wil graag my eie ingenieursbesigheid begin, waar ek enige part vir enige iemand kan bou en masjinerie kan regmaak.

Watter rol speel mentorskap in jou lewe, en wat dink jy oor die belangrikheid daarvan in die ambagsbedryf?

Dit het beslis ʼn baie belangrike rol in die ambagsbedryf, want daar is truuks wat mentors al geleer het wat hulle weer aan ons kan oordra. As jy ʼn mentor het wat jou deur hierdie proses lei en wat jou kan help en aan wie jy kan vrae vra as jy sukkel, dan kan dit jou in die ambagswêreld bevorder.

Die Solidariteit Ambagsnetwerk glo in ʼn voorspoedige toekoms wat ons self bou – een wat ontwerp is vir die volgende generasies om hul passie sonder perke te kan najaag. Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en skakel in by ʼn netwerk wat ʼn daadwerklike verskil maak!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel