loading
Artikels
1 jaar gelede
topkenners-deel-geheime-van-handelsmerksukses-by-solidariteit-netwerkgeleentheid

Foto Krediet: Solidariteit

Topkenners deel geheime van handelsmerksukses by Solidariteit-netwerkgeleentheid

Deur Ané Janse van Rensburg

Solidariteit se Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk het onlangs by ʼn aangeleentheid in Pretoria ʼn handelsmerknetwerkgeleentheid aangebied. Hierdie geleentheid is gemik op kommunikasie- en bemarkingspraktisyns om hulle bymekaar te bring sodat hulle kan netwerk en leer hoe om hulle handelsmerk uit te brei. Hierdie geleentheid het prominente sprekers soos Francois Boys, Frik van Heerden en Ernst Van Zyl ingesluit, wat elkeen hul unieke insigte oor die bou en bestuur van handelsmerke gedeel het.

Ernst Van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, het die aand afgeskop met ʼn netjiese uiteengesette plan vir hoe jy jou handelsmerk op die been kan bring. Van Zyl, wat sy handelsmerk gevorm het rondom aanlyn kommentare wat hy gelewer het oor die wêreld om hom, meen dat ʼn mens net moet weet hoe om die geleenthede rondom jou te benut. Van Zyl sê dat jy eerstens moet besluit wat die identiteit van jou handelsmerk gaan wees. Jou “handelsmerk-identiteit” verwys na die soort inhoud wat jy skep, die platform wat jy gaan gebruik om die inhoud te deel en die gehoor wat jou inhoud gaan inneem. Daarna moet daar gefokus word op konsekwentheid, aanpasbaarheid en die samewerking van jou gehoor. “Onder alle omstandighede, moet jy net om jou handelsmerk trots kan wees en dit geniet!” sê Van Zyl.

Frik van Heerden, ʼn ervare entrepreneur en Mnr. Suid-Afrika-finalis, het volgende die gaste toegespreek. Sy aanbieding het gefokus op hoe om doeltreffende netwerkstrategieë te ontwikkel en te implementeer. “Jou handelsmerk is meer as die perfekte prentjie wat mense aanlyn van jou sien. Dis wie jy is agter toe deure; as jy by jou vriende is by ʼn braai – wie jy is as jy gemaklik is.”

Van Heerden het gesels oor die veranderlike aard van ʼn handelsmerk en hoe dit saam met jou omstandighede verander. Hy het self sy handelsmerk menige kere aangepas, hetsy dit die vorm aangeneem het van ʼn koshuiskind, student, boer, sakeman of ʼn Mnr. SA-finalis. Hy meen dat die lewe oor meer gaan as net ʼn mooi aanlyn plasing. “Die belangrikste is om eg aan jouself te wees. Doen wat jy doen en probeer ander inspireer,” sê Van Heerden.

Francois Boys, ʼn gesiene aanlyn smaakmaker, het die aand afgesluit met ʼn fassinerende bespreking oor die besigheidsaspek van handelsmerkbestuur. Hy het die gehoor herinner dat ʼn handelsmerk meer is as net ʼn logo of slagspreuk; dit is die uitvoering van jou waardes, missie en kultuur. Boys het praktiese strategieë gedeel oor hoe om ʼn handelsmerk te ontwikkel wat klante trou laat bly en wat ʼn onderneming se geloofwaardigheid in die mark versterk. “Jy moet die beste doen met dit wat jy het!”

Boys het gereeld klem gelê op die belangrikheid van jou handelsmerk se rakleeftyd en hoe om seker te maak dat dit meer as net ʼn gierigheid is. Sy eie handelsmerk, #HoezitSamelewing, fokus op ʼn sekere teikengroep en Boys maak seker om inhoud te skep wat tot hierdie gehoor spreek. “Engage met jou mense! Ken jou platform waarop jy werk, weet wanneer om plasings te maak en glo in wat jy verkoop!” sê Boys.

Na die formele aanbiedinge van die sprekers het die aand voortgegaan met ʼn informele netwerkgeleentheid waar gaste die geleentheid gekry het om met die sprekers en mekaar te gesels. Die atmosfeer was lewendig en gesellig, met baie waardevolle besprekings en nuwe netwerke wat gevorm is.

Met die kundigheid van Francois Boys, Frik van Heerden en Ernst Van Zyl, het die deelnemers die aand verlaat met ʼn nuwe huppel in hul stap om hul handelsmerke en ondernemings tot nuwe hoogtes te neem. Solidariteit wil saam met jou jou handelsmerk ʼn hupstoot gee! Skep vandag nog jou gratis profiel, raak betrokke by jóú beroepsnetwerk en bereik nuwe hoogtes in jou beroep!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel