loading
Mediaverklarings
9 maande gelede
stuur-inspekteurs-na-nog-polisiestasies-toe-smeek-polisielede

Foto Krediet: Solidariteit

‘Stuur inspekteurs na nóg polisiestasies toe,’ smeek polisielede

Solidariteit ontvang sedert gister al meer klagtes van polisielede wat hulle eie polisiestasies óók nie geskik vir menslike gebruik ag nie – en wat in sommige gevalle glo dat hierdie polisiestasies selfs méér as die nasionale hoofkantoor van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) verwaarloos is.
Die vernielde hoofkantoor by Telkom Towers in Pretoria moes Dinsdagmiddag inderhaas ontruim word en is gesluit. Dit was nadat ’n inspeksie deur die Departement van Indiensneming en Arbeid, tesame met Solidariteit se afdeling vir Beroepsgesondheid en -veiligheid (BGV), uitgevoer is.
Tydens die inspeksie is die haglike toestand van die hoofkantoor ontbloot, en dié is gekenmerk deur vuil en besmette kantore en badkamers, ’n gebrek aan ventilasie en skoon drinkwater, asook stukkende hysbakke en tekortkominge met brandbestrydingstoerusting.
Volgens Johan Böning, hoof van Solidariteit se BGV-afdeling, word daar meteens uit talle uithoeke vir soortgelyke inspeksies gesmeek – hoofsaaklik deur SAPD-lede wat raadop is met die SAPD-bestuur.
“Dié oproepe kom van lede van die polisie wat desperaat is om verbetering in hulle eie fasiliteite en omstandighede te sien. Ons hoor ook van lede wat deur bestuur geteiken of gedreig word wanneer hulle dit waag om gebreke by fasiliteite te rapporteer.
“Baie van hierdie lede is wanhopig en twyfel of dit ooit weer sal regkom. Daarom is hulle maar net verlig om van die aksie by ’n plek soos Telkom Towers te hoor – al het dit ongelukkig nie uit die polisie se eie inisiatief gebeur nie,” sê Böning.
Die SAPD het intussen in ’n verklaring gesê sy besluit om die Telkom Towers-gebou te ontruim, is geneem weens besorgdheid oor werknemers se welstand en veiligheid.
“Ons wil graag wél vir die Departement van Indiensneming en Arbeid dankie sê dat hulle opgetree het. Dis immers húlle wat die statutêre mag het om dit te kan doen,” sê Böning.
Solidariteit het wel verneem die ontruimde hoofkantoor is gister, minder as 24 uur ná die verpligte ontruiming, wéér deur werknemers betree. Die gebou moes toe opnuut in opdrag van die nasionale polisiekommissaris ontruim word.
Die SAPD-hoofkantoor is beslis ook nie die enigste ellendige baken van staatsverval in die verdedigingsektor nie.
Die hoofkwartier van die Suid-Afrikaanse Lugmag moes ook vandeesweek ontruim en gesluit word – óók na ’n inspeksie deur die Departement van Indiensneming en Arbeid waartydens toestande ontdek is wat werknemers se gesondheid bedreig.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel