loading
Artikels
1 week gelede
topspeurder-se-saak-teen-die-sapd-opgelos-danksy-solidariteit

Foto Krediet: Okay Deer

Topspeurder se saak teen die SAPD opgelos danksy Solidariteit

Deur Heléne Mocke

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het onlangs ʼn hoogs gerespekteerde speurder oor die hoof gesien vir ʼn bevorderingspos weens kleinlike administratiewe vrae oor haar matriekuitslae wat ouer as 30 jaar is.

Die saak van adjudant-offisier en topspeurder Bonita Dry teen die SAPD is suksesvol voor ʼn  kommissaris van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verdedig.

Dry werk sedert 1994 by die SAPD. Sy is in Augustus 2022 onregverdig oor die hoof gesien vir ʼn bevorderingspos na die rang van kaptein.

Dry is bekend vir haar uitsonderlike rekord in speurwerk en het ʼn lang lys suksesvolle sake en toekennings agter haar naam. Sy het egter nie eens die kortlys gehaal vir die bevorderingsposisie van kaptein nie, terwyl ʼn minder geskikte kandidaat wat nie die hantering van ʼn moorddossier kon bemeester nie, in die pos aangestel is.

Volgens Theunis van Staden wat aan Solidariteit se openbare sektor verbonde is, is Dry ʼn prysenswaardige werknemer van die SAPD wat danksy haar harde werk en uitsonderlike vaardighede uitstaan.

“Dit is teleurstellend om te sien hoe iemand met haar talente en toewyding nie ʼn regverdige kans gegee is nie. Sy is ʼn speurder van formaat. Om haar nie eens op die kortlys te plaas nie, is ʼn skreiende onreg,” sê Van Staden.

Die SAPD voer aan Dry het nie die regte dokumentasie ingedien vir haar aansoek nie en het die vinger na haar matrieksertifikaat gewys. Sy het egter dieselfde matriekuitslae gebruik wat sy oorspronklik in 1994 ingedien het toe sy by die SAPD aangesluit het. Geen terugvoer of verduideliking is aanvanklik aan haar verskaf oor waarom haar aansoek nie oorweeg is nie.

Hoewel die SAPD versoek het dat sy haar matrieksertifikaat moet indien, het niemand haar daarop bedag gemaak dat haar 1994-matriekuitslae, sonder die gepaardgaande sertifikaat, nie voldoende is nie.

Die KVBA het bevind die SAPD se hantering van Dry se aansoekproses was onregverdig en die polisiediens is beveel om kompensasiegelde aan haar uit te betaal. Hierdie vergoeding is gelykstaande aan drie maande se salaris op die rang van kaptein, ʼn rang wat sy sedert September 2024 beklee. Dry is in September 2024, hangende hierdie geskil, in ʼn ander bevorderingsproses wel tot kaptein bevorder.

Solidariteit het Dry deur die hele proses bygestaan. “Ons sal nie toelaat dat toegewyde werkers soos Bonita Dry deur onregverdige praktyke benadeel word nie,” sê Van Staden.

Dry se oorwinning dien as ʼn herinnering dat regverdigheid altyd sal seëvier, en dat elke werknemer het die reg het om met respek en integriteit behandel te word.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel