
Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Amsa-afleggings is ʼn tragedie wat voorkom móés word
Deur Kyla-Ann du Toit
Die sluiting van ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) se langstaalaanlegte in Newcastle en Vereeniging, en die gevolglike aflegging van duisende werknemers, het die afgelope week landwyd opslae gemaak.
Te midde van die onsekerheid het Solidariteit sy kommer oor die situasie uitgespreek, maar ook beklemtoon hoe hy as vakbond sy lede prakties gaan ondersteun.
Volgens Willie Venter, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris vir die metaal- en ingenieursbedryf, is Morné Seaman, president van Newcastle se sakekamer, nie verkeerd wanneer hy in die media sê dat die oorsaak van die sluitings nie by een party alleen lê nie.
“Ons stem saam dat hierdie probleem nie net by Amsa lê nie. ʼn Groot deel van die blaam moet aan die regering se kant geplaas word – oor elektrisiteitstariewe, vervoerkostes, die gebrek aan infrastruktuurontwikkeling en ʼn gedempte ekonomie. Dit is die regering se verantwoordelikheid om oplossings hiervoor te vind. Ongelukkig sien ons dit eenvoudig nie gebeur nie,” sê hy.
Hy beklemtoon egter dat Amsa self ook verantwoordelikheid moet dra.
“Die aanlegte is oud, en die infrastruktuur en toerusting is verouderd. Sonder beleggings in modernisering kon Amsa nie werklik meeding met meer moderne aanlegte nie. Dit plaas hulle onder druk en nou is dit ons lede wat die prys betaal.”
Die aflegging van werknemers het reeds begin. Venter verduidelik dat sekere afdelings by Amsa reeds gesluit het en dat werknemers briewe van diensbeëindiging ontvang het.
“Vanaf 10 Oktober tot en met die einde van vanjaar gaan die proses voltrek. Sommige afdelings het geen meer produksie of bestellings nie, en daarom word die mense daar eerste geraak. Dit is ʼn tragiese situasie as jy jouself in die skoene van daardie werknemers plaas wat moet toekyk hoe hul kollegas afgelê word wetende hul beurt volg.”
Hy beklemtoon dat die afleggings mense verskillend raak, afhangend van hul lewensfase. Jong werkers het min ervaring en dus klein skeidingspakkette, wat dit moeilik maak om weer vinnig hulle voete te vind.
Middeljarige werknemers met gesinne het meer ervaring, maar kan gedwing word om hul huishoudings te ontwortel en ontwrig as daar nie plaaslike werksgeleenthede beskikbaar is nie. Ouer werknemers se kennis en ervaring is waardevol, maar hul ouderdom en nabye aftrede bemoeilik herindiensneming.
“Ons sit dus met groepe van lede wat almal verskillende behoeftes het, maar almal word swaar hierdeur geraak.” Solidariteit is wel ten volle daarop ingestel om lede op ʼn praktiese wyse in hierdie krisis te ondersteun.
“Ons primêre rol is om ons lede te help om nuwe werk te kry. Ons gaan dus help met die opstel van professionele CV’s en profiele registreer op Solidariteit se werkfasiliteringsplatform, waar duisende poste beskikbaar is.
Ons gaan ook fisies by die aanlegte teenwoordig wees om saam met lede te werk, en waar daar nie plaaslike poste beskikbaar is nie, gaan ons landwyd help soek,” verduidelik Venter.
Verdere leer- en opleidingsgeleenthede is ook deel van ons ondersteuningsplan, maar Venter beklemtoon dat die bystand wyer strek as net werk. Die impak is nie net finansieel nie, maar ook emosioneel. Hier speel Solidariteit Helpende Hand en Solidariteit Finansiële Dienste (SFD) ʼn kernrol.
Helpende Hand gaan fokus op die maatskaplike krisis: van berading en emosionele ondersteuning tot maatskaplike bystand, insluitend voedselhulp waar nodig. SFD bring weer finansiële kundigheid – hulle adviseer lede oor hoe hulle hul skeidingspakkette en pensioengeld die beste kan hanteer of belê om die impak van die afleggings op die langer duur te verlig.
Hoewel Solidariteit alles in sy vermoë doen om lede te help, waarsku Venter dat nóg swaarkry onafwendbaar gaan wees sonder die regering se daadwerklike ingryping.
“Die afleggings by Amsa is slegs een van vele wat dreig. Ons sal voortgaan om die regering verantwoordbaar te hou. Hulle kan nie hierdie werknemers aan hul eie lot oorlaat nie,” sê hy.
“Ons kan probeer om ons lede te ondersteun, maar dit verlig net die simptome. Die oorsaak lê by ʼn regering wat nie op die krisis in die vervaardigingsbedryf reageer nie. Die afleggings by Amsa is ʼn tragedie wat ʼn direkte impak op gesinne, gemeenskappe en die bedryf het.”
Vir Solidariteit bly die fokus om sy lede deur hierdie storm te dra – ʼn storm wat voorkom kon word as daar betyds en verantwoordelik opgetree is.