loading
Artikels
1 dag gelede
bemiddeling-oor-bela-begin-more-tussen-solidariteit-dbo-en-presidensie

Foto Krediet: Solidariteit

Bemiddeling oor Bela begin môre tussen Solidariteit, DBO en presidensie

Die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) gaan môre (Vrydag 18 Oktober) met ʼn bemiddelingsproses tussen Solidariteit, die Departement van Basiese Onderwys en die presidensie begin om sodoende die dispuut oor die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela) te probeer oplos. 
Hierdie bemiddelingsproses volg nadat Solidariteit ʼn artikel 77-aansoek by Nedlac ingedien het sodat sy lede beskermd aan die protesoptog teen Bela op 5 November in Pretoria kan deelneem. Volgens die Wet op Arbeidsverhoudinge móét Nedlac eers poog om so ʼn dispuut op te los wanneer hy so ʼn aansoek oorweeg. 
“Ons gaan die bemiddeling oopkop in. Ons het ʼn baie sterk saak en sal dit hard en duidelik stel. Die regering gaan roekeloos om met skole in die algemeen en met Afrikaanse skole in die besonder,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.
Pres. Cyril Ramaphosa het die Bela-wet op 13 September vanjaar onderteken, maar artikels 5 en 6, wat oor skole se taal- en toelatingsbeleid handel, is vir eers op ys geplaas vir drie maande se gesprekke oor die implementering daarvan. 
Intussen gaan die Solidariteit Beweging, insluitende Solidariteit en AfriForum, ook voort met gesprekke wat die Beweging met verskeie politieke partye oor die Bela-wetgewing voer. 
Volgens Hermann gaan die vonke spat oor die volgende twee maande. 
“Dit is noodsaaklik dat ons druk op die proses bly uitoefen. Een deel van dié druk is die optog op 5 November. Indien daar ná afloop van die bemiddeling by Nedlac geen skikking bereik is nie, moet Nedlac ʼn sertifikaat uitreik wat sal beteken dat Solidariteit-lede aan die optog kán deelneem sonder dat werkgewers teen hulle mag optree,” het Hermann gesê. 
Solidariteit sê egter die optog van 5 November gaan voort, ongeag die uitkoms van die Nedlac-bemiddelingsproses. Instellings van die Solidariteit Beweging, ander Afrikaanse organisasies, onderwysorganisasies, ouers en tradisionele gemeenskappe gaan aan die optog deelneem.

Om óók vir die optog te registreer, volg hierdie skakel: #belaprotes
Datum: 5 November
Tyd: Kom vanaf 08:00 byeen vir die begin van die optog om 09:00
Plek: Voortrekkermonument, Pretoria

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel