
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Kantoorpraktisyns, handhaaf só ʼn werk-lewe-balans
Werk is ʼn roeping vir baie kantoorpraktisyns. Jy help kollegas op ʼn praktiese vlak, jy hou die ratte van die organisasie aan die draai en jy wéét jou bydrae maak ’n verskil. Maar daar is ’n dun lyn tussen toewyding en uitbranding. Hoe weet jy dit raak gevaarlik? Hier is ʼn lys vanpraktiese waarskuwingstekens en hoe om dit betyds te identifiseer:
Jy is altyd “aan diens”
Selfs wanneer jy huis toe gaan, bly jou gedagtes by die kantoor. Jy hou gedurig jou e-posse en WhatsApp-boodskappe dop, en daar word van jou verwag om onmiddellik daarop te reageer. As jou brein nooit kans kry om af te skakel nie, gebruik jy jou energie vinniger op as wat jy dit kan aanvul.
Jou geliefdes voel afgeskeep
Wanneer jou gesin of vriende sê “jy’s nooit regtig hiér nie,” moet jy luister. Dit gaan ook nie net oor die ure wat jy aan werk spandeer nie; dit gaan oor hoe geestelik teenwoordig jy is wanneer jy by jou mense is.
Jou produktiwiteit neem af
Dit klink ironies, maar hoe meer jy probeer byhou, hoe minder bereik jy. Jy spring tussen e-posse, oproepe en krisisse, maar aan die einde van die dag voel dit asof jy niks wesenlik gedoen het nie. “Multitasking” steel jou fokus én jou selfvertroue.
Jy verloor konsentrasie
Jy beplan jou dag deeglik, maar sodra jy agter jou lessenaar sit, dwaal jou aandag maklik af. Jy raak weg in sosiale media of begin dagdroom, want jou brein is oorlaai. As werk soos ’n straf begin voel, is dit ’n teken dat jou balans herstel moet word.
Jy het geen energie of tyd vir plesier nie
Jy skeep die dinge wat jou normaalweg gelukkig maak – stokperdjies, sport, vriende — al hoe meer af. Jy voel selfs skuldig as jy iets doen net omdat dit lekker is! Later kan jy ook net oor werk praat, want dit word jou enigste verwysingsraamwerk.
As dit voel asof jou werk jou hele identiteit begin oorneem, oorweeg hierdie stappe:
1. Stel en handhaaf duidelike grense
Navorsing toon dat duidelike grense vir jou take een van dié beste maniere is om uitbranding te voorkom. Bestuur jou beskikbaarheid deur byvoorbeeld te sê: “Ek lees e-posse tussen 7:30 en 8:30 en weer tussen 14:00 en 15:00.” Hou daarby.
2. Optimaliseer jou werkomgewing
Jou omgewing beïnvloed ook jou energievlakke. Navorsing oor kantoorwelstand wys spesifiek dat faktore soos beligting, temperatuur en lugvloei jou energie en konsentrasie kan beïnvloed.
3. Vat mikrobreke
Inkorporeer mikrobreke deur die dag – dit maak ʼn beduidende impak op welstand en werkprestasie. Kort, gereelde pouses help om die kognitiewe en fisieke hulpbronne te herstel en energievlakke hoog te hou. Hoe vroeër jy begin, hoe groter die impak.
Jy is meer as jou werk
Werk is ʼn groot deel van jou lewe – maar dit is nie jou hele lewe nie. Jy is ook ’n ouer, vriend, mentor of lewensmaat. Wanneer jy doelbewus balans skep, vul jy jou lewe weer met energie, perspektief en vreugde. Dís wanneer jy nie net by die werk presteer nie, maar ook blom.
Die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk is nie net ’n ekstra voordeel van jou lidmaatskap nie – dis ’n noodsaaklikheid. Hier word jy ondersteun, versterk en beskerm:
- • Kry toegang tot relevante kursusse,opleidings– en beroepsgeleenthede.
- • Ontvang kundige arbeidsregsadvies en ’n betroubare veiligheidsnet teen onregmatige optrede in die werkplek.
- • Word deel van ’n netwerk wat jou loopbaanpad van student tot meester saam met jou stap. Hier kry jy relevante inligting, die regte ondersteuning, mentorskap en bou aan ’n sterk gemeenskap.
As jy jou beroep ernstig opneem, moet jy jou welsyn en ontwikkeling net so ernstig opneem. Sluit vandag nog aan by die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk en ken jou regte.