Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Teenstand oor somatologie-regulasies neem skerp toe
Solidariteit het ’n beduidende reaksie vanuit die somatologie- en skoonheidsbedryf opgemerk sedert die aankondiging deur die Departement van Gesondheid in die Staatskoerant dat die beroepsveld moontlik onder die Raad vir Verwante Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (“Allied Health Professions Council of South Africa” – AHPCSA) geplaas kan word.
Volgens Johan Roos, netwerkorganiseerder by Solidariteit, dreig oorregulering deur die Departement van Gesondheid om die somatologiebedryf in Suid-Afrika uitmekaar te skeur en groot skade te berokken.
Solidariteit het hierdie gevare ook in ʼn skrywe aan die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, uitgelig.
Sien die skrywe hierby aangeheg.
Indien die voorgestelde regulasies wel geïmplementeer word, voer Solidariteit aan dat dit die volgende tot gevolg kan hê:
- Duur lisensies en verpligte registrasie om as ’n gesondheidsfasiliteit erken te word;
- ’n verbod op, of ernstige beperking van mikronaalddienste, chemiese afskilferings, laserbehandelings en permanente grimeerwerk;
- die kunsmatige skeiding van dienste, wat beteken dat skoonheidsterapeute en somatoloë nie meer al hul vaardighede binne een onderneming sal mag aanbied nie – selfs al is hulle daarvoor opgelei; en
- die moontlike sluiting van talle klein sake-eienaars met gepaardgaande grootskaalse werksverliese.
Die aangeleentheid is reeds wyd bespreek in die media, op verskeie professionele platforms en deur rolspelers in die sektor.
Roos meen bedryfsleiers, terapeute, opleidingsinstellings en besigheidseienaars het kommer uitgespreek oor die verreikende wetgewende en ekonomiese implikasies van die voorgestelde regulering.
“Altesaam 164 skoonheidspesialiste het reeds hul protes teen die voorgestelde regulasies op Solidariteit se veldtogplatform aangeteken.
“Solidariteit het intussen beswaar aangeteken by die ministers van gesondheid, handel, nywerheid en mededinging, asook werkskepping en arbeid om die dringendheid en omvang van die aangeleentheid duidelik onder die aandag van alle betrokke staatsdepartemente te bring,” sê hy.
In die dokumentasie versoek Solidariteit dat die proses gestaak word totdat:
• ’n volledige sosio-ekonomiese impakstudie voltooi is;
• ’n omvattende konsultasieproses met die bedryf afgehandel is; en
• alternatiewe, proporsionele reguleringsmodelle oorweeg is.
Roos beklemtoon dat Solidariteit professionele standaarde en verbruikerbeskerming ondersteun.
“Maar regulering móét regverdig, uitvoerbaar en realisties wees. Die huidige voorstel stel persone met bestaande kwalifikasies, werkgeleenthede en ondernemings bloot aan onnodige risiko’s,” sê hy.
Hy voeg by dat Solidariteit se optrede hiermee geensins eindig nie. “Inteendeel, die proses beweeg nou na ’n volgende fase. Ons sal voortgaan om met rolspelers te konsulteer, verdere insette te versamel en die saak op groter skaal namens ons lede en die breër bedryf te dryf.
“Ons sal aanhou optree, mobiliseer en struktureel druk uitoefen totdat ’n redelike, billike en volhoubare oplossing gevind word, én om te verseker dat professionele mense nie die bedryf verlaat nie,” sluit hy af.