
Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Washington uiters positief oor Solidariteit se handelsraamwerk
Deur Pieter Jordaan
ʼn Senior afvaardiging het Woensdag verteenwoordigers van Solidariteit in die Withuis in Washington D.C. ontvang om te gesels oor die pad vorentoe vir Suid-Afrika en sy handelsverhouding met die Verenigde State van Amerika (VSA).
As die wêreld se grootste ekonomie is die VSA sonder twyfel een van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote. ʼn Geleentheid om ín die Withuis met ʼn senior afvaardiging te praat, is ʼn geleentheid wat min beskore is.
Natuurlik tree Solidariteit nie as ʼn “plaasvervanger” vir die Suid-Afrikaanse regering op nie. Hy wil dit ook nie wees nie. Solidariteit het wel as verteenwoordiger van sy lede, van werkers van die land, en as verantwoordelike belangegroep van Suid-Afrika, met ʼn mandaat daar opgedaag.
Die oorhandiging van ʼn voorgestelde handelsraamwerk het ten doel om gewone Suid-Afrikaners, waaronder sy lede, te beskerm in ʼn oomblik van krisis, aangesien die Suid-Afrikaanse regering hulle ernstig versaak het.
Honderde duisende afleggings dreig weens mislukte regeringsbeleid, maar ook nou vanweë die VSA se instelling van verhoogde handelstariewe teen Suid-Afrika as ʼn soort strafmaatreël. Solidariteit se voorstel bied egter ontknoping en wys waar druk uitgeoefen moet word om die politieke skeuring aan te spreek wat ʼn beter handelsooreenkoms tans verhoed.
Volgens Jaco Kleynhans, Solidariteit se verteenwoordiger op die VSA-uitreik, is die Solidariteit-voorstelle baie goed ontvang en was die Withuis-afvaardiging gretig om ʼn werkbare oplossing na te streef. Daarsonder kan ons nie vorentoe beweeg nie.
Dit was vir Kleynhans duidelik dat president Donald Trump nie net ingelig is oor Suid-Afrika nie, maar ook werklik daarin belangstel om ʼn beter oplossing vir Suid-Afrika én Afrikaners te vind.
Terselfdertyd is ʼn afvaardiging van die Suid-Afrikaanse regering óók in die VSA, maar hulle weiering om hul ideologiese stiksienigheid prys te gee, maak ʼn ooreenkoms tans bykans onmoontlik.
Die politieke ontknopings wat Solidariteit voorstel, behoort nie omstrede te wees nie.
Terwyl daar vir verminderde tariewe en verhoogde steun vir sleutelbedrywe in Suid-Afrika gevra word om massa-afleggings te verhoed, word daar ook versoek dat groter Amerikaanse druk op die Suid-Afrikaanse regering uitgeoefen word om hom tot inkeer te dwing.
Vir ʼn ooreenkoms om slaag, moet sekere dinge gebeur: Die uitfasering van raswette is ʼn sleutelkwessie, asook die eis dat daar afgesien word van die swart ekonomiese bemagtigingsbeleid (SEB) wat, onder meer, buitelandse belegging belemmer.
Die SEB-vereistes vir Amerikaanse ondernemings word immers deur baie gesien as ʼn soort Suid-Afrikaanse “strafmaatreël” of “handelstarief”. Dit laat die vraag ontstaan: Waarom moet Suid-Afrika dan van tariewe vrygestel word?
Die Onteieningswet is ʼn duidelike afskrikmiddel. Amerikaners beskou eiendomsreg tereg as nie-onderhandelbaar. “Hoe kan die feit dat die regering nie eiendomsreg wil waarborg nie, tussen Suid-Afrika en ʼn handelsooreenkoms met die VSA staan?” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, die vraag onlangs duidelik gestel.
Die Suid-Afrikaanse Grondwet waarborg immers eiendomsreg – dit behoort nie soveel van ʼn twispunt te wees nie. Tog haak die ANC-geleide regering by ideologie vas.
Verder is daar ook duidelike en redelike eise, soos die veroordeling van die sing van liedere wat die moord van boere aanhits, en die prioritisering van optrede teen die gruweldade waaraan boere op plase blootgestel word.
Die VSA wíl sake met Suid-Afrika doen, maar wil sien dat Suid-Afrika ook ernstig daaroor is.
Daarom stel Solidariteit voor dat diegene wat verantwoordelik is vir die diplomatieke skeuring – soos korrupte politici – die prys betaal, eerder as wat gesinne en ganse gemeenskappe in armoede gedompel word weens strafmaatreëls, soos die instelling van verhoogde tariewe.