Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Elke jaar se storie: Fiasko met skoolplasings hou ernstige gevolge in
Deur Robin-Lee Maré
Byna ’n maand ná die Gautengse Onderwysdepartement se eie sperdatum vir die plasing van leerders, is duisende leerders steeds nie vir die 2026-skooljaar by openbare skole geplaas nie.
Volgens berigte op Netwerk24 en Maroela Media is ongeveer 4 800 leerlinge, hoofsaaklik in graad 1 en graad 8, nog sonder bevestigde plasings. Hierdie situasie beklemtoon ’n diepgewortelde krisis in Suid-Afrika se onderwysstelsel: onvoldoende infrastruktuur, oorvol skole en ’n regering wat versuim om vooruit te beplan en betyds nuwe skole te bou.
’n Ervare onderwyser en departementshoof by ’n openbare skool verduidelik hoe hoërskoolhoofde by distrikskantore aan die begin van elke akademiese jaar byeengeroep word, waar hulle dan ’n lys ontvang van leerders wat nog geplaas moet word.
Die departement verwag dan van skole om hierdie leerders in te neem, selfs al is die skole reeds vol. Hierdie praktyk plaas elke jaar enorme druk op skole én onderwysers, en ondermyn bestaande toelatingsbeleide.
Volgens die onderwyser, wat anoniem wil bly, ignoreer die departement dikwels sy eie toelatingsbeleid.
“Ouers wat betyds aansoek doen moet op ’n waglys geplaas word en terugvoer van die skool ontvang. In werklikheid gebeur dit egter nie so nie. Ouers wat laat aansoek doen, wend hulle tot die departement, en dan word skole gedwing om kinders te aanvaar, selfs al is die klasse reeds oorvol,” sê sy.
Sy wys daarop dat hierdie praktyk onregverdig is teenoor ouers wat betyds aansoek gedoen het en reeds skoolfondse betaal. “Die departement neem nie skoolgelde of bestaande kapasiteit in ag nie. Dit gaan uiteindelik tot nadeel van alle leerders, want kwaliteit onderrig word ingeboet.”
Die probleem word verder vererger deur die regering se hantering van veral tegniese skole.
Alhoewel daar herhaaldelik verklaar is dat tegniese skole volkome tegnies moet funksioneer om die tekort aan vakmanskap in die land aan te spreek, is dit in praktyk nie realiteit nie. Tegniese vakke soos Tegniese Wiskunde, Meganiese Tegnologie en Elektriese Tegnologie is akademies veeleisend, en baie leerders slaag nie daarin om dit te voltooi nie.
Daarby is talle skoolwerkswinkels swak onderhou of glad nie funksioneel nie. Leerders verkies gevolglik vakke soos Wiskundige Geletterdheid en Rekenaartoepassingstegnologie (RTT), wat makliker is, maar nie die land se behoefte aan tegniese vaardighede aanspreek nie.
“Skole kan nie volkome tegnies word nie, want daar is nie genoeg alternatiewe skole vir leerders wat ’n algemene akademiese rigting wil volg nie. Weereens is die kernprobleem die tekort aan skole,” verduidelik die departementshoof.
Nog ’n faktor wat bydra tot oorvol skole is die huidige beleid rakende buitelandse kinders. Skole mag nie ’n kind weier bloot omdat die ouer onwettig in die land is of omdat die kind nie oor ’n geboortesertifikaat beskik nie.
Alhoewel dit vanuit ’n menseregteperspektief verstaanbaar is, plaas dit verdere druk op ’n reeds oorlaaide onderwysstelsel sonder dat addisionele hulpbronne voorsien word.
Die oorbevolking van skole het ook ernstige veiligheidsimplikasies. In sommige skole bevind kinders van so jonk as 12 jaar hulle glo op dieselfde perseel as leerders wat 21 of 22 jaar oud is, veral waar leerders herhaaldelik druip en later tot matriek bevorder word.
Die onderwyser beskryf dit as ʼn uiters ongesonde situasie.
“Onderwysers doen terreinplig, maar dit is onmoontlik om oral tegelyk te wees. Dit dra weer by tot die hoë vlakke van geweld en aanranding wat ons selfs in laerskole sien,” waarsku sy.
Inklusiewe onderwys ly ook onder hierdie toestande. Leerders met leerprobleme, soos disleksie, moet volgens beleid geïdentifiseer word en spesiale geakkommodeer word deur byvoorbeeld ekstra tyd tydens assesserings ensovoorts.
In oorvol klasse raak dit egter byna onmoontlik vir onderwysers om hierdie leerders behoorlik te identifiseer en te ondersteun. “Hierdie kinders val eenvoudig tussen die krake deur,” sê die departementshoof.
Dit is duidelik dat hierdie krisis nie net ’n administratiewe probleem is nie, maar ’n strukturele mislukking wat die toekoms van duisende kinders bedreig. Sonder die doelgerigte bou van nuwe skole, die konsekwente toepassing van toelatingsbeleide en realistiese beplanning vir bevolkingsgroei, sal oorvol skole, swak leeromstandighede en veiligheidsrisiko’s voortduur.
Die regering kan nie langer hierdie werklikheid ignoreer nie. Elke ongeplaaste leerder en elke oorvol klaskamer is ’n bewys van ’n staat wat versuim om sy grondwetlike plig teenoor kinders na te kom.
Solidariteit staan vas in sy oproep vir ’n funksionele, regverdige en volhoubare onderwysstelsel waarin alle kinders werklik ’n gelyke kans kry om te leer en te ontwikkel.