loading
Artikels
1 dag gelede
redes-waarom-solidariteit-stappe-teen-die-bela-wet-doen

Foto Krediet: OkayDeer

Redes waarom Solidariteit stappe teen die Bela-wet doen

Deur Heléne Mocke

Die nuwe Wysigingswet op Basiese Onderwyswette, of Bela-wet, het Solidariteit genoop om tot aksie oor te gaan. Hier volg nege redes waarom hierdie wet as nadelig beskou word:

Minag ouerinspraak by skole:

Die Bela-wet gee die finale sê oor ‘n skool se taal- en toelatingsbeleid aan die regering se onderwyshoof. Dit verminder die inspraak van skoolbeheerliggame wat tradisioneel ʼn belangrike rol in die bestuur van skole speel.

Bedreig Afrikaanse skole en kultuurgemeenskappe:

Deur Engels as voertaal af te dwing, kan Afrikaanse skole genoodsaak word om te verengels. Dit bedreig die voortbestaan van Afrikaanse skole, wat ʼn direkte impak op die Afrikaanse kultuur en gemeenskappe sal hê.

Teiken spesifiek Afrikaans en Afrikaanse kinders:

Die wet se taalklousules blyk gemik te wees op Afrikaanse skole. Daar is geen teken dat Engelse skole op soortgelyke wyse gedwing gaan word om te ver-Afrikaans nie.

Minag moedertaalonderrig:

Afrikaanse kinders kan hulle reg op moedertaalonderrig verloor. Die Bela-wet bevoordeel slegs onderrig in Engelse en maak dit moeilik om moedertaalonderrig vir enige ander taalgroep te bevorder.

Sentralisering van mag

Die Bela-wet sentraliseer mag deur die besluitnemingsbevoegdheid oor die taal- en toelatingsbeleid van skole van demokraties verkose skoolbeheerliggame weg te neem en dit aan departementele amptenare oor te dra. Dit neem die mag weg van gemeenskappe om oor hul eie skole te besluit.

Verbreek die gees van die 1994-ooreenkoms

Die Bela-wet minag die 1994-ooreenkoms wat die voortbestaan van kultuurgemeenskappe en Afrikaanse onderrig beskerm. Dit plaas meer mag in die hande van regeringsamptenare, wat politieke inmenging in skole kan vergroot.

Beperk gemeenskapsbydraes

Die Bela-wet kan Afrikaanse skole se sukses in gedrang bring deurdat dit gemeenskappe se betrokkenheid by en finansiële steun aan skole ontmoedig. Dit kan die samewerking tussen skole en gemeenskappe verswak.

Te min skole, Bela geen oplossing nie

Afrikaanse skole is reeds oorvol, en die Bela-wet bied geen oplossing vir die tekort aan funksionele skole nie. Dit sal enkelmedium- Afrikaanse skole benadeel deur hulle te dwing om Engelse leerders in te neem.

Appèlprosedure is betekenisloos

Die Bela-wet maak voorsiening vir ʼn appèlprosedure na die LUR van onderwys, maar hierdie prosedure is meestal nutteloos omdat daar dikwels ʼn politieke verbintenis tussen die LUR en die provinsiale onderwyshoof is. Dit lei tot ʼn situasie waar appèlle waarskynlik sal misluk.

Die Bela-wet hou ernstige implikasies vir die toekoms van Afrikaanse skole en die breër gemeenskap in.


Los ons kinders uit! #StopBela

Afrikaanse onderwys is nog altyd deel van die siel van ons gemeenskap. Bela val ons siel aan. Dit is die grootste bedreiging vir Afrikaanse onderwys die afgelope 100 jaar.

Solidariteit gaan op 5 November 2024 ’n optog hou om teen die Bela-wet protes aan te teken. As die behoud van Afrikaanse skole vir jou belangrik is, kom sluit by ons aan en wys jou steun vir hierdie belangrike saak. Klik hier en bespreek jou plek vir die protesaksie!

Bespreek jou plek vir die protesaksie! Klik hier!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel