Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Tariefbarometer: Suid-Afrikaanse uitvoere na die VSA toon styging – slegs danksy edelmetale
Die jongste tariefbarometer van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) toon dat uitvoere na die VSA in September algeheel aansienlik toegeneem het.
Dit is ondanks die invoerbelasting van 30% wat die Verenigde State (VSA) in Augustus vanjaar op alle produkte uit Suid-Afrika ingestel het.
Tog verduidelik Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die SNI, hoe dié toename hoofsaaklik te danke is aan edelmetaaluitvoere, en veral van goud, wat van Amerikaanse tariewe vrygestel is.
“Die goudprys was in September steeds op rekordvlakke en produsente kon daaruit munt slaan. As ons egter edelmetaaluitvoere buite rekening laat, het totale uitvoere drasties afgeneem.
“Yster- en staalprodukuitvoere is aan die herstel, maar dit is nog hoegenaamd nie op vorige jare se vlakke nie. So ook het chemiese en minerale-uitvoere toegeneem, maar nie genoeg om vir die afname in Augustus te vergoed nie,” sê Du Buisson.
Hy waarsku egter dat uitvoergetalle baie wispelturig kan wees en dat die komende maande ʼn beter aanduiding sal bied van waar uitvoere stabiliseer.
“Uitvoere is baie wispelturig op ʼn maandbasis en ons sal in die komende maande ʼn idee kry van waar dit stabiliseer. As staaluitvoere, waar tariewe reeds sedert Februarie geld, ʼn aanduiding is, kan ons groot ellende verwag,” sê hy verder.
Ten spyte van die uitdagings, glo Du Buisson dat ruimte vir herstel steeds bestaan.
“Omdat tariewe op die meeste lande ingestel is, is dit ook moontlik dat die Amerikaanse mark bloot die tariewe sal absorbeer en dat Suid-Afrikaanse uitvoere na vorige vlakke kan terugkeer.
“Wat baie sal help, is as die Suid-Afrikaanse regering ʼn beter tarief kan beding om ons produkte ʼn voordeel bo dié van ander lande te gee,” verduidelik hy.
Du Buisson meen die jongste syfers toon hoe belangrik dit is dat die regering proaktief oor gunstige handelsvoorwaardes onderhandel, eerder as om die ekonomiese druk eenvoudig te absorbeer.
“ʼn Doeltreffende tariefbeleid is noodsaaklik om Suid-Afrikaanse werksgeleenthede, nywerhede en uitvoermarkte te beskerm,” sê hy.
Sien die barometerverslag hier aangeheg.