loading
Mediaverklarings
1 jaar gelede
suid-afrikaners-se-geld-verdwyn-in-die-staat-se-sakke

Foto Krediet: Verskaf

Suid-Afrikaners se geld verdwyn in die staat se sakke

Suid-Afrika se belastingstelsel verlam sy ekonomie.

Dit is wat ʼn pas vrygestelde verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) oor belasting op toegevoegde waarde (BTW) in Suid-Afrika aandui.

Terwyl Suid-Afrika se BTW-koers van 15% betreklik vergelykbaar is met dié van verskeie ander lande, bied daardie lande gewoonlik beweegruimte aan belastingbetalers met laer persoonlike of korporatiewe inkomstebelasting.

Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die SNI, eis die Suid-Afrikaanse staat hoë belasting op alle fronte – en dit van ʼn reeds belastingvoos bevolking.

“Ons kan dit aan die hand van ʼn voorbeeld verduidelik waar ʼn verbruiker R1 by ʼn onderneming bestee en waarvan 27% dan vir korporatiewe belasting gehef word.

“Daarna wend die onderneming die orige 73c aan om ʼn middelklas-werknemer se salaris te betaal. So ʼn werknemer moet dan weer inkomstebelasting van 26% betaal.

“En sou die salaristrekker daarna die oorblywende 54c in ʼn winkel bestee, volg BTW van 15%. Wat bly oor? Net 45c van die oorspronklike R1,” sê Du Buisson.

Hy glo dit is ʼn voorbeeld van hoe mense se besteebare inkomste verdwyn, maar ook waarom ekonomiese groei in Suid-Afrika nie moontlik is nie.

“Nuwe siklusse van hierdie aard kan eenvoudig nie begin nie, want daar is geen geld oor om te bestee of te belê nie. Heelwat meer as 50% van elke R1 beland so in die staat se sak wat gereeld ʼn bodemlose put is,” sê Du Buisson.

Die verslag beklemtoon dat selfs al is vergelykende BTW-koerse in Europa oor die algemeen hoër, dit versag word deur die verlaging in ander belastings.

In Suid-Afrika is die lys van items wat van belasting vrygestel word ook opmerklik kort. Medisyne word met BTW belas, asook chroniese medikasie wat ʼn lewensonderhoudende noodsaaklikheid vir pasiënte is.

Vleis, gaar etes en verwerkte voedsel is ook nie van BTW uitgesluit nie.

“Dit beteken arm mense sonder kookgeriewe moet BTW opdok, ongeag hoe behoeftig hulle is,” sê Du Buisson.

“Aangesien BTW nie soos in die geval van ander belastings volgens ʼn glyskaal bereken kan word nie, geld die 15% vir almal, van ryk tot arm. BTW is spesifiek nadelig vir die armer deel van die bevolking omdat min produkte daarvan vrygestel is.

“BTW is ook maar net ʼn deel van die probleem. In Suid-Afrika betaal ons hoë belasting. Hoe dit ook al sy, korporatiewe belasting, persoonlike belasting én BTW is hoog. Suid-Afrikaners is heeltemal oorbelas en kan dit nie verder bekostig om die staat se sakke vol te stop nie.”

Solidariteit glo ook dat enige sprake van ʼn verdere verhoging in BTW in die komende mediumtermynbegroting verregaande is en die werklikheid van Suid-Afrikaners se bestaan ignoreer. Lees die SNI se volledige verslag hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel