
Foto Krediet: LM Photography
Gekopieër
Wanneer werk en rou bots: Hoe maatskaplike werkers hul kliënte kan ondersteun
Deur Kyla-Ann du Toit
Elke persoon ervaar rou op hul eie manier. Dit is nie iets wat jy volgens ʼn kalender kan laat verloop nie. Wanneer iemand ʼn geliefde verloor of deur ʼn moeilike emosionele tyd gaan, strek die impak veel verder as die huis of die graf. Dit spoel oor na die werkplek waar sperdatums, kollegas en produktiwiteit wag. Vir baie werknemers raak hierdie spanning ʼn dubbele las: Om te rou én om by die werk te presteer.
Die werkplek se blinde kol
In baie organisasies word rou steeds oppervlakkig hanteer. Basiese verlof word aangebied, maar die langtermynimpak van rou op konsentrasie, emosionele welstand en selfs fisieke gesondheid word dikwels misken. Werknemers voel onder druk om vinnig na die werk terug te keer, hul emosies weg te steek of selfs te vermy, en om weer “normaal” te funksioneer. Hierdie ontkenning van die rouproses kan konflik, verminderde prestasie en selfs verdere trauma veroorsaak.
Dr. Nelia Drenth, ʼn maatskaplike werker in die privaat praktyk en verlies- en routerapeut, beklemtoon dat rou nie ʼn liniêre proses is nie. “Daar is ʼn gedurige wisselwerking tussen die verlies wat ʼn persoon beleef en die voortgaan met die lewe sonder die geliefde. Wanneer iemand verstaan waarom hy sekere emosies, gedrag en denke tydens die rouproses toon, hanteer hy of sy dit beter. Dit is normaal om hartseer, angstig, soekend, gefrustreerd of kwaad te wees,” verduidelik sy.
Hoe kan maatskaplike werkers werknemers hiermee bystaan?
Maatskaplike werkers vervul ʼn unieke rol in die ondersteuning van werknemers in hierdie rouproses. Volgens dr. Drenth is dit belangrik dat maatskaplike werkers ʼn goeie teoretiese begrip van rou het en wegbeweeg van die bekende, maar dikwels verwarrende, vyf fases van rou.
Sy verwys na drie belangrike vlakke van begeleiding:
1. Individuele ondersteuning
Werk saam met die werknemer aan tegnieke om rou te verwerk terwyl hulle steeds in die werkomgewing kan funksioneer.
“Die maatskaplike werker kan leiding aan die bestuur van die organisasie gee om beleid te vorm rondom die hantering van ʼn werknemer wat rou,” sê dr. Drenth. “Die paar dae wat afgestaan word aan verlof vir gesinsverantwoordelikheid is nie genoeg om ʼn persoon te ondersteun nie.
“Gereelde opvolg is belangrik, asook die skep van ʼn ondersteuningsisteem. Praktiese gebare maak ʼn groot verskil, soos ʼn simpatiekaartjie wat kollegas onderteken of ʼn huisbesoek voor die werknemer terugkeer werk toe. Dit help om die terugkeer werk toe minder spanningsvol te maak. Moenie die dood as onderwerp vermy nie – dit is die olifant in die kamer.” Sy beklemtoon egter dat kollegas sensitief moet wees en hulself laat lei deur die persoon wat rou.
Dr. Drenth noem egter dat sy gewoonlik ʼn werkwinkel hieroor aanbied aangesien dit nie so maklik is om bloot net uiteen te sit nie. Die antwoord is nie so eenvoudig nie, maar hierdie tegnieke is reeds ʼn handige verwysingsraamwerk vir maatskaplike werkers.
2. Balans tussen werk en herstel
Maatskaplike werkers kan werknemers help om realistiese verwagtinge vir hulself én hul werkgewers te stel, en om ruimte vir herstel te skep sonder skuldgevoelens.
“Die belangrikste is dat bestuurders bewus gemaak moet word van die balans tussen die emosionele behoeftes van die werknemer en die verwagtinge van die organisasie. Werknemers wat deur hul werkgewer ondersteun word, is geneig om meer lojaal teenoor die organisasie te wees, wat uiteindelik ʼn positiewe invloed op die hele span het,” sê dr. Drenth.
3. Kommunikasie met werkgewers
Leer werknemers hoe om deursigtig oor hul behoeftes te praat. Só kan misverstande vermy word en kan werkgewers die nodige ruimte en ondersteuning bied.
“Eerlike gesprekke binne ʼn vertrouensverhouding is belangrik. Waak daarteen om die persoon te dwing om te praat oor sy of haar rouproses. Die vraag is altyd: ‘Wie se behoefte is dit – die werkgewer of die persoon wat rou?’” sê sy.
Die pad vorentoe vir werkgewers en werknemers
Rou gaan nooit heeltemal weg nie, maar dit kan in ʼn gesonde leef- en werkroetine geïntegreer word. Hoe meer werkgewers die werklikheid van rou erken, hoe meer lojaliteit en vertroue bou hul by werknemers.
“Elke organisasie behoort ʼn beleid oor ondersteuning in ʼn tyd van rou te hê, insluitend die verlenging van gesinsverantwoordelikheidsverlof, die moontlikheid van ekstra aftyd of fleksie-ure, en toegang tot terapie. Drie sessies is dikwels te min; my voorstel sou minstens ses sessies wees om die persoon te help met die aanpassingsproses,” sê dr. Drenth.
Sy verwys graag na die volgende aanhaling van John W. James uit The Grief Recovery Handbook:
“Grief is a broken heart, not a broken brain. All efforts to heal the heart with the head fail because the head is the wrong tool for the job, it’s like trying to paint with a hammer – it only makes a mess.”
ʼn Gesprek wat gevoer móét word
Vir werknemers kan dit moeilik wees om hul seer te verwoord. Hier is waar die maatskaplike werker as gids en brugbouer kan optree om die gesprek tussen werknemer en werkgewer oop te maak en die werknemer te bemagtig om hul behoeftes eerlik te kommunikeer.
Rou en werk hoef nie met mekaar te bots nie. Met die nodige begrip, begeleiding en oop gesprekke kan dit ʼn pad word waar genesing en produktiwiteit hand aan hand loop.
Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk besef die groot verantwoordelikheid wat maatskaplike werkers in mense se lewens speel. Die rouproses is ʼn moeilike tyd, maar met die nodige opleiding, tegnieke en kennis kan maatskaplike werkers kliënte se rouproses sóveel makliker maak.
Hierdie beroepsnetwerk is ʼn veilige hawe vir maatskaplike werkers waar hulle saam met ander in dieselfde beroep kan leer en oor beroepsverwante kwessies kan praat. Klik hier en raak vandag nog betrokke by jou beroepsgemeenskap.