loading
avatar
Artikels
16 uur gelede
atns-bestuur-ontvang-r130-m-in-bonusse-ondanks-lugverkeer-chaos

Foto Krediet: Okay Deer

ATNS-bestuur ontvang R130 m. in bonusse ondanks lugverkeer-chaos

Wat vir duisende Suid-Afrikaners ʼn gewone terugkeer huis toe ná die feestyd moes wees, het die begin van Januarie ontaard in frustrerende lugverkeerophopings, ure lange vertragings en vlugte wat na ander lughawens herlei is.

Die jongste ontwrigtings by die staatsbeheerde Lugverkeernavigasiediens (ATNS), met O.R. Tambo Internasionale Lughawe as spilpunt, het weereens die kollig geplaas op ʼn lugvaartstelsel wat reeds lankal onder onnodige en ernstige druk verkeer.

Ondanks hierdie uitdagings het ATNS glo oor die afgelope twee boekjare meer as R130 miljoen in prestasiebonusse uitbetaal – en dit gedurende ʼn tydperk waarin meer as 200 nasionale instrumentvlugprosedures opgeskort is en bonusbetalings volgens beskikbare finansiële state na raming byna driekwart van die organisasie se wins voor belasting in elkeen van dié jare verbruik het.

ATNS het aanvanklik erken dat die onlangse vertragings deur tydelike personeeltekorte by lugverkeerbeheer veroorsaak is. Kort daarna het die narratief egter verskuif, met swak weerstoestande wat as hoofrede voorgehou is. Hierdie teenstrydige verduidelikings het lugrederye en lugvaartkundiges min gerusgestel.

Volgens Derek Mans, netwerkkoördineerder van Solidariteit se verdediging- en lugvaartsektor, is dit nie ʼn nuwe probleem nie.

“Personeeltekorte by ATNS is al lank al ʼn probleem. Die verklaring oor die weerstoestande wat vroeg in Januarie uitgereik is, was grootliks ʼn dekmantel. Ja, die weer hét ʼn rol gespeel, maar die personeeltekort bly die grootste faktor,” sê Mans.

Verskeie lugrederye, onder meer Airlink, het die weerstoestand-narratief uitdruklik verwerp. Volgens hulle was die kernprobleem ATNS se onvermoë om voldoende personeel én geldige instrumentvlugprosedures in plek te hê om normale verkeersvolumes veilig te bestuur.

Hierdie sogenaamde “onsigbare infrastruktuur” – prosedures, sertifisering en regulatoriese goedkeurings – is volgens die bedryf in ʼn toestand van verval. Talle instrumentvlugprosedures by lughawens landswyd is sedert 2024 opgeskort, of het verval omdat ATNS nie die voorgeskrewe tydlyne vir hernuwing nagekom het nie. Die gevolg is dat lughawens fisies oop bly, maar wettiglik ontoeganklik raak sodra sig- of weerstoestande versleg.

Derek Mans benadruk dat die probleem nie slegs oor getalle gaan nie, maar ook oor kundigheid.

“ATNS het oor jare heen baie ervare lugverkeerbeheerders en tegniese spesialiste verloor, en vandag is daar ʼn baie klein poel mense met die nodige ondervinding,” sê hy.

Die jongste ontwrigtings is nie ʼn eenmalige voorval nie, maar deel van ʼn groter strukturele probleem. Teen die einde van 2025 het die Lugdienstevereniging van Suider-Afrika (AASA) reeds gewaarsku dat voortdurende vertragings en die opskorting van prosedures lugrederye miljoene rande kos en die bedryf se volhoubaarheid bedreig.

Volgens Mans plaas personeeltekorte ook toenemende druk op die stelsel.

“Daar is dae, veral in die middae, waar daar eenvoudig nie genoeg personeel in die radarkamers is nie, maar die verkeersvloei bly dieselfde. Dit plaas enorme druk op die mense wat wel aan diens is,” waarsku hy.

Barbara Creecy, Suid-Afrika se minister van vervoer, het reeds in Desember 2024 ʼn komitee van lugvaartkenners aangestel om die hoofoorsake van ATNS se probleme te ondersoek. Die komitee se voorlopige verslag bevestig ernstige tekortkominge, soos kritieke personeeltekorte, onbetroubare kommunikasie- en navigasiestelsels, asook opgeskorte vlugprosedures. Hoewel dringende ingrypings aangekondig is, kan die volle herstel van ATNS tussen 18 maande en drie jaar duur.

Intussen betaal passasiers, lugrederye en vlugbemanning die prys. Bemanning werk langer ure, en aansluitings – veral vir internasionale vlugte – word gemis. Dit raak nie net reisigers se sakke en skedules nie, maar ook die beeld van Suid-Afrika se lugvaartsektor.

Dit is boonop nie ondenkbaar dat voortdurende probleme met personeel, stelsels en prosedures uiteindelik tot ʼn ernstiger situasie, soos ʼn vliegongeluk, kan bydra nie.

Die ATNS-krisis is dus meer as ʼn logistieke hoofpyn. Dit is ʼn toets van bestuur, vaardigheidsbehoud en politieke wil. Totdat die “onsigbare infrastruktuur” herstel is, bly elke donderstorm ʼn potensiële resep vir nóg chaos in Suid-Afrika se lugruim.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel