loading
Artikels
2 dae gelede
tot-44-duurder-elektrisiteit-jan-publiek-moet-sy-stem-laat-hoor

Foto Krediet: Verskaf

Tot 44% duurder elektrisiteit: Jan Publiek moet sy stem laat hoor

Deur Nico Strydom

Openbare teenstand is aan die toeneem teen Eskom se versoek vir ʼn reuse-tariefverhoging in 2025. Politieke partye, burgerregte-organisasies en Jan Publiek het reeds hul misnoeë te kenne gegee met ʼn verhoging van tot amper 44% in Eskom se elektrisiteitstariewe in 2025.

Eskom het ʼn aansoek by die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) ingedien waarin hy ʼn styging van 36,15% in elektrisiteitstariewe versoek. Indien Nersa dit goedkeur kan dit beteken dat munisipale elektrisiteitgebruikers tot 44% meer vir krag gaan moet betaal.

Eskom vra ook vir ʼn verdere styging van 11,8% in die 2026-’27-boekjaar en 9,1% in die 2027-’28-boekjaar. Eskom meen die versoek vir die skerp stygings is Nersa se skuld omdat laasgenoemde nie die laaste paar jaar sy versoeke vir hoër verhogings toegestaan het nie.

Eskom se tariefstygings is egter al die afgelope 14 jaar veel hoër as die inflasiekoers. Volgens Netwerk24 was die gemiddelde jaarlikse styging in Eskom se tariewe 10,83% sedert 2010.

Nersa het reeds Eskom se aansoek vir kommentaar gepubliseer en geskrewe kommentaar kan op 1 November 2024 teen 16:00 aan mypd@nersa.org.za gestuur word. Daar word ook vir elke provinsie ʼn openbare sitting beplan voor Nersa op 20 Desember sy besluit bekend sal maak.

Daar is reeds wye teenstand teen Eskom se aansoek. Politieke partye oor die hele spektrum het dit gekritiseer en van die partye en burgerregte-organisasies het petisies begin om Eskom se versoek in die wiele te probeer ry.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ʼn beroep op die publiek gedoen om van 18 November tot 4 Desember deel te neem aan die openbare raadplegingsessies oor Eskom se voorgestelde tariefverhogings.

Volgens Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum, kan daar nie van die verbruiker verwag word om nou op te dok sodat Eskom jarelange wanbesteding en wanbestuur kan probeer regstel nie.

“AfriForum sal aan hierdie proses deelneem en voortgaan om gemeenskappe te ondersteun om billike elektrisiteitstariewe te verseker. Ons sal Nersa se reguleringsproses ook noukeurig moniteer en optree indien daar onbillike gebruike en wanpraktyke opgemerk word.”

AfriForum dryf ook ’n petisie teen hierdie onbillike tariefverhogings en die publiek kan hul stem ook daar laat geld.  

Eskom se aansoek kom terwyl pres. Cyril Ramaphosa die Wysigingswet oor Elektrisiteitsregulering onderteken het.

“In kort maak dié wet vir ʼn kragmark, amper soos die Boeremark, voorsiening. Kragprodusente kan hulle ‘produk’ verkoop en ‘verbruikers’ kan op groot- en kleinskaal koop,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Op die langer termyn behoort dit ook ʼn positiewe invloed op prys te hê. Die toekenning van lisensies om te kan opwek word ook versnel.”

Oor Eskom se voorgestelde tariefverhogings, sê Hermann: “Dit is iets wat geen Suid-Afrikaner kan bekostig nie. Die verbreking van die monopolie en kragkompetisie is die enigste manier om prysskokke op die langer termyn te tem.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel