
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Oor die Kruger-standbeeld en -wildtuin: Waarom ons erfenis bewaar moet word
Deur Robin-Lee Maré
Erfenis is nie net tasbare standbeelde of monumente nie – dit is ook die draers van ʼn volk se waardes en identiteit. Wanneer erfenis beskadig, verwaarloos of ontken word, word ʼn gemeenskap se toekoms ook bedreig.
Om jou erfenis te bewaar, beteken om jou plek in die wêreld te anker en te verseker dat jou kinders weet waar hul vandaan kom.
Paul Kruger as ʼn simbool
Die gebeure rondom president Paul Kruger se standbeeld is ʼn ontnugterende voorbeeld van hoe kwesbaar Afrikanererfenis klaarblyklik in Suid-Afrika geword het. Sy ewebeeld is onlangs op pad Orania toe, juis omdat die oorspronklike beeld op Kerkplein nie meer beskerm of gerespekteer word nie. En net ʼn paar dae ná die ewebeeld verskuif is, is die oorspronklike beeld op Kerkplein beskadig. Dit simboliseer hoe maklik ʼn volk se erfenis vernietig kan word as dit nie gekoester en beskerm word nie.
Dit is verder veelseggend dat die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus geweier het om die Kruger-ewebeeld op kampus toe te laat, terwyl die EFF, in die naam van politieke vrede, toegelaat word om daar “Kill the Boer” te sing. Hierdie dubbele standaard wys dat erfenisbeskerming nie vanselfsprekend is nie, en dat ons self verantwoordelikheid moet neem om dit te bewaar.
Erfenis onder aanval
Die aanvalle op ons erfenis hou egter nie by standbeelde op nie. In Mpumalanga het die EFF onlangs ʼn mosie aanvaar om die Krugerwildtuin – een van Suid-Afrika se grootste toeristebestemmings – se naam te verander. Hierdie stap sal natuurlik miljoene rande kos – geld wat, in ʼn tyd van armoede, werkloosheid en swak dienslewering, eerder aan basiese behoeftes bestee kan word. Dit is ʼn duidelike voorbeeld van hoe ideologiese agendas bo die belange van gewone Suid-Afrikaners geplaas word.
Waarom dit saak maak
ʼn Volk sonder erfenis is ʼn volk sonder wortels. Sonder wortels word jy maklik uit die geskiedenis uitgewis en uit die toekoms geskuif. Soos ons tans weer met die aanvalle op ons erfenis sien, is dit nie iets wat iemand anders namens ons sal bewaar nie – dit is iets waarvoor ons self moet veg, beskerm en bou.
Samehorigheid as sleutel
Die beskadiging van die Kruger-standbeeld en die beoogde naamsverandering van die Krugerwildtuin is nie toevallige voorvalle nie – dit is tekens van ʼn groter stryd oor identiteit, geskiedenis en erfenis. Maar dit is ook ʼn oproep: Wanneer ʼn gemeenskap saamstaan, kan erfenis bewaar en voortgesit word. Net deur saam te bou en saam te beskerm, kan ons verseker dat ons kinders ook weet waar hul vandaan kom.
Die openbare verontwaardiging oor die vandalisering en die beoogde naamsverandering, asook die steun vir die projek om die Kruger-standbeeld in Orania op te rig, wys die waarde wat Afrikaners steeds aan hul erfenis heg.
Daarmee word dit duidelik gesê: Identiteit en waardes is vir ons belangrik. En dit is goed dat die vyandiges, die sogenaamde vryheidsvegters en die vandale almal weet dat Afrikaners hierdie identiteit en waardes met mag en mening gaan beskerm.