Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Onderwys: Verbod op herhaling van gr.1 tot gr.3 wéér onder loep
Leré Nel
Luidens die Departement van Basiese Onderwys (DBO) se verslag, “Aksieplan tot 2029: Op pad na die verwesenliking van skoolonderrig 2030”, sal die herhaling van grade in die grondslagfase nie binne die volgende vier jaar verbied word nie. Die aksieplan beskryf dit wel as ʼn “belangrike debat” wat nog onafgehandeld is.
Vir baie ouers en onderwysers bly die vraag egter of só ʼn debat hoegenaamd nodig is. OKom ek stel dit eerder so: om dit op ʼn individuele basis te besluit – tussen die betrokke kind se ouers, sy of haar onderwyser en verkieslik ook ʼn opvoedkundige sielkundige – kán sinvol wees. Wat egter kommerwekkend is, is dat dit enigsins oorweeg word dat die DBO moontlik mag besluit om alle onderpresterende graad 1- tot graad 3-leerders outomaties na die volgende graad te bevorder, ongeag hul akademiese vordering. Só ʼn benadering is eenvoudig onaanvaarbaar.
Die oënskynlike rede vir hierdie oorweging is om te voorkom dat daar in latere grade disproporsioneel groot klasse ontstaan wanneer hierdie leerders uiteindelik wel aanbeweeg. Ons weet egter dat klasse reeds landswyd oorvol is, hoofsaaklik omdat daar nie genoeg skole gebou word nie.
Volgens die DBO se School Realities-verslag in 2023, het Suid-Afrika daardie jaar altesaam 24 836 gewone skole in totaal gehad, wat openbare sowel as privaat skole insluit. Ter vergelyking: in 2011 het die land 25 851 gewone skole gehad. Dit skets ʼn kommerwekkende prentjie – binne bykans tien jaar het Suid-Afrika 1 015 skole verloor.
In 2023 was daar 13 439 683 leerders in die onderwysstelsel, teenoor 12 287 994 in 2011. Meer as een miljoen leerders het dus bygekom, terwyl meer as 1 000 skole verdwyn het. Geen wonder onderwysers sit met stampvol klasse nie.
Dít is opsigself ʼn ernstige probleem wat dringende aandag verg. Wat egter nie aanvaarbaar is nie, is dat die behoorlike opvoeding en ontwikkeling van onderpresterende kinders ingeboet word om ʼn toekomstige bottelnek in die skoolstelsel te probeer vermy. Die werklike probleem moet aangespreek word: meer skole moet gebou word.
ʼn Mens hoef nie ʼn opvoedkundige kenner te wees om te besef dat die eerste drie skooljare – waartydens kinders leer lees, skryf en basiese wiskundige vaardighede aanleer – van kardinale belang is nie. Om enige verdere leer in die res van ʼn kind se skoolloopbaan, en selfs sy volwasse lewe, moontlik te maak, moet hy kan lees, skryf en verstaan wat hy lees.
Wanneer ʼn kind in hierdie fase akademies sukkel of emosioneel nie gereed is vir die volgende fase nie, en hy bloot na die volgende graad “oorgeskuif” word, word daar ʼn groot onreg aan hom gedoen. Só ʼn leerder sal waarskynlik in elke daaropvolgende graad verder agter raak.
Die gaping moet eerder vroeër as later gesluit word. Opvoedkundige navorsing wys duidelik dat begrip kumulatief is: elke graad bou op die vorige een, veral wat basiese geletterdheid en wiskunde betref. As die fondament wankelrig is, stort die hele struktuur later ineen.
Ek het onlangs die geleentheid gehad om met ʼn departementshoof in grondslagfase by ʼn bekende skool in Pretoria te gesels. Die onderwyseres, wat verkies om anoniem te bly, verduidelik dat die finale besluit oor bevordering of herhaling volgens wet by die ouers berus.
“My persoonlike opinie is dat dit uiters leerderspesifiek is,” sê sy. Sy brei uit:
“Jy kan nie ʼn oorhoofse reël hê wat bepaal almal slaag of almal druip nie. In my jare van opvoeding het ek al gesien daar is leerders vir wie intervensie, ekstra klasse, brille, ensovoorts, ʼn groot verskil kan maak. En dan kry jy dié vir wie jy sommer kan sien dit nie ʼn verskil gaan maak nie – hulle sal in ieder geval sukkel. Elke liewe geval is anders, en moet op gepaste wyse deur die ouers en opvoeder hanteer word. Groter klasse kan nie ʼn verskoning wees nie. As dit in ʼn kind se beste belang is om teruggehou te word, dan moet hy teruggehou word! Dit is vir die ouers en opvoeders om te besluit, nie die departement nie.”
Sy wys ook tereg daarop dat ʼn beleid van outomatiese bevordering grondslagfase-onderwysers se motivering kan ondermyn om intensiewe intervensie toe te pas: “Hoe gemotiveerd sal grondslagfase-onderwysers wees om alles in hul vermoë te doen om ʼn sukkelende kind te help, as hulle weet dat die kind in elk geval net bevorder sal word na die volgende graad?”
“Ongelukkig het nie alle onderwysers die ingesteldheid om ʼn kind te help ongeag die uitkomste nie,” beklemtoon sy.
Onderwysers met jare se ervaring in grondslagfase-onderwys beaam dat elke kind uniek is en weens uiteenlopende redes op skool kan sukkel. Vir die DBO om selfs te oorweeg om alle onderpresterende leerders oor dieselfde kam te skeer, sou daarom – na my mening – besonder kortsigtig wees.