
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Hoekom vorder dinge nou skielik by Eskom
Deur Theuns du Buisson
Dit gaan meteens beter met Eskom as in ʼn baie lang tyd.
Beurtkrag hoef nie meer toegepas te word nie en daar is al hoe meer dae wat die dieselopwekkers nie aangeskakel hoef te word nie.
Die belangrikste bydraer tot hierdie onlangse sukses is die hoeveelheid opwekkingsvermoë wat die afgelope jaar tot die kragnetwerk toegevoeg is.
Groot sonplase is aan die netwerk gekoppel, en nóg is op pad. Verder is Eskom se energiebeskikbaarheidsfaktor by in hul steenkoolvloot vir die eerste keer in jare bo 70% wat veral merkwaardig is, as ʼn mens in ag neem dat dit in 2023 nog maar 48% was.
So waarom hierdie skielike verskil en oënskynlike sukses?
Dit alles begin met behoorlike leierskap, in die vorm van ʼn bevoegde raad wat ʼn bevoegde hoof- uitvoerende beampte aangestel het. Daarmee saam het elektrisiteit nou sy eie ministerie, wat skakeling tussen die staat en Eskom duidelik makliker maak.
Sedert Dan Marokane as uitvoerende hoof oorgeneem het, het arbeidsverhoudinge drasties verbeter en word take soos instandhouding behoorlik en op skedule uitgevoer.
ʼn Belangrike oorsaak van hierdie verbetering is dat Marokane en sy span ʼn hele rits vrystellings gekry het van die staat se voorkeurverkrygingsbeleid. Dit is ʼn baie belangrike punt wat nie genoeg beklemtoon kan word nie. Kortom beteken dit dat Eskom nou bevoegde kontrakteurs mag aanstel.
Voor die vrystellings toegestaan is, was dit dikwels die gebruik dat Eskom ʼn masjien of ʼn komponent van ʼn verskaffer aankoop, maar dat hulle dan iemand anders moet kry om die masjien of komponent te onderhou. Met dié vrystellings in plek word Eskom nou toegelaat om die beste kontrakteurs vir instandhouding aan te stel, sonder om altyd ag te slaan op SEB- en lokaliseringsreëls.
Eskom se onlangse sukses wys dat ondernemings in staatsbesit omgedraai kán word en hervorm kán word om die taak te verrig waarvoor hulle oorspronklik gestig is.
Hopelik kan veral Transnet iets hieruit leer, want Suid-Afrika en sy ekonomie het dit dringend nodig. Vir ʼn begin moet daar eerlik gepraat word oor wat die probleme is en dan moet daar doelgerig oplossings daarvoor gesoek word.
Natuurlik staar Eskom nog heelwat probleme met kragvoorsiening in die gesig, maar vir die eerste keer in omtrent twee dekades is daar ʼn mate van eerlikheid daaroor, en word planne gemaak om dit reg te stel.
Sou dit lyk asof SEB-voldoening dienslewering onmoontlik maak, moet SEB-voldoening opgeskort word. Dan is dit die probleem.
Die hoop is dat Eskom op hierdie trajek sal voortsnel sodat hulle die fokus na ander prioriteite kan verskuif. Voldoende kragvoorsiening is die belangrikste, maar die volgende prioriteit moet wees om elektrisiteit aansienlik goedkoper te maak.
Ek, en ek is seker jy ook, hoop hulle is net so suksesvol daarmee.