Afrikaans

English

loading
Mediaverklarings
14 uur gelede
die-solidariteit-beweging-waarsku-anc-se-voortgesette-aanvalle-op-die-vsa-kan-tot-nog-straftariewe-lei

Foto Krediet: Okaydeer

Die Solidariteit Beweging waarsku: ANC se voortgesette aanvalle op die VSA kan tot nóg straftariewe lei

Die Solidariteit Beweging is uiters bekommerd dat die Amerikaanse regering se groeiende frustrasie met president Cyril Ramaphosa en die ANC tot verdere straftariewe teen Suid-Afrika kan lei.

Tydens die Solidariteit Beweging se onlangse besoek aan Washington is daar groot frustrasie by die Amerikaanse regering opgemerk teenoor Suid-Afrika se tekort aan politieke wil om ʼn ooreenkoms te bereik. Dit is ten spyte van bewerings dat daar glo vordering met die onderhandelinge is. 

Terwyl die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum en Solidariteit deel vorm, tans alles in hul vermoë doen om diplomatieke en bilaterale verhoudinge met die VSA te herstel, gaan die ANC voort met sy voortgesette aanvalle op die wêreld se grootste ekonomie. Die Solidariteit Beweging waarsku dat dit rampspoedige gevolge vir Suid-Afrika en sy burgers kan inhou.

“Ons land bloei. ʼn Vlaag van afleggings het Suid-Afrika reeds getref, en ons kan dit nie as blote statistieke beskou nie: Dit is mense wat hul werk en huise verloor; dit is kinders wat honger gaan slaap. Ons kan eenvoudig nie nóg skade aan ons ekonomie bekostig nie,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê.

Die plaaslike ekonomie het reeds groot skade gely sedert die VSA in Augustus vanjaar 30%-handelstariewe teen Suid-Afrika ingestel het. Dit sal slegs vererger indien daar nie dringend ʼn positiewe handelsooreenkoms met die VSA bereik word nie.

Volgens Buys is dit ook uiters roekeloos van die ANC om die VSA, wat boonop Suid-Afrika se tweede grootste handelsvennoot is, aktief te antagoniseer.

“As die grootste ekonomie ter wêreld is dit onverantwoordelik vir enige land om nie uitstekende bilaterale verhoudinge met die Verenigde State te hê nie. As president van die ANC het Ramaphosa probeer om die blaam vir die huidige diplomatieke krisis met die VSA te verskuif. Die harde werklikheid is egter dat die krisis en gevolglike ekonomiese skade bloot deur die ANC self veroorsaak is,” sê Buys.

Met die eerste aankondiging van die straftariewe deur die VSA op 2 April 2025, het die ANC-geleide regering meer as ʼn maand geneem om met die VSA begin skakel is. Ná rampspoedige gesprekke het die ANC eenvoudig die probleem geïgnoreer.

President Ramaphosa se optrede by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York einde verlede maand het die land beslis ook nie enige gunsies besorg nie. Hy het tydens sy toespraak beweer dat “…handel nou as ʼn wapen teen verskeie lande in die wêreld gebruik [word]” en dat “…geopolitieke skokke en ongekende handelsbeleid” die wêreldekonomie destabiliseer.

Dié VN-vergadering was juis die platform waar onderhandelings vir ʼn ooreenkoms moes plaasvind. In plaas daarvan om opbouende kantlyngesprekke te voer, het die president egter die VSA vanaf die verhoog verder gekritiseer. Hoewel hy nie president Trump by die naam genoem het nie, het sy opmerkings klaarblyklik na president Trump se tariewe verwys. 

Die Solidariteit Beweging is steeds bereid om die Suid-Afrikaanse regering by te staan in pogings om ʼn positiewe handelsooreenkoms te bereik. Die Solidariteit Beweging het nou ʼn dringende skrywe aan president Ramaphosa gerig waarin die instelling weereens sy hulp aanbied om die regering by te staan om ʼn positiewe handelsooreenkoms met die VSA te probeer fasiliteer.

“Vanaf ons aanvanklike gesprekke met die Amerikaanse administrasie was die Solidariteit Beweging se doel om die diplomatieke en ekonomiese skade wat die ANC oor dekades veroorsaak het, te herstel,” sê Buys. 

In dié verband het ons herhaaldelik na die ANC-geleide regering uitgereik om hande te vat. Hierdie pogings is telkens afgewys en met intimidasie en radikale rasse-retoriek begroet.

Die ANC het dalk nie ʼn handelsooreenkoms met die VSA nodig nie, maar Suid-Afrika het beslis. Omdat ons die land liefhet, reik ons weereens uit na die regering om te probeer om ʼn positiewe handelsooreenkoms met die Verenigde State te fasiliteer.”

– Flip Buys se skrywe aan president Ramaphosa is hier aangeheg.

– Solidariteit se verslag oor ‘n handelsraamwerk is hier aangeheg

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel